DBV oorstelp oor YouTube-sensasie se skenking

David Scott, ook bekend as The Kiffness. (Foto: Verskaf)

Die R100 000-skenking wat die YouTube-sensasie en sanger David Scott van The Kiffness onlangs aan die Sandton-dierebeskermingsvereniging gemaak het, sal dié organisasie help om meer diere te red en bekostigbare veeartsenydienste te lewer.

Só het Meg Wilson, bestuurder van die DBV, Vrydag aan Maroela Media gesê nadat Scott op 1 Januarie vir die tweede keer  ʼn skenking van R50 000 aan dié organisasie gemaak het.

“Wat ʼn wonderlike manier om die jaar te begin.”

Daar is vroeër berig dat Scott onderneem het om 50% van die totale opbrengs wat hy met sy gewilde herskommelings van katgeluide maak, aan sy plaaslike DBV te skenk.

Wilson het bevestig dat Scott reeds twee betalings van R50 000 elk aan die organisasie gemaak het, waarvan die eerste een in Oktober verlede jaar.

“Ons is oorweldig deur David se vrygewigheid. Hierdie donasies help ons om meer diere te bereik en hulle van lewens vol wreedheid en verwaarlosing te red. Dit help ons ook om ons gemeenskap met bekostigbare veeartsenydienste in verarmde gebiede by te staan.”

Wilson sê die geld sal op verskeie maniere in die organisasie aangewend word – onder meer by die kliniek, dierebehuisingsfasiliteite en die organisasie se inspeksieafdeling.

“Ons ontvang nie gereeld groot bedrae soos dié nie. Ons maak staat op die vrygewigheid van die publiek.”

Wilson sê voorts dat die huidige toestand van die land se ekonomie ’n negatiewe impak op nie-winsgewende organisasies en DBV’s regoor die land het.

Die Sandton-DBV versorg tans meer as 150 diere waarvan die meeste oor die feesseisoen ingeneem is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.