DBV waarsku teen uitbreking van hondesiekte

Een van die simptome van hondesiekte is ’n afskeiding uit die neus en oë. Foto: Wikipedia

Honde-eienaars in en om Pretoria word versoek om hul viervoetige vriende so gou moontlik teen hondesiekte te laat inent om die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te help om ʼn uitbreking van dié lewensgevaarlike siekte te bestry.

Volgens die WAT is hondesiekte ʼn aansteeklike, dikwels dodelike virussiekte van honde, gekenmerk deur ʼn akute ontsteking van die oogslymvliese, asemhalings- en spysverteringsorgane, ʼn kenmerkende huiduitslag en dikwels swaar senuaandoeninge, waarby komplikasies soos longontsteking dikwels voorkom.

Tshwane-DBV sê daar bestaan geen geneesmiddel vir dié siekte nie; veeartse kan net ondersteuning bied nadat dit by ʼn hond gediagnoseer is. In sommige gevalle is al raad om die hond van kant te maak om sy lyding te beëindig.

Laat hom of haar dadelik inent.

Volgens die DBV het hy onlangs ʼn uitbreking van hondesiekte by sy Waltloo-tak in die ooste van Pretoria waargeneem.

“As jou hond nie gereeld ingeënt word of die afgelope jaar ingeënt is nie,” waarsku dr. Elizna Boag van Afrivet, “laat hom of haar dadelik inent.”

Volgens die Tuinroete-DBV in die Suid-Kaap word dié hoogs aansteeklike virussiekte deur die lug versprei en deur regstreekse of onregstreekse (deur byvoorbeeld kosbakke en beddegoed) kontak met ʼn besmette dier.

Boag sê diere-eienaars moet op die uitkyk wees vir enige abnormale gedrag by hul troeteldiere. Vroeë tekens van die siekte is onder meer koors en ʼn afskeiding uit die neus of oë.

Hulle toon aptytverlies en kan begin vomeer en aan diarree ly.

“Namate die siekte vorder, word die hond swak en lusteloos,” sê sy. “Hulle toon aptytverlies en kan begin vomeer en aan diarree ly. Sommige dierepasiënte kan onwillekeurige senutrekkings toon.”

Tshwane-DBV sê omdat diere swaar kan ly weens hondesiekte en dit boonop hoogs aansteeklik is, is dit in sommige gevalle nodig om die viervoetige pasiënt van kant te maak.

Talle gevalle van hondesiekte is in Mei 2018 in Knysna aan die Kaapse suidkus aangemeld. Die uitbreking het tientalle hondelewens geëis en veeartse daartoe gedwing om amper 300 diere van kant te maak.

Die uitbreking het later na Kaapstad en Durban versprei en van daar na Gauteng, waar die jongste uitbreking in Waltloo aangemeld is.

“Aangesien dit ʼn virussiekte is en die dier se immuunstelsel dit sonder hulp moet bestry,” sê Boag, “kan veeartse net ondersteunende behandeling bied nadat dit by die hond gediagnoseer is.”

Na raming eis dit die lewe van die helfte van volwasse honde wat dit onder lede het en sowat vier uit vyf babahondjies. “Inenting is al manier om dit te voorkom,” sê Boag.

Lesers wat hul hond wil laat inent, kan die nasionale DBV by 011 907 3590 bel vir kontakbesonderhede van hul naaste vereniging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

linda ·

vir diegene wat soos ek nie ‘n veearts kan bekostig… Kruvet in Pta verkoop die 6-in-1 spuit vir R77, asb asb ent jou honde.

Inge ·

Linda, ek neem aan mens moet hulle in die nekvel inspuit? Of is ek nou heeltemal verkeerd?

Ricia Jacobs ·

As mens die inspuiting koop…wie spuit die dier as jy nie weet hoe nie?

TLC ·

Dankie Linda
Maak altyd van Kruvet gebruik
Sal so gou as moontlik daar uitkom

Pieter ·

My hond van die DBV in Centurion het dit daar in 2014 opgetel. Die simptone het eers gewys 10 dae nadat ek hom aangeneem het. Die veearts het hom deurgetrek, hy was toe 2-jaar oud. Al wat oorbly van die siekte is chroniese spierstuiptrekkings op sy gesig. Maar hy is te oulik. Gelukkig nie uitgesit nie, alhoewel aanbeveel deur ander persone.

C ·

Kon myne ook deurtrek. Het dit met gebede en hulp van dieregesondheid blad gedoen. Aangesien vearts gese het hy Sal nooit dit maak.

Lizelda ·

Daar is ook n baie oulike span “Mobipet Services” in Pretoria wat na jou huis kom en jou diere inent teen R280 vd soos ek wat bang is om self te spuit. Ek Maak elke jaar van hulle dienste gebruik

PJN ·

Ek het vir ‘n jaar lank my miniatuur Dobermann elke oggend insullien gespuit soos julle sê in die nekvel, maar moes toe my hond laat uitsit omdat hy blind geword het. Ek het nou my twee Jack Russels laat inent en dis beter as dit onder ‘n veearts se hand gedoen word, want hulle ontwurm die honde asook ondersoek hulle om te kyk of daar nie ander siektes skuil nie. Ja om ‘n troeteldiereienaar te wees verg baie verantwoordelikhede met kostes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.