DBV gryp in by mishandelde perde in Vrystaat

Een van die perde wat in Edenburg aangetref is (Foto: Bloemfontein SPCA, Facebook)

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein het verlede week drie erg mishandelde perde in twee afsonderlike voorvalle in haglike omstandighede aangetref. Een van dié perde moes intussen weens die aard van sy besering van kant gemaak word.

ʼn Besorgde inwoner het die DBV Dinsdag genader oor twee perde in Edenburg wat volgens ooggetuies erg mishandel was.

“Die perde is na bewering redelik dikwels en vir lang afstande gery deur nie net een mens nie, maar minstens drie, soms selfs vier mense, op een slag,” sê Tebogo Maswanganye, ʼn inspekteur by die DBV.

“Die perde was erg verswak met oop sere op hul rûe.”

Volgens die DBV is die perde meestal bloots of met die verkeerde saals gery en het hul wonde gebloei. Die diere was ook maer en ondervoed.

“ʼn Mens kon die hartseer en pyn in hul oë sien.”

Maswanganye sê die eienaar van die perde kon nog nie opgespoor word nie.

Die perd wat intussen van kant gemaak is weens die aard van sy beserings (Foto: Bloemfontein SPCA, Facebook)

“Die perde is tans in die sorg van die DBV. Hulle word goed versorg en ʼn mens kan nie meer hul ribbebene sien nie. Ons probeer nog die oop wonde op die rug van een van die perde dokter.”

Nóg ʼn mishandelde perd is ʼn dag later in ʼn informele nedersetting in Bloemfontein aangetref en word nou deur die DBV versorg. Die perd het ʼn karretjie met baie swaar materiale, soos kruiwaens, ʼn ou yskas, ʼn wasbak en swaar pale, getrek.

Hoewel die perd reeds mank geloop het en sy linkeragterbeen bykans gesleep het, het dit nie die eienaar gekeer om die dier te gebruik om die swaar vrag te trek nie.

“Die arme dier was uitgeput en het hopeloos weerloos gelyk.”

Daar was ook nie ʼn waterbak in sig nie.

“Die perd het dors gelyk en swaar asemgehaal. Hierdie soort behandeling is wreed en onaanvaarbaar.”

Die perd moes intussen deur die DBV van kant gemaak word omdat die dier in ʼn uiters swak toestand was.

“Hy was al heeltemal blind in sy linkeroog en sy regteroog was ook besig om in te gee. Ons het geen ander keuse gehad nie.”

ʼn Saak van dieremishandeling is teen die eienaar van die perd aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Toffie ·

Om dit te lees maak my siedend van woede, sommiges het net mooi géén ontsag of gevoel vir enige lewende wese nie.

Astrain ·

Ons sien dit so dikwels op die platteland, kinders en diere wat in haglike omstandighede moet lewe en nie hulself kan verdedig nie…die beskaafdheid van ‘n nasie word gekenmerk deur HOE hulle die weerloses in die samelewing, behandel…

Debbie ·

Sluit die eienaars toe vir n paar jaar. Hulle verdien nie om n dier te he nie

Jakes ·

As menselewens deesdae niks beteken nie, wat se kans staan n weerlose dier? Hulle hoort lewenslank in tronke opgesluit te wees.

Plaaskind ·

Wreedaardig, sommige mense behoort nie eens ‘n kakkerlak aan te hou as troeteldier nie.

Elmarie ·

Nie eers berig gelees, foto’s genoeg om my te laat huil. Asb mense as jul so iets ooits sien, bel dadelik DBV

LiveAndLetLive ·

Daar sal maar n wet ingestel moet word vir diere in hierdie areas, honde lyk net so erg mishandel – hulle kan en wil en sal nooit na diere omsien nie.

Tanniepetoors ·

Stadig nou, jy veralgemeen nou. Liefde vir diere is universeel en nie beperk tot velkleur. Hoe jy jou diere kan versorg hang af van jou beursie se vermoë. Bedink bietjie weer daai “Live and let Live”. Aanhaling reg of verkeerd, my ma het dikwels as sy ‘n bedremmelde bedelaar sien gesê:”But for the grace of God, there go I”

JM ·

Hierdie soort optrede bewys duidelik dat beskaafdheid totaal afwesig is. Emosioneel siek en wreed!

Danny ·

NEE!! Dankie aan DBV en soorgelyke organisasies – mag ons elkeen ons eie area se instansies ondersteun en seker maak hulle deure bly oop. En dit net oor die sogenaamde mense nie kan omsien na God se Skeppingswerke nie. SIES!

kallie ·

Ek word naar,sien ligflitse en dan word ek so siedend kwaad dat ek ‘n luislang sal kan vang! O

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.