DBV ontken gerugte op sosiale media

Argieffoto: https://pixabay.com

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Vrydag gerugte dat 250 diere van kant gemaak moet word omdat die Germiston en Bedfordview DBV sy deure moet sluit, ontken.

Elroy Parkinson, voorsitter van die Germiston en Bedfordview DBV, het in ʼn verklaring gesê iemand het in ʼn plasing op sosiale media beweer die tak gaan sy deure sluit en 250 katte, honde, voëls, hamsters en perde sal dan van kant gemaak word. Die inskrywing het ook beweer dat diere van ander reddingsorganisasies, wat by die DBV geaffilieer is, ook moontlik van kant gemaak sal word.

Parkinson het die bewerings ontken en gesê daar is geen planne om die DBV-tak se deure te sluit nie. Hy het ook beklemtoon dat daar slegs honde en katte by die betrokke DBV-tak aangehou word en dat dit ook nie geaffilieer is by enige dierereddingsorganisasies wat in die inskrywing genoem word nie.

“Sedert die gerugte op sosiale media geplaas is, lui ons telefone sonder ophou en is ons e-pos en sosialemedia-kanale oorval met navrae wat dit moeilik maak vir ons personeel om op elke navraag te reageer. Dit het die kommer van ondersteuners vererger,” het Parkinson gesê. “Die bestuur van die DBV is nie verantwoordelik vir die plasing op sosiale media nie en ons distansieer ons van die inhoud daarvan.”

Parkinson het gesê hoewel die bewerings in die inskrywing vals is, kry die DBV in die algemeen, soos baie ander DBV-takke en onafhanklike reddingsorganisasies, finansieel baie swaar. Hy het gesê dit is egter kommerwekkend dat die inskrywing die werk wat die DBV doen, onderbeklemtoon deur die indruk te wek dat daar slegs na die diere in hokke omgesien word.

“Deur ons ondersoekwerk volg ons elke maand dosyne klagtes van dieremishandeling op, ons help eienaars om hul diere se lewensomstandighede te verbeter of ons vervolg oortreders deur die Wet op Dierebeskerming. Ons inspekteer plekke waar diere aangehou of hanteer word en sodoende help ons nog honderde meer diere elke maand,” het hy verduidelik. “Elke maand steriliseer ons tussen 80 en 120 honde en katte en neem ongeveer 500 rondloper- of ongewenste diere in.”

Parkinson het gesê die Germiston en Bedfordview DBV is vasbeslote om sy deure oop te hou, maar is afhanklik van die publiek se vrygewigheid om dit te doen. “Ons doen ʼn beroep op die publiek om betrokke te raak by hul plaaslike DBV, hul behoeftes te verstaan en aan te sluit by ʼn gemeenskap van weldoeners wat dieremishandeling probeer voorkom en die wêreld ʼn beter plek vir alle diere wil maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lollie ·

Dankie tog dat die gerugte nie waar is nie maar ek wil nou sommer my mening lug oor die algemeen. Baie DBV’s sit baie diere uit omdat hulle te veel word. Indien enigeen dalk ń dier by ń DBV wil aanneem betaal jy ongoddelik baie vir die dier. Ek stem dat dit geld kos om die dier te versorg het en om hom te stereliseer maar hoekom eerder die diere van kant maak as om hulle meer bekostigbaar te maak? Baie goeie ding om al die diere te stereliseer maar almal kan dit nie bekostig nie daarom is daar baie ongewenste diere. Indien sterelisasies bekostigbaar is vir almal sal meer mense dit laat doen en die rondloper diere sal heelwat minder wees. Die besigheid is meer ń kringloop maar bondel op by die DBV omdat hulle wil geld maak. Ek sal gereeld my skenking by hulle maak as almal iets daaruit kry maar hulle lewe basies op skenkings en dan is dit te duur om ń troeteldier by hulle te kry. Jammer maar dit is my mening, weet baie gaan nie met my saamstem nie.

CHRISTA ·

Lollie, dis die GROOTSTE LIEG!! Ek en my man het ons kat by die DBV, Germiston aangeneem. Hy was REEDS gesteriliseer, soos wat die DBV altyd doen en dit het ons het R250 gekos!! Jy kan op hierdie blad lees WAT dit kos om jou kat of hond by ‘n veearts te laat steriliseer – ongeveer R2000!!!

Daniel ·

My persoonlike ervaring met ons plaaslike DBV was nie baie goed gewees nie. Nadat ek een van my honed verloor het agv ouderdom is ek na die plaaslike DBV om ‘n katjie aan te neem. Die prys en die feit dat dit eers gesteriliseer moes word was nie die problem nie. Ek het omgedraai en geloop toe hulle eers wil kom kyk waar my woning geleë is en dan wil hulle eers my erf en woning betree om te kyk of ek wel ‘n dier kan aanhou. Hulle wou nie die Veearts skakel om navraag te doen nie, hulle wou in my woning inkom. So nee, ek persoonlik stel nie meer belang om kos of enigiets aan die DBV te skenk nie.

Lea ·

Ek het ook so w/app boodskap gekry- het hom dadelik uitgevee,dit help nie om vals nuus te versprei nie mens moet maar self besluit wat jy deesdae aanstuur..

Gee krag ·

Lollie wanneer laas was jy by veearts om diere te laat steriliseer. Ek het nou die dag R2000 betaal. Hulle het nie brieke nie. En die welsyn organisasies kry nie verniet by veeartse diens nie. Miskien vyftig rand. Veeartse is die oorsaak dat daar so baie ongewensde diere is. As enigiemand wonder wat om te gaan studeer. Word ‘n veearts.

Mariné Lourens ·

Dagsê Stellie

Dankie vir jou kommentaar. Besoek gerus die Germiston/Bedfordview DBV se webtuiste hier vir meer inligting of om ‘n bydrae te maak.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

E.K. ·

Soos altyd almal BAIE gou om hulhande in die lug te gooi in plaas van in hul sakke steek en donasies gee. Die DBV sukkel. Krugersdorp tak het toegemaak en is almal na Randburg verwys. Randburg kon nie als hanteer en moet Roodepoort tak instaan en net hierdie week was daar ‘n oproep ind ie koerant om hulp vanaf hierdie tak. En die wat so gekerm het toe Kruegrsdorp teogemaak het – het julle al gedink om te “volunteer”? Om aftrekorders te teken vir hulp? Om ELKE maand kos te skenk?

Maria ·

Ek stem volkome saam met E.K. Wonder hoeveel van die erg bekommerde inbellers lewer regtig n bydrae tot die DBV .Soveel mense sit reg om te kritiseer,maar wanneer daar hulp gevra word,verdwyn hul soos mis voor die son.

Tinka ·

Lollie, jy maak onverantwoordelike aannames en stellings na aanleiding van wat jy op sosiale media sien. Dit sonder om die DBV-takke te besoek en self te kyk wat daar gedoen word. Het jy enige bewyse, behalwe onbevestigde “posts” op sosiale media en die media wat jy en ander oningeligtes opslurp? Indien jy dit het, verskaf dit asb? As jy ernstig was om te help sou jy betrokke geraak het en nie verkeerde stories op sosiale media sit nie. Die werk wat hierdie mense doen om diere te red is ongelooflik. As jy werklik wil help, besoek jou naaste tak en ondersteun hulle. Die diere kom eerste.

Neewat ·

Elkeen is geregtig op sy opinie en mense het slegte ervarings met die DBV ook al gehad! Vreemd dat hulle skielik huge skenkings gekry het sedert die vals epos versprei is wat mens maar net laat wonder!! Hoekom help die Nspca wat miljoene op belegging het hulle nie of is die diere nie so belangrik nie? Maak biki julle ogies oop, julle word vir ‘n ride gevat!!

Lollie ·

Dankie Neewat vir jou kommentaar. Bly jy sê elkeen is geregtig op sy opinie. Hier lyk dit partykeer vir my jy moet saam met die stroom gaan anders word jy gestenig! Ek het juis my stelling gemaak ook deur ondervinding maar nou ja!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.