Dapper gr. 1’s skool toe ondanks onluste

Dié gr. 1’s van die Laerskool Du Preez van Wyk op Bronkhorstspruit het hulle nie deur onluste laat afskrik nie. Foto: Elaine Krige

Gewelddadige onluste op die andersins stil dorp Bronkhorstspruit kon nie ’n demper plaas op die gr. 1’s van die Laerskool Du Preez van Wyk se eerste skooldag nie.

Dié dorp, 50 km oos van Pretoria wat Dinsdag deur betogings tot stilstand gebring is, se laerskool was heeltemal voorbereid op die nuwe skooljaar toe die skooldeure Woensdag oopmaak. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het dié skool Woensdag besoek.

Luidens mediaberigte het ’n plaaslike sekuriteitswag beweer sy werkgewer het hom beveel om sy uniform uit te trek en gedwing om in die reën in net sy onderklere huis toe te loop nadat hy laat vir werk opgedaag het. Ontstoke betogers het gedreig om die sekuriteitsmaatskappy se perseel, reg langs die laerskool, af te brand.

Leerders van die skool tree aan vir die eerste skooldag van 2019. Foto: Elaine Krige

Volgens Erhard Krüger, skoolhoof, kon onderwysers glad nie die dag voor die skool begin het die skoolterrein betree nie weens die optogte wat in die hele dorp plaasgevind het. Maar leerders kon steeds Woensdag by klaskamers instap wat ten volle ingerig en gereed vir die nuwe skooljaar was.

“Ek kyk maar verby die onkruid,” het Krüger geskerts. “Ons het nie tyd gehad om die tuin reg te maak nie, maar die belangrikste is dat die leerders kan begin werk en dat die optogte nie ’n invloed het op hul akademiese tyd nie.”

Volgens Marnelda de Beer, ’n onderwysspesialis by die SOS se Afrikaanse Grondslag-vereniging, is dit ’n herhalende probleem dat sommige skole landwyd nie voorbereid is op die nuwe skooljaar nie.

“Dis vir die SOS verblydend om te sien dat dié skool, ondanks die uitdagings, nie toegelaat het dat leerders se opvoeding daaronder ly nie,” sê De Beer. “Dis tog waarvoor ons as onderwysers daar is: om te verseker dat leerders se akademie eerste kom.”

Krüger tree vanjaar af as hoof van die Laerskool Du Preez van Wyk ná byna 20 jaar by dié skool en 38 jaar in die tuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

IK ·

Pragtig die meegaande foto. Sien ek heelwat kaalvoete? Nóg mooier. Ja, die onkruid is maar redelik dig gesaai in hierdie land.

Heinrich ·

Ek stem IK, die onkruid is maar ‘n doring in die vlees…

Asjas ·

Hy oordryf as hy kla oor die onkruid, hierdie skoolgronde word dwarsdeur die jaar in perfekte toestand gehou, geboue, tuine en als.
En ja, ons kinders gaan kaalvoet skool in die somer en die klere is ook bekostigbaar, rugby short met hemp wat nie stryk nodig het nie. Truie was ook gewone blou (altans in ons tyd). Die skool het regtig aan die ouers gedink toe dit kom by uniforms.

Jack ·

Ek het aanvanklik gedink die is n berig met slegte nuus en toe ek verneem die hoof verlaat die skool toe besef ek dis n goeie nuus berig wel gedaan maroela media. Ek vermoed ook dat die kommentaar binnekort verwyder gaan word want as lesers se opinies julle nie pas nie word dit verwyder viva demokrasie en vryheid van spraak!!!

Brandweer-ertjie ·

Ek moet saam Charlie stem dat die laaste paragraaf vir my as #ertjiesurvivor soos musiek op die ore val en soos die rustigheid van sagte reën op ‘n sinkdak vir my siel is. #tydvirnuwebloed

PJC ·

Dit is onaanvaarbaar en frustrerend dat hierdie sogenaamde protesteerders altyd onskuldiges in die omgewing ook ontwrig en selfs hulle lewens bedreig en dan wonder sommiges nog waar kom al die haat vandaan.

JANEE ·

Pragtige skool agv n agtermekaar hoof …Dankie mnr Kruger vir die voorbeeld vir ons kaalvoet kindertjies

Asjas ·

Stem 100% saam!! Ek en Mnr Kruger het ook al ons verskille gehad maar die ouers wat so kla hou nie van reels en regulasies nie.
My 3de en laaste kind maak volgende jaar klaar by Erasmus (Bhs), ook eers by du Preez van Wyk begin. DIs twee van die suksesvolste skole omdat die Hoofde streng is en kinders van die Laerskool af al disipliene en maniere geleer word.
Julle wat so kla doen julle kinders geen gunste nie, julle gaan nog lang trane huil oor jul kinders!!
Werk eerder saam as om by die huis vir hulle te vertel hoe sleg die skool is, en as jy so sterk daaroor voel, haal hulle uit. Ons moes noodgedwonge ons kinders vir 2 jaar skuif, die oomblik toe hulle kon terug gaan was die kinders meer opgewonde as ons. Jy weet nie wat jy het tot jy dit verloor nie!!!

Yankee ·

Ag hene ma, hoe verlang ek nou na darie jare in SA. Kaalvoet en so rustig katvoet!! Pragtig!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.