Datum van parlementsopening bekend

Argieffoto

Volgende jaar se parlementsopening sal op Donderdag 7 Februarie plaasvind, het die parlement Woensdagmiddag aangekondig.

Dit is ʼn week vroeër as gewoonlik, en word gesien as ʼn aanduiding dat parlementslede hard moet gaan werk om die nodige wetgewing deur die prosesse te kry voor die verkiesing.

Pres. Cyril Ramaphosa sal dus die staatsrede op 7 Februarie lewer, wat aan hom die perfekte geleentheid bied om die verkiesingsdatum aan te kondig en dan ʼn verkiesingsgerigte toespraak te lewer. Die opposisie sal dié toespraak moet aanhoor en eers op Dinsdag 12 Februarie, vyf dae later, met die aanvang van die debat oor die staatsrede, in die parlement daarop kan reageer.

Die verwagting is dat die datum van die algemene verkiesing in daardie week aangekondig sal word, omdat die laaste geleentheid vir kiesersregistrasie van 26 tot 28 Januarie sal plaasvind, en die kiesersrol sluit sodra die verkiesingsdatum afgekondig word.

Daar sal aansienlik minder druk op Ramaphosa wees vir vanjaar se staatsrede as dié van verlede jaar wat gestaan het in die teken van die ANC se beëindiging van pres. Jacob Zuma se ampstermyn.

Die verwagting is dat Ramaphosa sal fokus op onlangse ekonomiese groei, buitelandse beleggings, stappe teen staatskaping en die aanstelling van ʼn nuwe bestuur vir staatsbeheerde ondernemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Al ·

Ons sal nou harder as ooit moet bid dat eiendomsreg beskerm moet word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.