DBV gaan leeuplaas besoek ná tweede aanval

(Foto: Twitter)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sê hy gaan ʼn inspeksie by die Weltevrede-leeuplaas in die Vrystaat doen, waar leeus twee mense binne ʼn week tydens begeleide toere aangeval het.

In die jongste voorval is die vierjarige Dinamari de Beer Sondag ernstig beseer toe ʼn leeu haar pa, Pieter, aangeval het. Klein Dinamari was in Pieter se arms in ʼn kamp by ʼn leeuwelpie toe die voorval gebeur het.

Die jong leeu was in ʼn aangrensende kamp en het Pieter van agter deur ʼn draad gegryp. Dinamari is ernstig in die voorval beseer en was die afgelope week nog in ʼn kunsmatige koma.

Enkele dae tevore is ʼn man beseer toe ʼn leeu hom beetgekry het waar hy voor ʼn heining gehurk het.

“Ons kan bevestig dat die NDBV die fasiliteit, in lig van die jongste aanval, gaan besoek,” het Douglas Wolhuter, ʼn senior inspekteur en bestuurder van die NDBV se wildbeskermingseenheid, gesê.

Weltevrede-leeuplaas bied begeleide toere aan besoekers deur hulle leeukampe. Besoekers kan onder meer in ʼn kamp saam met ʼn leeuwelpie ingaan.

“Die NDBV is gekant teen wildlewe-interaksies van dié aard, nie net omdat die wilde diere ʼn bedreiging vir mense inhou nie, maar ook omdat hulle juis dít is: wilde diere wat in die wildernis hoort,” het Wolhuter gesê.

“Te oordeel aan die toename in aanvalle wat aangemeld word, is dit duidelik dat die diere moontlik verhoogde stresvlakke ervaar.”

Wolhuter het gesê volgens die standaarde wat die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde stel en wat dieretuine volg, moet daar genoeg versperrings wees om voorvalle soos dié te voorkom. “Baie van die leeuplase het nie die maatreëls ingestel nie.

“Daar is ʼn siklus waarvan die publiek en toeriste bewus moet wees voordat hulle sulke wildelewe-interaksie-fasiliteite ondersteun. Welpies word dikwels op ʼn jong ouderdom van hulle ma’s weggeneem sodat mense met hulle kan speel. Wanneer die welpies ouer word, word hulle soms gebruik vir sogenaamde stap-met-leeus-uitstappies. Ouer leeus eindig dikwels as die slagoffers van geblikte jag.

“Dit stop ook nie daar nie. Die bene van dié leeus is dikwels bestem vir die leeubeenhandelbedryf,” het Wolhuter gesê.

“Ons glo die plaaslike owerhede wat die permitte aan sulke vermaakfasiliteite uitreik, moet meer verantwoordbaar gehou word wanneer hulle dit doen. Om ʼn permit toe te ken om aktiwiteite soos dié toe te laat, plaas ʼn groot verantwoordelikheid op die owerhede én die eienaars van die fasiliteit.”

Wolhuter het gesê die NDBV bly besorg oor die departement van omgewingsake se beleid wat leeubeenboerdery toelaat, maar nie regulasies of standaarde het wat voorsiening maak vir die diere se welstand en sorg in aanhouding nie.

Dit word van die NDBV verwag om na die diere se welstand om te sien, maar die organisasie word gebind deur die Wet op Dierebeskerming. Daar is ook nie behoorlike regulasies oor leeuboerdery nie, het Wolhuter gesê.

Maroela Media het die provinsiale departement van omgewingsake om kommentaar genader, maar wag steeds op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandy ·

…dit is duidelik dat die diere aan verhoogde stresvlakke ly”, dis of dit of dit kan wees omdat leeus eintlik WILDE diere is, en die feit dat die mense so naby aan die heinings staan vir selfies, hulle stresvlakke die hoogtes laat inskiet.

Cobus ·

Ek was al menige kere op daai plaas en het al gesien hoe mense hul arm deur die heining steek en dan word verwag dat die leeus nie gaan reageer nie,mense doen soms dom dinge Ek glo dat alle veiligheid op daai plaas in plek is ,as die persoon van agter gegryp is dan moes hy moontlik teen die heining gerus het

Hb ·

Ek weet ni hoe lyk daardie leeupark ni, maar was onlangs by n park met dubbel drade. Dit hou di mense weg met n draad van di leeus se draad af. Onthou mense is blerrie stupid. Dis realiteit.

Anoniem ·

Ek gaan met jou stry ons was ook al op daaiselfde plaas geen veiligheid maatreels was op plek nie. Jammer hul is arrogant om nou die slagoffer of die leeus die skuld te gee. As jy se die maatreels is in plek kon hy mos nie teen die draad staan en die leeu by hul uit kom nie. Se maar net …………

Andreas ·

‘Leeubeenboerdery’, dit is nou al tot waar ons etiek gesink het. So kan ons aan nog ander name van organe dink waar ons die naam ‘boerdery’ wil koppel om dit sag op die oor te laat klink. En dit is vir geen oomblik teen die skryfster van die artikel gemik nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.