DBV wil Kataza in Limpopo hervestig

(Foto: Sally Silvewright/Baboon Matters/Facebook)

Die Kaap de Goede Hoop-DBV het die Kaapse owerhede genader met die voorstel om Kataza, die bobbejaan, te vang en by die Riverside-wildrehabilitasiesentrum in Limpopo te hervestig.

“Ons het gehoop dat hy sy natuurlike lewe in die Skiereiland sou kon uitleef, maar ons is nou bekommerd oor sy welstand, die welstand van ander diere en die publiek oor die algemeen,” het die DBV in ʼn verklaring gesê.

Volgens die DBV besit en bestuur Bob Venter, bekende primatoloog, dié rehabilitasiesentrum wat ook die koms van Kataza sal verwelkom.

Die DBV beoog om alle uitgawes verbonde aan die hervestigingsproses te dek, mits Cape Nature, die regeringsorganisasie verantwoordelik vir die instandhouding van wildernisgebiede en openbare natuurreservate in dié provinsie, die aansoek goedkeur.

Die Kaapstadse owerhede het die DBV intussen in kennis gestel dat die stad nie saamstem met sekere stellings oor Kataza se toestand en gedrag nie.

“Kaapstad besit nie die wilde bobbejane in die Kaapse Skiereiland nie, daarom moet die DBV Cape Nature nader vir die toepaslike permitte.”

(Foto: Sally Silvewright/Baboon Matters/Facebook)

Die DBV het Vrydag ʼn aansoek by Cape Nature ingedien om Kataza na Limpopo te verskuif en daar te hervestig.

“Ons is van mening dat dit die enigste oplossing vir Kataza is.”

“Die verskuiwing van Kataza na sy geboortetrop by Slangkop is ook nie ʼn opsie nie, aangesien hy voor dieselfde herintegrasie-uitdagings te staan sal kom.”

Die bewaringsorganisasie Baboon Matters is van mening dat Kataza met sy Slangkop-trop naby Kommetjie herenig moet word.

“Kataza sal weer in sy ou trop integreer en ons glo dat dit die beste plek vir Kataza is,” lui dié bewaringsorganisasie se Facebook-plasing.

“Die oorsaak van bobbejane wat menslike ruimtes betree moet holisties aandag kry, nie deur bobbejane een vir een te verwyder nie.”

Die organisasie vra vir meer deursigtigheid en inklusiewe betrokkenheid deur alle belangegroepe.

“Ons het twee vergaderings met Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, gehad waar ons gevra het dat ʼn taakspan saamgestel word om bobbejaanbestuurstrategieë te hersien. Dit lyk asof Plato die Kataza-kwessie ernstig opneem en die saak wil oplos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

‘ “Die oorsaak van bobbejane wat menslike ruimtes betree moet holisties aandag kry, nie deur bobbejane een vir een te verwyder nie.” ‘
Uh,,uh.. dit is van die begin af mense wat bobbejane, ape en ander diere se ruimte betree en toebou.
Hier by ons eet die blouape die vrugte in die vrugtebome in dorpserwe, en probleem is somtyds een hap, dan word dit weggegooi as die smaak nie is soos op gehoop is nie, maar dit verander nie die feit, hulle was eerste hier.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis nou ‘n bobbejaan (en storie) van ‘n ander kleur! Ek was voorheen betrokke in ‘n wildsreservaat in die ou Rhodesië. Ek sou eerder hom terugplaas by sy eie trop eerder as hom te verplaas. Verplasing soveel kilometers kan baie traumaties wees. Ja, die rehabilitasiesentrum is seker goed toegerus vir hom en sy streke en hy mag dalk ‘n ewe wederstrewige maat ontmoet, maar inmenging in die natuur verskaf groter probleme soos dit reeds duidelik is van die eerste verskuiwing. Vra my, ek weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.