Dapper plaasvrou berispe aanvallers wat sigarette soek

Berdine Vos (Foto: Verskaf)

“Ek was nie bang of histeries nie. Ek het ’n bonatuurlike krag van iewers gekry.”

Só vertel Berdine Vos (66) nadat sy Maandag helder oordag op haar plaas digby Vanwyksvlei in die Noord-Kaap deur twee jong mans met klippe aangerand is. Hulle wou hoofsaaklik sigarette steel.

Die polisie het die twee mans etlike ure ná die aanval vasgetrek.

Vos woon alleen op haar plaas ná haar man se dood meer as ʼn jaar gelede. Sy vertel sy het Maandag omstreeks 17:00 haar hond onophoudelik hoor blaf. Sy is uit om te kyk wat aangaan, maar kon nie die hond sien nie.

“Skielik was my hond doodstil. En dit is toe dat die twee jong mans om die hoek van die huis kom,” vertel Vos. Die een man het twee groot klippe gedra en die ander een het ’n klip en ’n mes by hom gehad.

“Hulle het in my rigting gekom en gevra of ek ‘entjies’ (sigarette) het. Dit is toe dat ek sien die een man kom met die klip na my gesig toe. Ek het gekoes en die klip het my teen my agterkop getref,” vertel sy.

Vos het nie haar bewussyn verloor ná die hou teen die kop nie en die bloed met haar hare probeer bedek om nie enige swakheid teenoor die aanvallers te toon nie.

Vos sê sy het heeltyd beheer van die situasie probeer neem. Sy het rustig met hulle gepraat.

“Ek het vir hulle gevra: Skatjies, hoekom doen julle dit aan my? Ek kon netsowel jul ouma gewees het. Sou julle dít aan jul ouma gedoen het?” Die twee het daarna glo begin bedaar.

Vos sê sy het uit haar handsak twee pakkies sigarette gehaal en dit vir hulle gegee. Hulle het toe haar beursie in die handsak gesien en geld geëis. Hulle het ook gevra vir kos.

“Die een jong man het my seun se blikkie onderarm-spuitgoed gevat en gesê hy gaan my in my oë spuit. Ek het weer kalm met hom gepraat en hy het die blikkie spuitgoed neergesit. Ek het vir hom gesê dat ek nie kwaad is vir hulle nie.”

Vos sê terwyl sy met hulle gepraat het, het die een jong man op sy knieë neergeval en om verskoning gevra. Hy het ook begin bid.

Sy sê die mans is teen omtrent 19:00 se kant met haar selfoon, drank, sigarette, geld, messe, van haar juwele en haar bakkie se sleutels vort.

“Dit gaan my verstand te bowe dat mense ander mense sommer al sal aanval vir sigarette,” sê Vos.

Vos sê haar hond het later, teen 23:00, weer by die huis opgedaag. Sy sê dit lyk asof die mans die hond met ’n klip bygekom het.

“Ná die mans weg is, het ek nie ’n selfoon gehad om iemand te bel nie. Hulle het ook my bakkie se sleutels gevat, so ek kon nie ry nie. Ek het maar gewag en gehoop iemand ry verby die plaas,” vertel Vos.

Vos sê die mans het met haar selfoon per ongeluk haar bure later die aand gebel. Die bure het gehoor dat dit nie Vos is nie, en besef daar is fout.

Die bure, lede van die gemeenskap en die polisie het toe Dinsdag omstreeks 04:00 by Vos se plaas opgedaag. Die mans was teen dié tyd reeds vasgetrek.

“Die twee mans was vol mannemoed. Nadat hulle my drank gedrink het, het hulle die Dinsdagoggend, seker so 02:00, by ’n ander vrou se huis op die dorp probeer inbreek. Dit is toe dat die polisie hulle gevang het,” sê sy.

Die mans is uitgeken as dieselfde twee wat Vos aangeval en beroof het.

Vos sê sy was deur die hele voorval nie bang of geïntimideerd nie, maar het krag gekry van iewers om beheer oor die situasie te neem.

Reinette Liebenberg, DA-LPW van die Noord-Kaap, sê sy is trots op die polisie en lede van die gemeenskap wat baie vinnig opgetree het en die rowers vasgetrek het. “Hulle is nou agter slot en grendel en geregtigheid sal geskied,” sê Liebenberg.

Maroela Media het Dinsdag die Vanwyksvlei-polisiestasie gekontak en die voorval en inhegtenisnemings is bevestig. Maroela Media het skriftelike navraag aan die polisie gestuur, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stofdonkie

Natuurlik voel die da trots. Hulle is ook mos dood stil oor plaasaanvalle.

Twopence

Ek is baie bly mev. Vos is ongedeerd. Die vraag kom egter by my op hoe veilig dit is om so alleen en afgesonder te bly? Ek en my man het ‘n sekuriteitsisteem, maar maak ook baie staat op ons kleintipe hond se waarskuwende blaf, maar helaas …..

Martie

Trots op jou. Alleenlik God gee daai BONATUURLIKE krag

pokkel

Ek verstaan glad nie hoe sommige mense so maklik in staat is tot geweld, ek het al self deur desperate tye geleef maar sou nooit so iets kon doen, en hoe gaan hierdie probleem ooit opgelos word?

Gideon

En klaar gevang ook sommer. Goeie werk SAPD!