Dapper frontsoldate in die Covid-19-oorlog

Yvette Marais. (Foto: Verskaf.)

Deur Maretha Botes

Gesondheidswerkers in die voorste linie in die oorlog teen Covid-19 dra die las van ’n pandemie wat die land op sy knieë het. Terwyl hospitale landwyd volle kapasiteit bereik, beskryf dié mense die stryd teen die pandemie as emosioneel en sielkundig. Een van die vrese wat sleutelwerkers in die gesondheidsindustrie in die gesig staar, is om die virus aan geliefdes oor te dra.

Twee sleutelwerkers deel hul ervaring:

Yvette Marais is ’n verpleegsuster in die intensiewesorgeenheid van ’n hospitaal in Midrand. Sy sê sy het nooit kon dink dat sy in haar leeftyd so ’n pandemie sou beveg nie. Party dae voel sy oorweldig deur verskeie faktore wat spanning opbou. Siek kollegas en die spanningsvolle 24 uur tussen toets en uitslag (is dit Covid-19 of nie?), personeeltekorte, toenemende lading van siek pasiënte, die feit dat familie nie hul geliefdes mag besoek nie en die moontlikheid dat sy die virus kan huis toe vat, is dinge wat haar senuwees tap.

Yvette sê: “Ek weet ons situasie is nie uniek nie, dit gaan reg oor die land so. Dis ‘n daaglikse stryd om genoeg personeel te kry om te werk – gelukkig het ons goeie ondersteuning van ons bestuurspan en as jy weer kyk, daag daar drie tot vier mense op wat kom help. Hulle hou ook ‘n oog oor ons emosionele welstand en berading is enige tyd beskikbaar.”

Oor familie wat bekommerd eenkant bly wanneer ’n pasiënt opgeneem word, sê sy, “Dis moeilik vir mense om te verstaan waarom ons géén besoekers toelaat by ons Covid-19-pasiënte nie. Dis om ons pasiënte en besoekers te beskerm. Ons laat toe dat pasiënte hul selfone by hulle mag hou. In sommige gevalle maak die familie ’n video-oproep na die pasiënt. Met tye fasiliteer ons so ’n oproep, want die pasiënt kan dit nie self doen nie. Ons verstaan die frustrasies van familielede wat nie kosbare tyd by hul geliefde mag spandeer nie. Ek probeer genoeg inligting gee sodat die bekommerde stem aan die anderkant van die foon darem weet dat ons omgee, dat ons elke ding in ons vermoë doen om hul geliefde deur hierdie krisis te kry. Ons belowe nie dat die stryd gewen gaan word nie, maar dat ons alles gaan doen wat ons kan om hulle te help om die stryd te wen.

“Omdat ek gewoonlik in bevel van die skof is, weet ek wat met elke pasiënt aangaan – ek praat gereeld met die familielede wat bel en die dankbaarheid wat ons ontvang, raak my hart elke keer. Om te hoor dat mense waardeer wat ons vir hul geliefdes doen, maak hierdie opofferings die moeite werd. Sulke boodskappe moedig ons aan om nie handdoek in te gooi nie, want ons maak ‘n verskil.

“Gelukkig het ons eenheid ‘n paar beddens met vensters wat uitkyk op die parkeerarea. Ons laat toe dat die familie hul geliefde deur die venster kan ‘besoek’. Hulle kan sien wat ons alles doen en wie na hul geliefde omsien. Dit bring ‘n groot mate van rustigheid aan die familie. Want dit mag dalk die laaste keer wees dat hulle die persoon lewendig sien.

“Dis regtig moeilik wanneer ‘n pasiënt sterf en daar geen familie toegelaat word nie. Moet asseblief nie dink ons los hulle om alleen te sterf nie! Almal weet wanneer die oomblik aanbreek. Daar is ‘n paar oë wat vinnig wegkyk, want die trane bou op en die dam dreig om oor te loop. Ons probeer elke dag lag, want as ons nie gaan lag nie, gaan ons huil.

“My vreugde kom van pasiënte wat genoegsaam herstel het om na die gewone saal en uiteindelik huis toe te gaan. My vrees is dat nog duisende mense gaan sterf van hierdie virus en ons het nog geen manier om dit te stop nie. Ek vrees dat een van my eie geliefdes Covid-19-positief gaan toets. Ek vermy eerder kontak met hulle vir nou. My ma en broers verstaan darem, maar dis moeilik. My verloofde is my steunpilaar.

(Argieffoto: SJ Objio/Unsplash.)

“My boodskap aan die publiek is die volgende: Wees verantwoordelik. Dra asseblief ‘n masker (op die korrekte manier) wanneer jy tussen ander mense is. En handhaaf die maatreëls van sosiale afstand. Bly liewer by die huis, dis nie veilig om in die openbaar rond te beweeg nie. Covid-19 is nou oral. Bly weg van groepe mense af, die meerderheid mense het geen simptome nie! Pas jouself op, daar is nié genoeg ventilators, waakeenheidbeddens en verpleegpersoneel in die land om na almal om te sien nie!”

Celia Willemse, ’n apteker van Roodepoort, Johannesburg, het reeds aan die begin van die inperking saam met haar man, Johan, besluit om tuis ook sosiale afstand te handhaaf. Die risiko dat sy die virus huis toe kan bring, was net te groot. Haar senuwees was teen middel Mei aan flarde. Dit was ’n ontsmettingsritueel van die môre tot die aand om te probeer verseker dat nie sy of Johan sou siek word nie. Buiten hierdie absolute ingesteldheid op higiëne was sy deurentyd op haar hoede oor pasiënte in die apteek se optrede. Tree hulle veilig op? Is hulle siek? Watter simptome het hulle?

Sy vertel: “Middel Mei was erg in die apteek. Ons het toe nog nie met maskers of enige beskermende klere gewerk nie, slegs met die sogenaamde sneeze screens. Ek en my kollega het so baie ons hande ontsmet, dat ons al twee se hande begin afdop het. Jy kan nie handeroom smeer nadat jy ontsmet het nie, dan help dit net mooi niks.

“Ek was ook baie bekommerd oor Johan – as ’n reël word ek nie sommer siek nie. Ek maak altyd die grap en sê dat pasiënte die heel jaar oor aptekers hoes en proes. Dus sal dit ’n groot gogga moet wees wat my siek maak (famous last words). Van die begin van die grendelperiode het ons ’n proses gehad om te keer dat Johan nie moet siek word nie. Elkeen van ons het ’’n ontsmettingsmiddel in ons motors en ons ontsmet voordat ons ons maskers aansit en daarna weer. Ons ontsmet ook weer sodra ons in die motor klim om huis toe te kom. By die huis gekom, het ek dadelik eers gaan stort en hare gewas en dan skoon nagklere aangetrek – werksklere is dadelik in die masjien gegooi en gewas. En dán eers het ek hom gegroet. Ek het ook in die spaarkamer ingetrek saam met my mini-schnauzer, en so het basies sosiale afstand by die huis gehandhaaf.

Celia se raad oor hoe om staande te bly in die Covid-19-storm: Knyp elke dag tyd af om met jou gesin te gesels oor hul gevoelens en praat rustig oor wat aangaan en wat julle bang maak, en besluit dan oor die week vorentoe.

“Teen die middel van Mei het ek heeltemal opgehou om na die statistieke te kyk. Die syfers het net nie reg gelyk nie en my senuwees was behoorlik op. Ek het byvoorbeeld nie mense in die gesondheidsafdeling voor in die apteek gaan help nie – iets wat ek nog altyd gedoen het, want goeie voorwinkeldiens maak dat mense terugkom. Ek het almal gesien as moontlik positief en was baie paranoïes, die frustrasie om nie vir my ma te kan gaan kuier nie het my ook gedaan gemaak (ek is baie ma-vas).

“Pasiënte by die apteek (eintlik die hele winkel) wissel van erg paranoïes tot totaal minagtend van die reëls. Jy kry mense wat gemasker en gehandskoen is met ’n swartsak bo-oor hul klere. Dan kry jy dié met ’n serpie om die kop, wat hulle afhaal sodra hulle by die deur in is en dan sonder ’n masker hoes en proes oor alles en almal. Dit laat my rooi sien.

“Die ander ding wat my, as apteker, baie benoud maak, is die reaksie van mense wat apteek toe kom vir oor die-toonbank-medisyne, en jy kan sien hulle is baie siek. As jy dan voorstel dat hulle die tolvrynommer skakel of na hulle dokter toe gaan, raak die meeste baie ongeskik. Dis asof hulle dink daar is ’n stigma aan die virus.”

Celia Willemse. (Foto: Verskaf.)

Ten spyte van alle voorsorg het Celia tóg in Junie Covid-19-positief getoets en was weke lank tuis.

“Ek het gedink ek het net bronchitis. Ek was regtig versigtig, ek maak my hande skoon, haal nie my masker af by die werk nie. Ons maak die toonbanke ná elke pasiënt skoon en ons is so min as moontlik op die vloer… en toe kom die uitslag dat ek positief is. Ek kan eerlikwaar sê hierdie virus is nie ’n grap nie. Bo en behalwe vir die feit dat ek ’n slegte hoofpyn gehad het saam met ’n koors van 40 plus en myself uitasem gehoes het, was daar die groot moeg. Ek onthou ek sou wakker word en Johan sal regstaan met tee en iets om te eet en my medisyne. Hierna sou ek eers drie of vier uur later wakker word.”

Sy is uiteindelik die week weer terug by die werk nadat haar tweede opvolgtoets negatief was.

Haar raad oor hoe om staande te bly in die Covid-19-storm: Maak seker jou nuusbronne oor die virus is betroubaar; knyp elke dag tyd af om met jou gesin te gesels oor hul gevoelens en praat rustig oor wat aangaan en wat julle bang maak, en besluit dan oor die week vorentoe.

“Ons leef letterlik van week tot week,” sê sy. “Die belangrikste ding wat ons almal moet onthou, is dit maak nie saak hoe goed jy voorberei nie, daar is ’n kans dat jy gaan positief toets. Maak vrede daarmee en wees verantwoordelik as jy uitgaan, dra jou masker, maak jou hande skoon en glo met die geloof van ’n kind dat alles weer normaal sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae