Dapper vrou stuit kapers

Cobie Roux (Foto: Verskaf)

“Ek was glad nie bang nie. Ek het net geweet ek moet help.”

Só vertel die 64-jarige Cobie Roux wat Maandagoggend vrou-alleen ʼn motorkaping in Hendrik Potgieter-rylaan in Roodepoort gestuit het.

Leon Botha (64) is die oggend omstreeks 11:30 oorkant die Hillfox-sentrum in die dorp in sy wit Mercedes-Benz deur die vermeende kapers van die pad afgetrek.

Roux was die oggend, ook in ʼn wit Mercedes-Benz, op pad huis toe, toe sy verby dié toneel gery het.

“Ek het oorspronklik gedink die mans was besig om Botha in sy voertuig aan te rand. Ek het by ʼn veilige plek omgedraai en oor die middelman gery om hom te gaan help.”

Toe sy enkele sekondes later op die toneel stilgehou het, het sy besef dat dit ʼn kaping is.

“Botha het in daardie oomblik sy hande in die lug gehou, wat my laat besef het dat hulle hom wil kaap.”

Sy het skuins voor Botha se voertuig stilgehou om te keer dat die kapers met die voertuig wegkom. Daar het ʼn groep mense op die middelman oorkant die pad gestaan en toekyk.

“Die omstanders het net die storie staan en aanskou en nie ʼn vinger gelig om iets te doen nie. Ek het uit my kar gespring en vir hulle geskree om die man te help.”

Die twee mans was reeds in Botha se motor toe Roux stilgehou het.

“Ek vermoed die man in die bestuursitplek het nie geweet hoe om met die voertuig te ry of dit in trurat te sit nie.”

Intussen het die man in die passasiersitplek uitgespring en weggehardloop.

“Ek het gedink hy kom vir my. Ek het in my voertuig gespring en die deur toegemaak. Net voor ek die deur kon sluit, was die ander man, wat in Botha se bestuursitplek gesit het, by my deur. Hy het die deur oopgepluk.”

Botha se Mercedez-Benz voor en Roux s’n agter (Foto: Dowry Group, Facebook)

Hy het Roux aan die nek en arm gepluk. “Hy het my ook aan my klere rondgepluk. Ek kon voel hoe spat my nate.”

Die man wou Roux uit die voertuig ruk, maar kon nie daarin slaag nie.

“Hy het op my skoot probeer klim, maar kon dit ook nie regkry nie. Hy het toe uitgeklim, sy hand in die vorm van ʼn vuurwapen na my gewys en gesê hy gaan my skiet.”

Toe Roux nie reageer nie, het die man haar met die vuis op haar wangbeen geslaan en haar bril gebreek.

“Ek het vir ʼn sekonde net sterretjies gesien.”

Die man het toe omgedraai en weggehardloop, maar die groep omstanders het hom agternagesit en vasgetrek. Volgens Roux het ʼn taxibestuurder hom met ʼn knopkierie bygedam. “Hulle het hom goed gemoker.”

Die polisie is na die toneel ontbied en het die man in hegtenis geneem. Die ander man is nog op vrye voet.

Roux sê toe sy Botha se voertuig vir die eerste keer opgemerk het, het sy ook ʼn silwerkleurige voertuig, wat sy reken ʼn Toyota is, langsaan sien staan. Daar was glo vier persone in die voertuig, wat die twee mans wat Botha probeer kaap het, insluit.

Botha meen Roux se dapperheid het hom daardie dag gered. “Ek het stilgestaan in die pad, toe ’n man skielik in my rigting aangestap kom. Ek het eers gedink dit is ʼn werknemer van die Mercedes-werkswinkel waarvan af ek pas gekom het. Die man het netjies gelyk en nie soos ʼn regte skelm voorgekom nie. Ek het my venster afgedraai en hy het gevra dat ek moet aftrek. In daardie oomblik het hy sy hand in my voertuig ingesteek en my sleutels probeer gryp.”

Omstanders het die kaper getakel (Foto: Dowry Group, Facebook)

ʼn Groot stoeiery het tussen hom en die man uitgebreek. Hy het die man se hand vasgehou om te keer dat hy sy sleutels vat. Dit is toe dat die tweede man na die voertuig aangehardloop kom, die deur ooppluk en Botha uit die voertuig probeer trek. Hy het daarna by die passasierskant ingeklim en die man, met wie Botha steeds aan die stoei was, aan die bestuurskant.

“Ek het die man se arm steeds vasgehou. Hy het agter die stuurwiel gesit en ek het buitekant gestaan en sy arm getrek om te keer dat hy ratte wissel. Die man het heeltyd vir my gesê hy gaan my skiet en het gemaak asof hy ʼn vuurwapen uit sy sak gaan ruk. Ek het toe agtergekom die man is nie gewapen nie.”

Botha vertel dit is op daardie stadium dat Roux daar aangejaag kom en voor sy voertuig stilhou en die mans se aandag afgetrek het.

Die verdagte wat weggekom het, het Botha se selfoon gesteel.

“Ek is baie dankbaar vir Roux wat instinktief opgetree en besluit het om my te help. Baie mense sal nog besin oor ʼn situasie, maar sy het net dadelik besluit om om te draai en my te help.”

Roux sê sy sal dit weer doen as sy moet. “Ek is op hierdie aarde geplaas om mense te help waar ek kan. En dit is wat ek gedoen het. My kleinkinders noem my nie verniet hulle gangsterouma nie.”

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, sê die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot motorkaping. Hy het bevestig dat ʼn 26-jarige verdagte in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Amelia

Ek se net DANKIE!!!

Annakapat

Well done, gevaarlik, maar goed gedoen!

Kambrokind

Respek….

Dries

Rowers wat ouer dames in die gesig slaan met die vuis?!?!? Brutale geslagsgeweld! Ek wag in spanning vir die sterkte veroordeeling van hierdie afskuwelike misdaad uit die geledere wat altyd GBV skree – ANC, ANCWL, EFF ens. Mevrou Roux, jy is sowaar ‘n ware heldin, dankie tog julle is nog lewendig.

Maria

Wat ‘n fantastiese dame!!! Hoendervleis gekry van lekkerte. Dankbaar hulle is veilig en een is gevang