Datum vir DA-hofsaak teen Gigaba en Dlamini bekend

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake. Foto: GCIS

Die hooggeregshof in Pretoria sal op 11 Maart aanstaande jaar die DA se aansoek aanhoor dat die voortgesette kabinetslidmaatskap van ministers Malusi Gigaba en Bathabile Dlamini onwettig is.

Mmusi Maimane, DA-leier, het die aankondiging vanoggend voor die parlementêre perskorps gedoen en terselfdertyd vir pres. Cyril Ramaphosa gevra om albei ministers in elk geval vroegtydig – trouens onmiddellik – af te dank.

Dit volg daarop dat sowel Gigaba as Dlamini – in heeltemal afsonderlike sake – deur die hof daaraan skuldig bevind is dat hulle onder eed gelieg en die Grondwet oortree het. Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het ook verlede week bevind Ramaphosa moet dissiplinêr teen Gigaba optree.

In Dlamini se geval hou die bevindings verband met haar hantering van die uitbetaling van welsynstoelaes, en die leuens wat sy aan die konstitusionele hof vertel het om haar teen die gevolge van haar dade te probeer beskerm.

In Gigaba se geval handel dit oor sy optrede in die Fireblade-saak waarin ʼn maatskappy van die Oppenheimer-familie ʼn doeanefasiliteit by die OR Tambo-lughawe wou bedryf.

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Maimane het vanoggend gesê 264 dae ná Ramaphosa se bewindsoorname het daar van sy belofte van skoon regering dadels gekom. Hy behou steeds ministers onder verdenking in sy kabinet omdat hy eenheid in die ANC bo alles ag.

Gegewe die hofbevindings teen Gigaba en Dlamini sal die DA aanvoer hul voortgesette lidmaatskap van die kabinet is irrasioneel en ongeldig, het Maimane aangedui.

Hy het hom ook uitgespreek teen die gewoonte van ANC-ministers om die belastingbetaler te wil laat opdok vir hul regsprobleme. So byvoorbeeld beloop oudpres. Jacob Zuma se regskoste nou al R15 miljoen.

“Waar gaan hy ooit die geld kry om daardie regskoste te betaal? Hy is ʼn pensioenaris sonder bates,” het Maimane oor Zuma gesê.

Volgens Maimane is Dlamini se enigste houvas dat sy presies weet waar die ANC se geraamtes begrawe lê, en dis volgens die DA nou maar eenmaal nie genoeg rede om haar in die kabinet te hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johanna Botha ·

Baie skade gemaak aan die land ! En niks gebeur met hulle !

Johann cb ·

Hulle sal wéér alles ontken…
Maar…
Gebruik die regte skietgoed, en hulle sal sing soos kanaries…

Alida ·

Dis goeie nuus daai 2 moes trouens NOOIT eers daar gewees het nie.

jean ·

Ai tog!…..en tot dan leef ons steeds soos konings ……….en dan sekerlik weer “gesuspend” met volle salaris vir die volgende 2 jaar…

JZ ·

Net n goue hand druk van n paar miljoen , en n nuwe pos waar hulle die vernietigings werk kan voort sit.

SjN ·

Comrade aansteliings het gefaal en daar is nog baie sulke gevalle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.