DBV red 100 donkies van wrede einde

Boere het in die omgewing aangebied om die donkies eers in hul krale aan te hou (Foto: Mooir River & District SPCA, Facebook)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het verlede week ’n vragmotor met ongeveer 100 donkies in die Mooirivier-streek in KwaZulu-Natal gered. Die donkies was op pad om vir hul velle geslag te word.

Luidens ’n verklaring uitgereik deur die NDBV, is die organisasie Maandagaand van die vragmotor in kennis gestel. Hulle het die DBV en polisie in Mooirivier gekontak om die vragmotor betyds voor te keer.

“Daar is gevind dat die donkies, wat jong vulletjies insluit, bestem was om vir hul velle in Lesotho geslag te word. Die velle sou later in die donkie-velhandel gebruik word,” sê die NDBV.

Die vragmotor is voorgekeer en ses insittendes is in hegtenis geneem. Die NDBV en polisie is besig om die eienaar van die donkies op te spoor.

Die donkies het ernstige uitwendige parasietinfeksies sowel as oop wonde gehad. Hulle is tans in die sorg van die NDBV geplaas.

Die donkies is tans onder die sorg van die DBV (Foto: Mooi River & District SPCA, Facebook)

“Reëlings is getref dat 36 merries en vulletjies na die Kloof en Hoofweg DBV in Durban geneem word. Die oorblywende 63 donkies is na die Johannesburgse DBV gestuur. Die NDBV sal die betaling vir die onderhoud van die diere behartig totdat hulle eienaar opgespoor kan word.”

Die NDBV het meer as vyf jaar gelede begin met die ondersoek na die donkievelhandel toe groot hoeveelhede donkievelle onverklaarbaar op verskeie plase aangetref is. Later is vasgestel dat die velle gebruik word om ʼn tradisionele Chinese medisyne genaamd “ejiao” mee te maak.

“Die manier waarop die diere hanteer, vervoer, geslag en soms lewend gevel word, is walglik.”

Die NDBV sal als in hul vermoë doen om die onwettige donkie-velhandel stop te sit (Foto: NSPCA, Facebook)

Die NDBV doen ʼn dringende beroep op die departement van landbou, bosbou en visserye om in te gryp en die uitvoer van donkies en donkievelle en -produkte uit Suid-Afrika stop te sit.

Afrika-lande soos Botswana, Senegal en Ethiopië het progressiewe stappe geneem om die toenemende probleem van donkievelhandel die hoof te bied.

Die NDBV sê hy is dankbaar vir die hulp wat Mooirivier DBV, die polisie en die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning om seker te maak die donkies word gered. Die NDBV het ook die Mooirivier Boerevereniging en boere in die omgewing bedank wat kosteloos voer aan die donkies voorsien het.

Die NDBV doen ʼn beroep op die publiek om enige verdagte aktiwiteit of inligting by kantore van die vereniging aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Snowball ·

Die D.R.E.K. wat so met ‘n dier maak moet toegesluit word.

Tiptol ·

In hierdie land beteken ‘n mens se lewe niks, wat nog van ‘n dier se lewe…

Yvonne ·

Siek siek….hoe gaan dit ooit beter word…Net die Heer alleen kan hierdie land red

Rudolph ·

Beesvel, skaapvel, leeuvel, bokvel, sebravel, slangvel, krokodilvel, volstruisvel. Almal deel van dieselfde bedryf. Hoekom op tree teen die donkievel handelaars maar die res kan voortgaan met mishandeling en doodmaak. Is dit ‘n teenstrydigheid of is dit skynheiligheid?

Roedolf Johannes ·

Dit is onaanvaarbaar laat die donkies in n slegte toestand verkeer,maar daar is soveel ander dier wat ook gejag,geslag word net vir die velle.Laat die eienaar aan gekla word van diere mishandeling.Die velle word darm gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.