DBV duur medisyne, entstowwe kwyt toe krag afgaan

(Argieffoto: Unsplash)

Die Dierebeskermingvereniging (DBV) in Kempton Park, Gauteng, het ʼn groot terugslag beleef toe hy duisende rande se medisyne en entstof moes weggooi weens ʼn kragonderbreking.

ʼn Groot deel van Kempton Park se krag het verlede Maandag afgegaan. Dele van die stad se kragtoevoer is eers teen Donderdag ten volle herstel.

Volgens Jean Kriek, VF Plus-raadslid in die Ekurhuleni-metroraad, het een van die drie transformators van die metro se hoofkragvoerlyne die gees gegee. Dit volg nadat een reeds begin Desember onklaar geraak het en die kraglyn vir ʼn maand lank op slegs twee werkende transformators moes funksioneer.

Die reën het ook oponthoud met die herstel van die transformators veroorsaak.

Volgens Simon Lapping, ʼn wyksraadslid van die Ekurhuleni-metroraad en ook ’n komiteelid van die betrokke DBV, het die DBV na raming meer as R3 000 se skade weens die kragonderbreking gely.

“Die organisasie beskik nie oor ʼn kragopwekker nie en die medisyne en entstowwe wat in yskaste koud gehou moet word, kan nie meer gebruik word nie,” het Lapping gesê.

“Die diere se kos is meestal droë kos wat nie koud gehou moet word nie. Van die personeellede se kos – wat in die vrieskaste op die perseel gestoor is – het egter bederf.”

Volgens Lapping was die Covid-19-pandemie reeds ʼn groot terugslag vir DBV en die organisasie moes hard werk om weer genoegsame geld in te samel. “Enige klein terugslag soos hierdie sit die DBV finansieel weer twee treë terug.”

Lapping sê organisasies het intussen aangebied om ʼn kragopwekker aan die DBV te skenk indien daar weer ’n kragonderbreking is.

Kriek sê gereelde kragonderbrekings het verlede jaar reeds in die metro voorgekom weens infrastruktuur wat nie onderhou word nie.

“Die Ekurhuleni-metroraad is in die proses om die verouderde kragnetwerk op te gradeer, aangesien die voormalige ANC-plaaslike regering dit nooit behoorlik onderhou het nie,” sê Kriek.

Lapping sê sowat R150 000 word maandeliks bestee om die DBV se deure oop te hou. Hoewel die organisasie donasies en steun van die munisipaliteit en plaaslike organisasies kry, is hy nou meer as ooit afhanklik van donasies van die publiek. Donasies aan die DBV kan hier gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Dit alles te danke aan swak dienslewering waarvoor te duurste betaal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.