Dawie Roodt terug by die huis

Dawie Roodt. Foto: Facebook

Dawie Roodt. Foto: Facebook

Dawie Roodt (54), hoofekonoom van die Efficient Group en bekende TV-aanbieder, is uit die hospitaal ontslaan.

Roodt is byna ʼn week in die hoësorgeenheid van die Pretoria-Oos-hospitaal behandel nadat hy beseer is in ʼn struweling met gewapende rowers wat hom en sy gesin in hul huis oorval het. Roodt het ernstige beserings aan sy boarm opgedoen nadat die rowers hom met ʼn skerp wapen gesny het. Hy het ook ʼn snywond agter sy kop opgedoen.

Danielle Roodt (26), Dawie se dogter, het aan Maroela Media gesê die gesin kon haar pa Woensdag omstreeks 08:30 by die hospitaal gaan haal en huis toe neem. “Hy was net een dag in ʼn algemene saal vir waarneming en toe het die dokters gesê hy kan maar huis toe gaan. Ons is baie bly om hom terug by die huis te hê.”

Volgens Danielle is Dawie nog tot volgende week afgeboek en sal hierdie tyd benut deur soveel moontlik te rus. “Hy word nog baie moeg, so hy slaap baie. Hy sal dalk ʼn bietjie van die huis af werk, maar ek dink hy gaan maar rustig wees. Hy sal van volgende week af met fisioterapie begin,” het sy gesê.

Intussen het kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die polisie, bevestig dat ʼn misdaadbekampingsorganisasie van Nelspruit in Mpumalanga ʼn beloning van R50 000 uitgeloof het vir enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei. Van der Merwe het egter gesê die beloning is nog nie amptelik uitgeloof nie omdat dit eers deur die polisie se provinsiale hoofkantoor goedgekeur moet word.

“Niemand is nog [in verband met die voorval] in hegtenis geneem nie, maar die ondersoekspan volg tans alle moontlike leidrade op,” het Van der Merwe gesê.

Lees alle berigte oor Dawie Roodt op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda Blom ·

So dankbaar dat dit beter gaan met hom – baie sterkte!

Charl Viljoen ·

Ek het net ander dag sit en kyk na Dawie se onderhoud met Rian van Heerden op Rian. Ek het toe al gedink. Dawie Roodt. Wat n aanwins vir Suid Afrika. Jy is n waare aanwins vir die land Dawie. Ek is so jammer oor wat met jul gebuer het en baie bly dat jy nou beter word. Ek onderstuen jou kommentaar 110% In Suid Afrika het ons baie leiers van jou kaliber en die manne moet op staan soos jy en die land lui na ekonomiese welvaart sodat elke burger in die land n beter toekoms het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.