Dapper jong man red kinders uit brandende huis

Brandon Bouwer. Foto: Facebook

ʼn Jong man van Bloemfontein wat Dinsdag in ʼn brandende huis ingehardloop het om drie jong kinders te red, sê hy het nie eens twee keer gedink voor hy in die huis ingehardloop het nie.  Dit is net iets wat hy móés doen.

“Daar was in daardie oomblik nie regtig die opsie om bang te wees nie, anders sou ek nie kon fokus nie. As mens is dit my plig om ander te help, so ek het nie eens twee keer gedink nie. Ek moes net my emosies eenkant skuif in daardie oomblik,” sê die dapper Brandon Bouwer (21).

Bouwer, ʼn klerk by die Vrystaatse hooggeregshof, het Dinsdag saam met sy pa en ʼn kollega verby die brandende huis in Wilgehof gery. ‘n Vrou, Jerelize Pretorius, het hulle in die straat voorgekeer en vir hulp gevra. Volgens Bouwer kon hy sien hoe rook uit die huis borrel en hoor hoe kinders binne die huis skree.

Terwyl sy pa gestoei het om die hek na die erf oop te kry, het Bouwer na die bure se huis gehardloop om van daar oor die vurkheining te spring. By die agterdeur het hy die houtdeur en ʼn veiligheidshek oopgebreek om toegang tot die huis te verkry.

Hy vertel hy het ingehardloop en eerste ʼn baba in ʼn karstoeltjie gesien, met ʼn kleuterseuntjie wat naby hom staan. Volgens Bouwer het die baba in die karstoeltjie teenaan die vlamme gelê. “Ek dink die seuntjie wou dalk die baba red, maar daardie stoel was net te warm vir enige kind om te kon optel,” vertel hy.

“Die seuntjie het kamer toe gehardloop en ek het dadelik vir die karstoeltjie gehardloop. Ek het die karstoeltjie gegryp en na buite gehardloop. Ek wou nie die baba uit die stoel haal nie, want sy hele lyf was vol brandwonde en ek wou nie aan die wonde vat nie. Ek het ook nie geweet of die brandwonde op sy rug dalk nog erger was nie.”

Bouwer het die baba aan sy pa en ʼn polisiebeampte, wat toevallig op die toneel afgekom het, oorhandig voordat hy teruggehardloop het in die huis om die ander kinders te kry. Hy het twee ander kinders aangetref waar hulle in ʼn kamer onder ʼn duvet op die bed skuil en het hulle ook na veiligheid buite die huis geneem.

Bouwer, die polisiebeampte en ʼn buurman het begin om die vlamme te blus terwyl ander mense die nodige owerhede gebel het. “Die kinders se ma en ouma het toe daar aangekom. Die ma het geskree en was verskriklik ontsteld, maar die ouma het dadelik opgetree en oorgeneem wat die baba betref. Sy het dadelik geweet wat om te doen en kon die baba help tot die nooddienste daar aangekom het,” sê hy.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê met paramedici se aankoms op die toneel was die baba in ʼn kritieke toestand. Paramedici het die vier maande oue baba op die toneel gestabiliseer voordat hy na ʼn hospitaal gehaas is. Konst. Wendy Nkabi, woordvoerder van die polisie, het egter bevestig die baba het later by die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Volgens Bouwer het die bank in die sitkamer vlam gevat voordat die vlamme versprei en die hele vertrek verswelg het. Nkabi sê daar word vermoed een van die kinders het met vuurhoutjies gespeel en dat die brand só ontstaan het. Die oorsaak van die brand sal egter deur ʼn polisieondersoek bevestig word.

Die ander twee kinders wat ten tyde van die brand in die huis was, is onderskeidelik een en drie jaar oud.

“Dit is ongelooflik tragies dat die babatjie gesterf het en ek voel so sleg vir die gesin en veral die kinders. Sjoe, ek dink vir daardie twee kindertjies was dit so erg. Ek is net dankbaar dat ek hulle betyds uit die huis kon kry,” het Bouwer gesê.

Nkabi het gesê ʼn klag van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

TDW ·

Definitief braaf! Trots op jou jongman! Ek hoop jou hande is ok.
Ek is regtig jammer vir die familie oor jul babatjie. As dit nie vir hierdie man was nie, het die familie met 3 kissies gesit, maar so een kissie is erg genoeg. Sterkte vir julle!

Claudette ·

Baie jammer aan die familie wat die baba verloor het in die brand. Brandon Bouwer jy is my Hero….dankie vir jou onbaatsugtige hulp wat jy aan jou naaste verleen het. Ek hoop jy kry ‘n medalje vir jou wonderlike werk. Ek het my ma ook in ‘n brand verloor en weet presies hoe dit voel…magteloos.

wilma ·

Baie dankie aan julle vir jul onbaatsugtige diens. So jammer dat die babatjie beswyk het.

Johan ·

Welgedaan Brandon – ek hoop jy kry ‘n medalje.

Alhoewel ons almal BAIE BLY is oor die 3 kindertjies wat gered kon word, huil ons ook almal saam oor die 4-maande oue baba wat gesterf het. Sonder Brandon sou dit dalk 4 sterfgevalle gewees het.

Astrain ·

Trots op sulke wonderlike jongmense in ons land en ek hoop hierdie kwaliteit mens word meer en meer! :-)

Mercia ·

Dankie jongman. DANKIE DANKIE DANKIE
Seënreën jou toegbid.
DankieHeilige Gees vir u leiding!!
AMEN, AMEN EN AMEN

Mimi ·

Baie dankie Brandon dat jy dadellik opgetree het! Ek stem saam met Johan, sonder jou optrede kon dit 4 oorlede kindertjies gewees het. Daardie skreeuende kinderstemme het jou hart geraak, dankie dankie daarvoor! Ek stem saam dat n mens besorg is oor daardie ander kindertjies, want hulle sal verseker getraumatiseerd wees. Hulle moet hulp kry. Na alles, kan n mens net die ma en ouma krag toebid en self-vergifnis….hulle het nie so n ramp voorsien nie, maar sal die pyn en self verwyt moet oorleef. Sterkte aan almal.

GM ·

Dis vreeslik hartseer.
Ek lees dalk iets mis, maar waar was die kinders se ouers? Die berig noem net dat die kinders se ma en ouma daar aangekom het. Was hul daar rond en het eers later agtergekom die huis brand?

tw ·

Wonderlik jong man, maar kan iemand aan my verduidelik waar het die ma en die ouma vandaan gekom en as hulle nie tuis was nie, wie was by die kinders? tensy ek die berig verkeerd verstaan.

Riouna Martin ·

Jongman dankie vir mense soos jy. Mag God jou baie seen jy verdoen dit seun.

Dafer ·

AfriForum – Hierdie is ‘n geleentheid om erkenning te gee aan ‘n Afrikaner! Doen dit asseblief! Julle moet meer sigbaar raak!

Stefan ·

Baie dankie Brandon, dit was wonderlik! Welgedaan.

Net vir ander wat ook so iets doen volgende keer. Probeer by die deur inkom wat klaar oop is en nie nog n deur oop te maak wat dalk ‘n draft deur die huis kan stuur met suurstof nie.

Wees tog net versigtig – lekker – Thanks Brandon

Loubser ·

Klink of die Ouma en Ma nie daar was nie. Daarom was al die deure gesluit en moes hy eers deur en veiligheidshek afbreek. My hart gaan uit aan hierdie kinders. Dis baie ontstellend.

Cindy ·

Baie Dankie vir jou dapperskap, jy is ‘n voorbeeld vir miljoene ander mense in ons land.
Maar is dit ek wat die berig verkeerd verstaan, was die 3 klein kindertjies alleen by die huis?

Yvonne yamieson ·

Well done young man. You are a super hero and lifesaver

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.