Dapper petroljoggie geloof vir onbaatsugtige daad

Lawrence Kananji. Foto: Facebook.

ʼn Petroljoggie van die Wes-Kaap word wyd geprys vir sy onbaatsugtige optrede nadat hy ʼn bejaarde vrou te hulp gesnel het toe boosdoeners haar probeer beroof het.

Die voorval het op 19 Augustus by die Engen Rietvlei-vulstasie in Table View in die Wes-Kaap plaasgevind.

Luidens ʼn verklaring wat namens Engen uitgereik is, was Lawrence Kananji, ʼn man oorspronklik van Malawi wat al die afgelope tien jaar by dié Engen werk, op pad werk toe toe die voorval plaasgevind het.

“Die bejaarde vrou het verby die aanvallers se geparkeerde motor in Ascotweg geloop en hulle het uitgespring, haar teen die grond gegooi en haar probeer beroof,” lui die verklaring.

Kananji het gesê hy het die blou motor in die pad opgemerk en toe gesien ʼn man spring uit die motor en val die vrou aan. “Hulle het haar op die grond gegooi en haar geslaan soos wat hulle probeer het om haar te beroof. Ek het nader gehardloop en toe hulle my sien toe spring hulle in die motor en ry weg. Hulle het iets in my rigting gerig, maar ek kon nie sien wat dit was nie,” het Kananji gesê.

Kananji het toe Glenn Bradfield, ʼn verbygaande motoris, se aandag getrek om die vrou huis toe te vervoer.

Bradfield het ná die voorval ʼn inskrywing op Facebook gemaak. Soveel as 17 000 mense het al aangedui dat hulle daarvan hou en dit is ook al 12 000 keer gedeel.

“[Kananji] het sy lewe gewaag en haar gered van ernstige beserings. Dankie Lawrence, jy is ʼn goeie mens,” lui die inskrywing.

Die vrou wie hy te hulp gesnel het. Foto: Facebook.

Kananji, wat ná die inskrywing bekendheid verwerf het, is baie nederig en dankbaar oor die oorweldigende reaksie op sy daad en het gesê hy het op daardie oomblik nie kans gehad om bang te wees nie. “Ek wou net die vrou van hulle red, ek het nie aan enigiets anders gedink nie.”

Costa Petsas, eienaar van die Engen en Kananji se werkgewer van die afgelope tien jaar, het gesê hy het eers van die voorval te hore gekom toe hy dit op Facebook lees. “Hy het net by die werk opgedaag en vir niemand vertel wat gebeur het nie, nou is hy soort van ʼn ster. Ek wil net hê hy moet weet hoe trots ek op hom is,” het Petsas gesê.

Petsas het ook vir Kananji uitgeneem vir ete en talle mense het al die maatskappy geskakel om te hoor of hulle nie vir hom donasies kan aanbied nie. Iemand het ook vir hom ʼn fiets geskenk sodat hy nie meer werk toe hoef te loop nie.

Kananji het ook ʼn geskenkbewys van Engen ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Mooi so ·

Dis awesome, maar siende dat hierdie mense kriminele is beteken die man se lewe kan ook in gevaar wees, almal weet n ou waar hy werk. Ek admireer en bewonder hom vir sy heldedaad en is baie bly so baie mense het ook gehelp om sy lewe gemakliker te maak. Dalk net sy identiteit so ‘n bietjie beskerm. Ek voel jammer vir die man .. !

Vee ·

As dit jou eerste instink is , om te help ongeag wie en waar . . . sê dit iets van die vrug wat jy dra. Dankie Lawrence . . . mag jy ander tot skaamte bring

TLC ·

Jaaaaaa veral omdat hy nou n fiets ook gekry het Daar is al mense vermoor vir n fiets
Ai ek so bly hy kry eer wat hom toekom

Blits ·

JOU YSTER, Ons land het meer van jou nodig, mense wat ongeag van ras kan opstaan vir anne mense wat ingevaar is, ek ken jou nie maar ek is trots op jou, en ek se weer JOU YSTER

Cherokee ·

Vir wat dit werd is, behoort ook opgelet word dat hy nie oorspronklik lokaal is nie maar vanaf Nyasaland.

Harrie1501 ·

Kananji…hierdie land het meer mense soos jy nodig !!!

Tvn ·

Wow, well done!!!!! Moet sê ek het al saam met ‘n paar Malawiese mense gewerk, en hulle is hardwerkend en baie nederige mense.

Lerato ·

Die afgelope 15 werk slegs mense van Malawi in ons huis en tuin.

Jax ·

Pragtig! Die manne by die engin naby my huis, is net sulke oulike manne. Hulle groet my altyd baie vriendelik en waai selfs al ry ek verby. Ek is deel van ons Buurtwag groep en die manne sien my en my Mede-patrollie-lid gereeld laatnag by hulle stop om seker te maak hulle is ok. So sorg ons vir mekaar Met opregtheid en deernis! Soos dit hoort!
Lawrence, jy is n superster!

Marlene ·

Dit is awesome, as almal maar net so kan optree sal dit die wereld n beter plek maak. Baie dankie vir jou onbaatsigtige daad. Ek haal my hoed af vir jou. Gewoonlik word die gesigte net weg gedraai wanneer n person in nood verkeer. Jy is n ster Lawerence !!!!!!!!

Ja ne ·

Dis nou al 4 jaar dat ek slegs malawiers in diens het. Al die gewone strooi wat jy het met sa werkers is verby. Die mense wil werk en is bitterlik lojaal teenoor ons. Sal nooit ooit weer n sa werker op die plaas toelaat nie.

Cherokee ·

Soos jy sê, as mens kyk na die huidige SA, is dit bitterlik om lojaal te wees.

susan ·

Ek ken baie wat sal veg vir my lewe almal soos in alle rasse is nie sleg nie. Jou ingesteldheid teenoor iemand bepaal jou hoe hy jou gaan behandel.

Snip Joburg ·

Ek as bestuurder van n Engen in Joburg, Wil net danki se Vir sy heldhaftigheid en Ek bid vanaand dat die Here hom sal beskerm teen aanvalle. Mag Sy engele jou Elke tree beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.