Databreuk: Verdagte geïdentifiseer

(Foto: Michael Geiger)

Die kredietburo Experian South Africa sê hy het reeds ʼn “indiwidu in Suid-Afrika” geïdentifiseer nadat persoonlike inligting van tot soveel as 24 miljoen Suid-Afrikaners en 793 748 sake-entiteite uitgelek het.

Experian sê die persoon het voorgegee dat hy ʼn egte kliënt verteenwoordig en het op bedrieglike wyse dienste by Experian aangevra. “Die dienste behels die vrystel van inligting wat in die gewone verloop van sake beskikbaar gestel word, of algemeen beskikbaar is.

“Ons kan bevestig dat geen inligting oor verbruikers se krediet of hul finansiële inligting bekom is nie en dat geen data vir bedrieglike doeleindes aangewend is nie. Ons ondersoek wys ook dat die verdagte die data wou gebruik om bemarkingsleidrade te skep om versekering en ander kredietverwante dienste aan te bied,” lui Experian se verklaring.

Miljoene Suid-Afrikaners se inligting is geraak. (Foto: Maroela Media)

Volgens die maatskappy is die verdagte geïdentifiseer en ʼn bevel is reeds verkry wat daartoe gelei het dat op die persoon se rekenaarhardeware beslag gelê is. Die data wat bekom is, is ook beveilig en toe uitgewis.

“Die regsproses duur voort en in dié verband werk ons saam met wetstoepassers en die betrokke owerhede.”

Ferdie Pieterse, uitvoerende hoof van Experian Africa, het diegene wat deur die databreuk geraak is, vir die ongerief om verskoning gevra.

“Ons prioriteit is om verbruikers en sakeondernemings in Suid-Afrika te ondersteun. As ʼn voorsorgmaatreël raai ons enigiemand wat bekommerd is aan om hul kredietverslag gereeld na te gaan. Jy kan dit doen by www.mycreditcheck.co.za waar jy lewenslank gratis toegang tot jou persoonlike kredietrekord kan kry,” het Pieterse gesê.

FNB het Woensdag bevestig hy werk saam met die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric), wetstoepassers en regulatoriese owerhede om enige moontlike gevare vir sy kliënte weens die databreuk te verminder.

“Kliënte word aangeraai om ekstra waaksaam te wees en ons voorgestelde sekuriteitsmaatreëls te volg,” het FNB gesê.

Die bank het gesê hy is direk in verbinding met kliënte wat moontlik geraak is en dat die beskerming van sy kliënte se bankinligting sy grootste prioriteit is.

Piet Swanepoel, hoofrisikobeampte by African Bank, het gesê wat van belang is, is dat bedrieërs nie toegang tot enige van die bank se kliënte se bankbesonderhede kon kry nie.

“Ons het ieder geval ons veiligheidsmaatreëls verskerp om ons kliënte te beskerm. Kliënte moet egter steeds bedag wees daarop dat bedrieërs ʼn bankamptenaar kan namaak en voorgee om van die bank te wees omdat hulle die ID-nommers en selfoonnommers ken,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

“Piet Swanepoel, hoofrisikobeampte by African Bank”. Het ek reg gelees? ‘n Wit Afrikaanse man in nogal ‘n belangrike pos by ‘n 100% BEE bank? Is dit waar, is dit window dressing? Wat dan van regstellende aksie? Iets maak nie sin nie. Weet die menseregtekommissie en die ANC en die EFF en die DA van dit? (die DA het vir regstellende aksie wette gestem). Alles in SA is al so kwaai anti-wit, so iets maak nie sin nie.

Johanncb ·

Volgens ander betroubare, ingeligte bronne, het die breuk alreeds in Mei vanjaar plaasgevind! Die verdagte is nóú eers vasgetrek! Wat het tussen Mei en Augustus dan plaasgevind?

Jack ·

Hierdie hele storie het vir my n slegte reuk. AS die inbraak reeds in Mei was, dan is enige skade wat gedoen kon gewees het lankal reeds gedoen. En om vir bankdienste gebruikers nou te sê dat hulle ekstra versigtig te wees regtig mosterd na die maal.

Danie ·

Ok kom ons beskou dit uit ‘n ander oogpunt.
Die geraas gaan oor inligting wat gegee is aan ‘n persoon wat gemaak het of hy ‘n klient verteenwoordig.
En Experian bevestig dat hulle wel verbruikers se algemene inligting beskikbaar stel.
Wat beteken dat indien die persoon wel ‘n “klient” verteenwoordig het sou daar geen haan hieroor gekraai het nie.
My vrae is watter reg het Experian om enige inligting aan enigiemand te gee?
Wie is die “egte klient/e” wie sulke inligting mag ontvang?
Hoeveel word Experian daarvoor betaal?
En as kredietburo, het Experian nie ‘n verpligting om enige en alle inligting vertroulik te hou nie ?
Wat beteken op die minste moet Experian se “lisensie” om sake te doen teruggetrek word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.