Dawerende stilte oor Oktober-skoolvakansie

Daar is steeds geen duidelikheid oor of die Oktober-skoolvakansie geskrap word nie. (Argieffoto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die onderwysvakbonde Naptosa, Natu, PEU, Sadtu en SAOU sê in ʼn gesamentlike brief aan die minister van onderwys, Angie Motshekga, dat hulle duidelikheid vereis oor die departement se besluit om die Oktober-skoolvakansie te skrap.

Die departement het Donderdag alle belanghebbendes gevra om hul steun te gee aan planne om verlore onderrigtyd weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande ontwrigtings in te haal. Een van dié planne is om die Oktobervakansie te skrap en die derde en vierde kwartaal met net ʼn langnaweek te skei.

Die vakbonde het Donderdag oor die kwessie vergader en sê dat die departement hulle tot op hede nog glad nie in die saak geken het nie. Hulle het op sosialemediaplatforms van die besluite te hore gekom.

Al die vakbonde sê hulle het geen uitnodiging ontvang om insette te lewer oor ʼn wysiging aan die skoolkalender nie.

Luidens die brief het die departement Dinsdag met beheerliggaamorganisasies vergader en die terugvoer wat vakbonde ontvang het, is dat dié organisasies ook nie ten gunste van die skrap van die Oktobervakansie is nie.

Die vakbonde eis nou dringende terugvoer van die departement en het die brief Donderdagmiddag boonop spesifiek aan Motshekga gestuur.

“Ons het baie meer vertroue in die minister as in haar amptenary. Dit is nie die minister se styl om só op te tree nie. Die vakbonde beskou haar as iemand wat uit die klaskamer kom, wat verstaan wat in klaskamers en in die harte van onderwysers gebeur,” sê Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

Die brief aan Motshekga lui dat die vyf vakbonde ten volle daartoe verbind is om te verseker dat die leerplan ten beste gedek word, asook om ʼn vriendskaplike verhouding met die departement te handhaaf.

Vakbonde sê ook die kalenderkomitee het geen kennisgewing aan hulle gegee nie en dat die komitee – wat besluit oor die skoolkalender – die afgelope twee maande nie eens vergader het nie.

Klopper bevraagteken dit ook of vyf dae enigsins hond haaraf gaan maak om agterstande – waar en indien dit wel bestaan – in te haal.

Hy sê skole moet ingevolge ʼn opdrag van die departement hul puntestate vir alle leerders van gr. R tot gr. 11 voor die einde van November indien. Skole benodig minstens ʼn week om dié puntestate af te handel, wat beteken in die eerste sowat twee weke van Desember, voor die skole amptelik sluit, gaan daar niks by skole aan nie.

“Die departement dwing skole in daardie posisie. Ons voorstel is om alles net ʼn bietjie aan te skuif en op dié manier kan enige agterstande ingehaal word.”

Klopper sê ook die sogenaamde kombersbenadering vir alle skole deug nie, aangesien talle skole wel op datum met die leerplan is. Die vakbond doen tans ʼn opname onder sy lede om te bepaal of daar enige agterstande is en indien wel, wat die omvang daarvan is.

Hy sê wetgewing maak dit duidelik dat ʼn behoorlike oorlegplegingsproses gevolg moet word en rasionele en objektiewe redes vir ʼn besluit soos dié gegee moet kan word.

“Daar is geen ingeligte grondslag nie, want hulle het nie met ons beraadslaag nie.”

Vakbonde is boonop geregtig daarop om alternatiewe voorstelle te maak, waarop die departement dan skriftelik moet reageer. Die proses is nie gevolg nie. “Ons is nog nie by die punt waar ons die sneller gaan trek met litigasie nie, maar moontlike litigasie is in die hele proses vervat,” sê Klopper.

Hy bestempel die situasie as ʼn magspel, maar sê vakbonde wil nie in ʼn armdrukoefening betrokke raak nie.

Klopper sê daar kan in die huidige omstandighede boonop nie net na kurrikulumdekking gekyk word nie, aangesien die land hom nie in ʼn gewone situasie bevind nie en ander faktore, soos geestelike welstand, ook in berekening gebring moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anoniem ·

Sy het seker groot geskrik toe al die “vakbonde” op haar toegesak het, daarom dat
alles nou doodstil is. Gee haar kans om eers te herstel.

Ek sê maar net ·

Kom gee ‘n week saam met my klas wanner die kinders moeg is. Mens bereik niks. Meeste matriek onderwysers het d jr nog net ‘n week “af” gehad, want ons het deur d April vakansie e Julie vakansie aangegaan met klasse om tyd te wen “vir ingeval…” Deur daai een week af, is gemerk. So ja, weereens maklik om v d kantlyn te praat.

Dries ·

Tipies anc sal daar dawerende stilte wees,en dan n week voor die tyd met groot fanfare aankondig daar sal wel vakansie wee.Om die shine te vang mos.Is hulle styl.

Casper ·

Hierdie aangeleentheid moet deur alle rolspeler met groot omsigtigheid hanteer word.Covid en ander faktore het leeinge geestelik sfgetakel aangesien geen sport kon plaasvind nie.Dit opsig self ontlaai frustrasies en kinders sal nooit weet wat hulle vermoëns op sportgebied sou wees nie.Ek glo die kinders kort ‘n breek.

Jan ·

Ouers het lankal disipline, asook erns met hul kinders se skolastiese opleiding verloor. Al wat gaan gebeur, as die vakansie gekanselleer word, is dat ouens gaan eenvoudig hul kinders met vakansie neem/uit die skool hou en die stomme onderwysers gaan in elk geval nie kan vorder met die leerplan nie, as gevolg van ‘n magdom afwesigheid.

lodewyk ·

Daar is baie kinders wat hard werk vir hulle punte en ook uitgeput raak,om nou vir 2 termyne aan mekaar te wil gaan is rof,nee wat sal dan sorg dat my kind n tyd afvat!!

Barney ·

Weet maar net dat as daar ń vakansie is gaan cyril weer lockdown level 4 of Gauteng and KZN travel sluit. Jy sien hulle wil nie hê dat jy vryheid het nie so hulle gebruik vrees pornografie oor die verkoue om jou gevangene te hou.

koos10 ·

Ironies dat hierdie bom gelos word, presies dieselfde tyd dat die aanlyn aansoeke op die hoogtepunt van gemors is. Ek sê nog steeds dat die regering meesters is om aandag af te lei van probleme deur onsinnige dinge in die openbare dormein in te gooi!

Danie ·

Ek stem vir twee skoolvakansies per jaar.
Orals waar ek gaan sien ek skool ouderdom kinders rondlê en rondhang vir kwaadgeld.
Kinders wat bedel by die verkeersligte het veelvuldig toegeneem en geen wetstoepasser doen iets aan die verkeersgevaar wat geskep word nie.
Dis tyd dat hulle nie net teruggaan skool toe nie maar verlore tyd inhaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.