Datum bekend vir salarisstryd teen Denel

Solidariteit gaan Denel Dinsdag in die arbeidshof pak weens die wapenvervaardiger se versuim om sy werkers se salarisse ten volle te betaal.

Werkers se salarisse vir Mei 2020 is slegs gedeeltelik betaal met sommige personeellede wat tot so min as 20% van hul salarisse ontvang het. Denel het aangedui dat salarisse vir Junie en Julie ook in die gedrang is en het voorgestel dat werknemers vanaf Junie tot Augustus gedeeltes van hul salarisse moet opoffer.

Solidariteit sê sedert April het Denel ook versuim om sy statuêre verpligtinge teenoor sy werkers na te kom deur nie inkomstebelastingaftrekkings en ander aftrekkings aan derde partye oor te betaal nie.

“Dit is belaglik om te dink dat ʼn maatskappy sy werknemers so sal verarm deur die versuim van sy finansiële verpligting teenoor hulle,” het Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, gesê.

“Dit is nog meer verregaande om van hierdie werknemers te verwag om hulself te verarm om die werkgewer, en by uitstek die staat wat die aandeelhouer is, te help deur salarisse ten koste van hulself en hul gesinne op te offer.”

Cronjé het gesê die afsonderingstydperk wat in Maart ingestel is, is ook nie alleen verantwoordelik vir die huidige finansiële dilemma waarin Denel hom bevind nie.

“Die staat het ʼn onmiskenbare aandeel daarin gehad deur korrupte raadslede in die verlede aan te stel en deur toe te laat dat staatskaping en korrupsie onder hul neuse plaasgevind het. Nou moet eerlike werknemers instaan vir die staat se onbevoegdheid deurdat hulle net gedeeltelik of glad nie salarisse ontvang nie en daar selfs ʼn verwagting is dat hulle hul salarisse sal opoffer,” het hy gesê.

Volgens Denel se bestuur ondersteun die staat die omkeerplan wat opgestel is om homself uit die penarie te red, maar anders as die sinkende skip van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), stel die staat klaarblyklik nie belang om Denel by wyse van finansiële bystand uit sy verknorsing te help nie.

In die hofstukke wat teen Denel voorberei is, eis Solidariteit dat Denel alle uitstaande salarisse en betalings aan derde partye, soos vervat in wetgewing en indiensnemingskontrakte, teen nie later nie as 3 Julie moet betaal.

“Die staat se onvermoë om hierdie skip te stuur het ons met geen ander keuse gelaat as om weer die hof te nader nie. Die staat het die kans om ʼn tweede SAL en Eskom te vermy, maar hul huiwering om werklik die omkeerplanne te ondersteun deur dit te finansier is stadig maar seker besig om Denel in dieselfde rigting as die ander staatsbeheerde instellings te stuur.

“Die staat moet verantwoordelikheid vir sy foute aanvaar en dit nie op werknemers afskuif nie.”

Die vakbond Uasa het vroeër ook gesê dit is skokkend dat lojale werkers hulself nou in ʼn desperate posisie bevind om Denel nie sy verantwoordelikhede teenoor hulle kan nakom nie. Die vakbond het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, ook gevra om dringend in te gryp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Dit is werklikwaar hartseer. ‘n Jaar of twee gelede het meeste Denel werkers kospakkies aan die minder bevoorregtes uitgedeel via kerke en ander instansies. Nou staan ons in daardie rye met bak hande.

Althes ·

Denel was soos baie SOE’s was baie jare gelede trotse instellings, nou is dit net die beendere wat oorgebly het, nadat gulsige, gierige regstellende aksies die instellings vernietig het.

Stefan ·

Als waar Althes, asook die voortdurende hoër as inflasie salaris eise terwyl denel op groot verliese werk.

Hekwag ·

Dis ‘n SOC (State Owned Company)…. Is die regering bankrot? Indien so, moet hulle dit wêreldwyd verkondig OF BETAAL!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.