DBV ‘hoopvol’ in soektog na bebloede honde op bakkie

Die verdagte se voertuig. Foto: Nico Pieterse / Facebook.

Die verdagte se voertuig. Foto: Nico Pieterse / Facebook.

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die Sandton Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Donderdag gesê hy doen steeds alles in sy vermoë om die bebloede honde op te spoor wat Dinsdag agter op ’n bakkie in Johannesburg vervoer is en glo reeds landuit is.

“Ons is hoopvol om die diere op te spoor nadat ons vandag nuwe inligting ontvang het en mag dalk net die geluk hê wat ons benodig,” het die organisasie gesê. “Ons sal almal op hoogte hou van verwikkelinge sodra ons ons feite met ons dierewelsyngroepe oor die grens bevestig het.”

Die DBV het almal bedank vir hul besorgdheid, betrokkenheid en ondersteuning.

Maroela Media het vroeër berig die DBV het ʼn aantal partye geïdentifiseer wat betrokke was by die voorval.

Volgens die DBV is daar ná uitgebreide ondersoeke saam met die Yeoville SAPD en IRS Forensic Investigations vasgestel dat die oortreders met die honde landuit gevlug het. “Ons informante en ooggetuies het ons in kennis gestel dat die verdagtes in die vroeë oggendure bewus gemaak is van die soektog na hulle waarna hulle in ʼn ander voertuig gevlug het,” het die organisasie vroeër gesê.

Foto’s van die voorval het Dinsdag en Woensdag soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei. Nico Pieterse, ʼn motorbestuurder en lid van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch, het die honde gesien, hulle afgeneem en die inligting op sosiale media gedeel. Pieterse het gesê die honde is in ’n verskriklike toestand en is met drade vasgebind. Op sy foto’s kan ʼn mens sien een van die honde het bloed om sy bek. Hy het die bakkie agtervolg en die polisie probeer ontbied, maar die bakkie in die middestad verloor nadat die twee insittendes hom glo in ʼn lokval probeer lei het.

Volgens die DBV werk hulle saam met dierewelsyngroepe oor die grens sowel as grensbeheer in ʼn poging om die honde en verdagtes te vind.

Candice Scorer, algemene bestuurder van die Sandton DBV, het Woensdag aan Maroela Media gesê hulle beskou die voorval as baie ernstig. “Hierdie is ʼn baie unieke geval. Ons vermoed dit hou verband met hondegevegte en as die verdagtes vasgetrek word, sal hulle swaar gestraf word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Neptunus ·

Hoe moeilik kan dit wees?

‘n Wetlike vermoede geld dat die eienaar die voertuig bestuur het, tensy hy anders kan bewys. Kyk op die databasis wie is die eienaar, spoor hom en vra hom wie het bestuur as dit nie hy was nie. Vra hom wat het die diere op sy bakkie gesoek?

Verwag egter min of meer die volgende antwoord: “Angazi…”

Chantell Dj ·

Die Registrasie nr van daai bakkie is lewensgroot.Vind uit wie is die eienaar.Begin op ‘n punt.Watter ander voertuig was dit waarmee hul gevlug het?En dan aan die man wat die foto’s geneem het-GROOT DANKIE… Minderheid mense gee nog om oor Honde.Sekere’s sou net verbygery het en gemaak het of hul dit nie sien nie…Dis waragtig wreed en sinneloos.Hoop die Lae Luise word vasgetrek,en gou ook …

Chantell ·

As jy mooi in zoom in daai foto kan jy die bestuurder se gesig ook min of meer uitmaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.