Daryl Impey toets positief vir verbode middel

Daryl Impey. Foto: Twitter

Daryl Impey. Foto: Twitter

Die Suid-Afrikaanse fietsryheld Daryl Impey het positief getoets vir ‘n verbode middel.

Impey (30) se naam was op almal se lippe nadat hy in Julie verlede jaar die eerste ryer van Afrika geword het om die geel trui in die Tour de France te dra.

Khalid Galant, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), sê Impey is in Februarie tydens die Suid-Afrikaanse padkampioenskap in Durban getoets.

Galant sê Impey is voorlopig geskors nadat hy positief getoets het vir die verbode middel Probenecid. Dit word glo gebruik as ‘n diuretikum (ontwateringsmiddel) en verbloemingsmiddel.

Impey sal die geleentheid kry om homself teen die aanklagte te verdedig voor ‘n onafhanklike tribunaal. “Die vertraging om die aankondiging te maak is weens ‘n vereiste ekstra analise ter bevestiging. Dit is roetine vir verbode middels van die hierdie aard.”

Impey het intussen in ‘n verklaring gesê hy het geen kennis van Probenecid en dat hy nog nooit die middel bewustelik op enige maner ingeneem het nie. Impey sê hy is verbind tot dwelmvrye-sport en dat hy alle nodige stappe sal neem om die vermoedens in die kiem te smoor.

“Ek is uiters ontsteld oor die bevinding, aangesien ek nog altyd dwelmvry fiets gery het in my loopbaan. Elke uitslag wat ek behaal het, was die gevolg van harde werk en toewyding van my kant. Ek het my span onmiddellik in kennis gestel nadat Fietsry Suid-Afrika my ingelig het oor die nadelige bevinding. Ek wil hulle, my familie en vriende bedank vir die ondersteuning in die moeilike tyd. Ek is vol vertroue dat ek reg bewys sal word en onskuldig bevind sal word aan enige oortreding.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Sterkte Daryl. Ek glo jy het die middel onwetend ingekry.

Hou net jou kop omhoog, en jy sal hierdeur kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.