Daspoort-tonnel gesluit toe man dreig om te spring

Foto: Best Care-ambulansdienste

Die Daspoort-tonnel in die weste van Pretoria is Maandagmiddag gesluit nadat ʼn 21-jarige man gedreig het om van die tonnel af te spring.

Xander Loubser, woordvoerder en paramedikus van Best Care-ambulansdienste, het gesê die tonnel is omstreeks 13:00 van albei kante af gesluit terwyl owerhede probeer het om die situasie te ontlont. “Ons was nie net bekommerd oor die hoogte van die tonnel nie, ons was ook bang dat die man moontlik voor ʼn voertuig kon beland indien hy sou spring,” het hy gesê.

Hy het gesê die man se ma was ook op die toneel. Later het die ma van die man se babaseun ook die baba na die toneel gebring en dit is toe dat die man besluit het om vrywillig na veiligheid terug te keer.

“Die man is na die Tshwane-distrikshospitaal geneem waar hy vir 72 uur psigiatriese waarneming sal ondergaan, aangesien hy ʼn moontlike gevaar vir sy eie veiligheid kan inhou. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem.”

Volgens Loubser is die tonnel daarna weer oopgestel vir verkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom Kalahari ·

Wat gaan werklik om in ‘n mens om tot sulke drastiese stappe of dade oor te gaan. Sulke Sielkundige knou neem tyd om te verwerk. Alle sterkte aan die man en familie vorentoe en hoop hy herstel gou asook verwerk die druk wat aanleiding tot die optrede gegee het.

Adriana ·

Liewe jongman , alles werk uiteindelik uit.Hou moed want alles sal nog regkom.Moet jou nie aan negatiewe kommentaar steur nie want dit is nie die moeite werd nie.Sit jou remote af met sulke mense.Bid en glo.

adriana ·

Dit is so jammer om te lees dat mense nie bereid is om ander te help in ‘n tyd van nood nie .
NIe almal is sonder probleme nie. Dit is ‘n jong man – wat nog in emosies in moet groei.
Moenie ander veroordeel nie – want jy het nie die reg nie. Veroordeel eerder jouself.
Sterkte jongman – en glo in jouself.

Suzie ·

Dis ‘n baie mooi foto van die Daspoort tonnel.
Kyk hoeveel bome groeie hom al toe, een van die dae val hy ook inmekaar omdat daar geen onderhoud gedoen was nie.

Reguit ·

Vandag is die hele SA een groot “Daspoort”, en die liggie aan die einde van die tonnel is die aankomende trein.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.