DBV-inspekteur in Lenasia gekaap

’n Inspekteur van die NDBV is verlede week gekaap (Foto: NDBV)

’n Inspekteur van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) is verlede week deur ’n groep mans in Lenasia, Gauteng, gekaap.

Die NDBV het in ’n verklaring gesê ’n onbekende aantal gewapende mans het die inspekteur, wat in ’n Toyota Hilux-bakkie gery het, oorval. Hulle het die bakkie met belangrike toerusting, onder meer toerusting om diere mee uit te sit, gekaap.

Die inspekteur het fisiek ongedeerd van die voorval afgekom.

Daar was ook geen diere in die voertuig nie.

“’n Saak van motorkaping is by die polisie aanhangig gemaak, maar niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie,” lui die verklaring.

“Ons het ons voertuie broodnodig vir ons werk, aangesien die NDBV regoor Suid-Afrika reis om diere in nood te help – veral in gebiede waar daar geen diereverenigings, dierewelsynsorganisasies of staatsveeartse is nie.”

Die NDBV het ’n maand voor die kaping ’n veldtog geloods waartydens Toyota Suid-Afrika gevra is om vir die vereniging ’n bakkie te skenk. Die veldtog was egter nog nie suksesvol nie.

“Nou kort die vereniging twee bakkies sodat inspekteurs doeltreffend met hul werk kan voortgaan.”

Die kaping volg meer as ’n maand nadat een van die Kaap van Goeie Hoop-DBV se voertuie in Harare, Khayelitsha, gekaap is. Die inspekteur wat die voertuig bestuur het, is deur twee gewapende mans oorval, waarna die voertuig gekaap is.

Die inspekteur wat in die voorval betrokke was, het ongedeerd daarvan afgekom, maar was steeds erg getraumatiseerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mariana ·

Misdaad in hierdie land is regtig totaal buite beheer en misdadigers om elke hoek en draai. Hoe kan enige mens nog veilig voel? Gn wonder mense verlaat die land nie, hulle kan en wil nie meer in vrees lewe nie.

Pampoen ·

Gee vir hulle Ford bakkies, dan sal niemand hulle kaap nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.