Dawie Roodt-aanval: ‘Sy gemoed is goed’

Danielle en Dawie Roodt. Foto: Facebook

Danielle en Dawie Roodt. Foto: Facebook

Die bekende ekonoom en TV-aanbieder Dawie Roodt (54) is Sondag vir ʼn tweede keer geopereer nadat hy en sy gesin Donderdagaand deur rowers in hul huis oorval en hy aangerand is.

Danielle Roodt (26), Dawie se dogter, het Maandag aan Maroela Media gesê haar pa word steeds in die hoësorgeenheid van die Pretoria-Oos hospitaal behandel. Hy het ʼn erge besering aan sy arm opgedoen nadat hy vermoedelik met ʼn panga gesny is. “Die tweede operasie om die senuwees in sy arm te heg, was ʼn groot sukses,” het Danielle gesê. “Die dokters is baie tevrede en hulle hoop dat hy nie nog ʼn operasie aan die arm sal nodig hê nie.”

Danielle het gesê die wond wat haar pa agter sy kop opgedoen het, is nie baie ernstig nie en kon met steke geheg word. “Hulle hou hom nog in die hoësorgeenheid omdat hulle hom daar beter kan monitor en sy pyn beheer, maar hy sal seker binne die volgende paar dae na ʼn algemene saal geskuif word. Hy is baie moeg en slaap baie, maar wanneer hy wakker is, is sy gemoed goed en waardeer hy die mense wat vir hom kom kuier.”

Dawie Roodt in die hospitaal. Foto: Verskaf

Dawie Roodt in die hospitaal. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig Danielle het omstreeks 20:00 by die gesin se huis in die Luberon-veiligheidslandgoed aangekom, toe sy deur vier gewapende rowers oorval is. Hulle het haar in die huis ingedwing waar hulle haar, haar pa, haar stiefma Marina en haar tweejarige sussies aangehou het.

“Ons was eintlik almal nogal kalm, want ons wou nie [die rowers] aggressief maak nie,” het Danielle gesê. “Hulle het gefluister en net vir ons gesê ons moet stilbly. Ek het net heeltyd gedink, hierdie gaan nou verby wees, hierdie gaan nou verby wees. Ek het gedink solank hulle ons nie seermaak nie, kan hulle maar vat wat hulle wil en gaan. Eers toe ons by die hospitaal kom, het ek besef wat gebeur het en in skok in gegaan.”

Volgens Danielle is die gesin nog steeds getraumatiseerd deur die ervaring, maar het hulle reeds die veiligheid om hulle huis opgeskerp. “Ons is maar nog baie ‘gerattle’ en as ek terugdink aan wat gebeur het, vang dit my weer. Maar daar is baie mense wat nou om ons is om ons te ondersteun en ons word omtrent nie eers toegelaat om êrens heen alleen te gaan nie. So ons probeer maar om dit te verwerk en net weer in roetine te kom. Ons is baie dankbaar dat dit goed gaan met my pa en dat die res van ons nie iets oorgekom het nie.”

Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Lees alle berigte oor Dawie Roodt op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Geraldine ·

JA, SODAT N AANKLAG VAN MOORD OOK VIR DIE VOLGENDE 10 JAAR OOR HUL KOPPE KAN HANG.

A. van den Berg ·

Ons moet ophou om bang te wees vir moord klagte. Om apaties op te tree gaan nie help nie. Dawie is my held maar hy kan volgende keer nie so gelukkig wees nie Geraldine.

Johan ·

Dit is opvallend dat die aanval op Dawie Roodt soveel aandag in die pers kry as mens dit sou vergelyk met die aandag wat gegee word aan mense wat vir die land se kos moet sorg. Neem as voorbeeld die geval van Johannes Kritzenger. Die plaasaanval is oor berig en geen verdere beriggewing ten opsigte van sy huisige toestand word eers genoem nie. Mens wonder waarom `n ekonoom wat die vleis op sy bord van Johannes en ander boere se plase kry soveel aandag kry.

Christo Visagie ·

Johan die hoogste bome vang altyd die meeste wind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.