DBV sê oor dieremishandelingsgerugte by Pta-spogskool

Foto: Facebook.

Die Tshwane-dierebeskermingsvereniging (DBV) het Maandag besoek afgelê by die Hoërskool Menlopark in die ooste van Pretoria nadat gerugte van dieremishandeling tydens die “40 days”-viering aan die lig gekom het.

Carlos Fernandez, senior inspekteur by die Tshwane-DBV, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die DBV kon geen bewyse vind dat diere by die skool mishandel is nie.

“Voorlopige ondersoek dui daarop dat twee hoenders en ses rotte na die skool geneem is. Matriekseuns wou dit gebruik om gr. 8-leerders op die skoolvierkant tydens die viering bang te maak. Slegs twee van die rotte is egter vrygelaat, maar dadelik weer opgetel. Geen ander diere is vrygelaat nie,” het Fernandez gesê.

Die DBV se ondersoek volg ná bewerings aan die lig gekom het dat leerders glo die rotte en hoenders geskop, mishandel en op hulle getrap het as deel van die sogenaamde “40 days”-viering. Dié viering is algemeen in hoërskole en ʼn geleentheid waartydens matrieks die 40ste dag voor die laaste skooldag voor die matriekeksamen vier.

“Ons het ook besoek gaan aflê by die huis waar die rotte as troeteldiere aangehou word en kon geen fout vind nie. Die rotte is mak, het name en is in ʼn goeie toestand.”

Fernandez het gesê wat wel gebeur het, is steeds kommerwekkend en ʼn probleem. Hulle vertrou egter die skool het reg opgetree deur die betrokke leerders wat die rotte by die skool vrygelaat het, te roskam en tugstappe te doen.

“Ons is tevrede dat die voorval reg hanteer is en hoop dit skep bewusmaking by ander skole. As enigiemand beeldmateriaal het van waar ʼn dier getrap of geskop word, of bereid is om beëdigde verklarings af te lê, sal ons die saak verder voer.”

Die skool het ná die DBV se besoek in ʼn verklaring gesê hy het ʼn ondersoekspan saamgestel om die bewerings volledig te ondersoek en ʼn senior onafhanklike regsgeleerde het homself daartoe verbind.

“Ons het ons volle samewerking aan DBV-lede gegee en alle feite tot ons beskikking aan hulle openbaar. Ons behou graag deurlopend kontak met hulle tydens die ondersoekproses. Die DBV is ook welkom om aan die onafhanklike ondersoek deel te neem,” het Louis Cloete, voorsitter van die skool se beheerliggaam, gesê.

“Die beheerliggaam beskou die bewerings in ʼn baie ernstige lig – na albei kante. Sou die bewerings as waar bewys word, sal dit so bekend gemaak word. Gepaste optrede sal volg teen diegene wat hulle daaraan skuldig gemaak het. Maar sou die bewerings as vals bevestig word, sal die beheerliggaam graag nadere ondersoek wil instel na die redes waarom sulke vals berigte versprei is.”

Hy het gesê die taakspan beplan om hul ondersoek teen Vrydag te voltooi, waarna die bevindinge bekend gemaak sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

WL ·

Is dit nie ironies hoe skynheilig die mensdom geword het nie. Hulle kla oor die mishandeling van rotte by ‘n skool, maar by die huis word hulle Rattex gevoer of muisvalle word gestel om van hulle ontslae te maak. Miljoene hoenders word daagliks geslag vir menslike verbruik, maar moet hulle asseblief net nie tussen ‘n groep skoolkinders vrylaat nie, want dit sou mos onmenslik wreed wees.

Dit bly verkeerd ·

Jip dit is, en as jy die doodskop van hoenders of rotte as ‘plaagbeheer’ sien of as ‘n kleinigheidjie is jy net so verkeerd soos die kinders wat dit na bewering gedoen het. Hoekom vat hulle rotte en hoenders skool toe? Daar is GEEN rede nie. As rotte jou huis opvreet is dit plaagbeheer. Erken jy die verskil? Lyk my almal skop nou die goed onder die mat in. More se jy mens mag maar donkies lewendig slag en ook honde want in China doen hulle dit gereeld?

honourable member ·

Die hele storie is weer onder die mat ingevee want aangesien dit nou gesien word as n top skool wil hulle seker nou nie verkeerde indrukke skep nie….. Geen dier verdien om dood geskop te word en mishandel te word nie. Sterkte DBV julle “fight a loosing battle” met sulke sake. Skielik weet niemand niks.

Wonder net ·

Honourable member, gee hulle nou kans tot Vrydag om die ondersoek af te handel en verslag vry te stel.
Ek dink iemand wil net weer onmin saai.
Dit is bewerings en DBV het dadelik gaan ondersoek instel..
Wag geduldig.

Salamander ·

Daar is dit toe nou so. Na berigte en gerugte van diere offerandes en ander Volksvreemde , onheilige aktiwiteite en die Instelling van Onderrig by implikasie skuldig bevind is aan alle aanklagte soos genoem, word hulle toe begenadig deur die instansie wat die slagoffers verteenwoordig, tot groot ontstelling van die bystanders en toeskouers! Hoe durf hulle ‘n goeie storie so bederf met feite en ‘n deeglike ondersoek!

Ronel ·

En ek sien soveel venyn, ook in die ander berig hieroor, teenoor ‘n “spogskool”! So jammer dat die ou geel monster ook sy kop uitsteek! Liewe mens, elkeen het die keuse om sy kind in hierdie skool te sit en hierdie IS ‘n baie goeie skool (nee, my kinders was nie in hierdie skool nie). Kyk eers wat is die uitkoms van die ondersoek voor jy so gal af gaan.

Anonime Lafaard ·

Ok, hier het ons nou ‘n behoorlike ondersoek deur ‘n organisasie wat diere se welstand as prioriteit nommer een het. Nou wag ek inspanning vir al die mense wat so gretig gister gal gebraak het teenoor die skool. Waar is julle verskoning? Of ontken julle die uitslag van die ondersoek? Was dit alles deel van ‘n groter ‘conspiracy theory’? Toe, kom nou, laat van julle hoor.

Wonder maar net ·

Ek woon op ‘n klein dorpie buite Pretoria en het 2 kinders in die skool en verskeie vriende op die personeel. My kinders het vertel van 40 days, hulle was immers ooggetuies, maar hul weergawe is ver verwyderd van die beweringe in die media. Die skool het ongeveer 1500 leerlinge, elkeen met ‘n selfoon. Waar is die videomateriaal van die sogenaamde dieremishandeling? Moet my nie vertel niemand sou dit afneem nie. Ja, so kon ek my kinders die betekenis van sensasie en verdraaide feite leer en hoe sosiale media en gewone media met ‘n storie kan hardloop selfs al is hul feite nie reg nie. Moet joernaliste nie ook hul feite bevestig voor dit gepubliseer word nie? Wonder maar net…

Lizelda ·

“Wonder maar net” Drie jaar gelede het daar n vreeslike ek bedoel VREESLIKE geveg tussen wat eens tussen 2 seuns begin het so vinnig soos n veldbrand versprei dat byna die hele skool aan die baklei was. Tot onderwyseresse het n paar houe per ongeluk gekry. Ek het die beeld materiaal gesien. Die skool het die kinders so gedreig oor skorsing as hulle dit durf waag om dit op sosiale media te versprei want dit sal die “spog skool” se reputasie skade berokken. Nie eens die SAP is ingeroep nie. Alles is onder die mat ingevee. Die 2 onderwyseresse elk met n blou oog was vir n paar dae af geboek en
toe weer terug bd skool.

Lana ·

Nie nog nodig vir ondersoek en verslag.
Die kinders het erken dat hulle diere skool toe geneem het.
Wat is fout met hulle as hulle probeer om kinders bang te maak met die diere? Dit hoort eenvoudig nie so nie. Weet hulle hoe bang maak hulle die diere deur hulle tussen ‘n klomp skreeuende kinders los te laat?!

Riaan ·

Ag asseblief. So elke keer as n graad 1 stool groep na die dieretuin gaan en die kinders raak opgewonde by die apies se hokke dan is dit diere mishandeling. Dieselfde geld vir n sirkus.

IK ·

Party kommentators kyk nou skeef op hulle neuse. Dalk ‘n nuwe uitdrukking om ‘muisneste’ te hê? Oftewel dan ‘rotneste’?

Danie ·

Rotneste: Wanneer iemand met ‘n store op loop gaan sonder om seker van die feite te wees. Die persoon huldig ook dan die volgende siening: “Hoekom ‘n goeie storie met feite bederf.” Na deeglike ondersoek is die uitslag gewoonlik fopnuus.

Lizelda ·

Nee, wat die gesesgde “waar daar n rokie trek…” Dis goed dat die aantuigings aan die lug gekom het en ondersoek ingestel is dankie aan die DBV. Maak nie saak of die diere goed versorg, name ens het nie. Soos Lana tereg se die vrees waardeur daardie sogenaamde troeteldiere moes gaan moes erg gewees het. Vind n meer beskaafde manier om julle matrieks se “40 days” te vier.

Baas onverbaas ·

Klink vir my soos verslaggewers wat dieselfde agenda het as destyds met die sogenaamde Potch dames Nazi-saluut bewerings.

Skop stof op oor niks om goeie Afrikaanse instellings te probeer beswadder!

Oujongvrou ·

Wat ek wil weet is, hoekom hoegenaamd die rotte en hoenders skool toe gevat is in die eerste plek. Sommer seker omdat matrieks rotte en hoenders vir troeteldiere het, of hoe nou. En heel onskuldig net gaan spog met wie se hoender het die grootste kam. Hierdie is n stink rot storie

Haan ·

Waar is die regsgeleerdes nou? Of is die DBV deel van die hele sameswering?
Wens mense wil ophou om hul tyd te mors met twak

Sputnik ·

…..en almal lag in hul mou oor Jan Rap en sy maat wat so op hol gaan oor feitlik niks! Menlo Bo!

Die Waarheid ·

Die DBV het geensins gesê dat die diere nie mishandel is nie want hulle weet nie. Hulle het bloot kommentaar gelewer op wat hulle waargeneem het en as iets van hulle weerhou is of as mense slu opgetree het kan hulle nie daarop kommentaar lewer nie. Die DBV is nie ‘n glamorous organisasie wat sensasie of sameswering of aandag soek nie, hulle help die diere wat nie kan praat nie. Diere kan nie sê hulle kry seer, of hulle is honger en dors of hulle is bang nie.

Die waarheid kom altyd uit. Dit is maar soos dit is. Die waarheid is mos nie die vyand van mense wat onskulding is nie?

ek sê maar ·

Jare gelede is ‘n kat by ‘n sekere hoërskool in ‘n sekere dopr so geskop deur seuns dat hy later dood is. Dit is ook onder die mat gevee en niemand mag iets gesê het nie. DBV kon ook nie waarheid uitvind nie. Maar daar was wat die waarheid geweet het.

Die Waarheid no 2 ·

En die waarheid het nogals ‘n manier om die wat dit misken te krap en te pla. Net soos om ‘n harde baksteen permanent in jou baadjiesak te dra. Die baksteen bly teen alles stamp en skuur en mens bly heeltyd bewus van die bonkige baksteen. Die waarheid maak ook nogals so.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.