DBO reageer ná merkriglyne op sosiale media beland

Argieffoto.

Die departement van basiese onderwys (DBO) het Donderdag gesê daar is geen rede om die integriteit van die eerste Wiskunde-matriekeindeksamenvraestel in twyfel te trek nie.

Dit kom ná verskeie weergawes van die nasienriglyne wat verband hou met dié eksamenvraestel op sosiale media versprei is.

“Die DBE wil graag kandidate inlig dat dit nie gesien moet word as dat die integriteit van die vraestel in gedrang gebring is nie,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê.

Mhlanga het gesê die vraestel is op 27 Oktober geskryf en die nasienriglyne is – soos die gebruik is – ʼn paar uur ná die vraestel openbaar gemaak. ʼn Paar matrikulante was glo laat vir die vraestel as gevolg van die Swart Maandag-optogte in Tshwane.

“Hoofmerkers en interne moderators is versoek om die standaard van die vraestel en die nasienriglyne te evalueer en hul insae te gee gebaseer op ʼn steekproef van die vraestelle wat deur hulle gemerk sal word,” het Mhlanga gesê.

Volgens die departement word dit gedoen ter voorbereiding van die nasionale nasien-standaardiseringsvergadering wat gehou sal word waar nasienriglyne gefinaliseer sal word.

Onderwysers moes ook die antwoorde uitwerk om die regverdigheid en moeilikheidsgraad van die vraestel vas te stel. Mhlanga het laat hoor dat onderwysers glo nadat hulle hierdie riglyne opgestel het, dit op verskeie sosiale media platforms geplaas het waar die publiek toegang daartoe gehad het.

Die DBE het gesê op ʼn paar van die weergawes van die nasienriglyne wat versprei word, is daar kommentare opgeskryf wat bevestig dat dit deel was van ʼn gespreksdokument wat bymekaar gesit word vir die nasien-standaardiseringsvergadering.

“Dit is onvanpas vir die dokumente om in die publiek beskikbaar te wees omdat die merkery nog nie begin het nie. Ons moet egter aandui dat die beskikbaarheid van die dokumente nie beteken die integriteit van die vraestel is in gedrang gebring nie.”

Die DBE het verder aangedui dat hulle die omstandighede wat tot die verspreiding van die dokumente gelei het sal ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.