De Aar: Betaal R81 m.-skuld of sit sonder krag

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

Die Emthanjeni-munisipaliteit in die Noord-Kaap het minder as tien dae oor om sy uitstaande skuld van meer as R81 miljoen aan Eskom te betaal, anders gaan inwoners van De Aar, Britstown en Hanover binnekort 14 uur per dag sonder elektrisiteit moet klaarkom.

Eskom beplan om dié dorpe en omliggende gebiede se krag daagliks tussen 06:00 en 20:00 af te sny en boonop sal geskeduleerde beurtkrag ook steeds in die nag toegepas word.

Emthanjeni se munisipale bestuurder, Isak Visser, het die afgelope week ʼn kennisgewing oor Eskom se voorneme in die plaaslike gemeenskapskoerant geplaas waarin hy inwoners vra om hulle skuld aan die munisipaliteit voor 29 Februarie te vereffen.

Visser het aan Maroela Media gesê die skuld beloop sowat R200 miljoen en het hoofsaaklik opgehoop omdat slegs 46% van die inwoners vir munisipale dienste betaal. Die tekort word gesubsidieer deur die inkomste wat die munisipaliteit uit die verkoop van elektrisiteit verkry.

“Alle betalings gaan in een rekening in en dit word gebruik om alle uitgawes te delg, nie net elektrisiteit nie. Geen munisipaliteit operate so nie,” aldus Visser.

Dit beteken dat Eskom waarskynlik laaste in die ry staan om sy geld te ontvang en dat inwoners wat wel vir hulle elektrisiteit betaal nou ook gepenaliseer gaan word.  Waterverskaffing gaan ook geraak word, want selfs gedurende die huidige beurtkrag sukkel die munisipaliteit glo reeds om water aan die gemeenskap te voorsien.

Die voorsitter van De Aar se belastingbetalersvereniging, Gerhard Engelbrecht, sê dis tyd dat die munisipaliteit sy politieke baadjie uittrek. “Dit is ʼn finansiële ramp vir die gemeenskap, want ondernemings gaan hulle deure moet sluit en mense gaan sonder werk wees. Om ʼn kragopwekker 14 uur per dag te laat loop, is duur en nie ekonomies haalbaar nie.”

Hy sê die munisipaliteit moet soos ʼn onderneming bestuur word en ʼn wakende oog oor sy debiteure hou. Die munisipale kredietbeleid vergader stof terwyl dit met ʼn ysterhand toegepas moet word.

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

“As daar nie krag is nie kan inwoners nie die bank gebruik of selfs voorafbetaalde krag aankoop nie. Wat van ander munisipale dienste soos lisensies en rekeninge wat uitgestuur moet word? Wat van inwoners se veiligheid, want alarms gaan nie werk nie?” het Engelbrecht die afgelope week per brief vir Visser gevra.

Visser sê dis vir die munisipaliteit ook ʼn groot bron van kommer. Die enigste oplossing is dat mense hulle rekenings elke maand stiptelik moet betaal en dat munisipale amptenare daagliks die beleid moet toepas. “Ons het reeds begin om die werking van voorafbetaalde elektrisiteitsmeters af te sluit wanneer inwoners met hulle dienstegeld agterstallig is.”

Die munisipaliteit se kennisgewing breek die uitstaande skuld in kategorieë op; niebehoeftige huishoudings skuld meer as R98 miljoen en boere meer as R34 miljoen. Staatsdepartemente skuld sowat R13 miljoen, ondernemings R15 miljoen en skole en kerke sowat R11 miljoen. Emthanjeni se waarnemende hoof van finansies, Phateka Jack, sê die bedrae is vir elektrisiteit, asook alle heffings soos water, riool en vuilgoed-verwydering.

Die boereverenigings in die omgewing betwis die bedrag van R34 miljoen wat na bewering deur boere geskuld word. Gerrit Raath, ʼn bestuurslid van Britstown se boerevereniging, sê die Emthanjeni-munisipaliteit se grondbelasting is R2 767 per miljoen-waarde van ʼn plaas terwyl die aangrensende Ubuntu-munisipaliteit slegs R380 per miljoen-waarde hef.

Daarom weier boere om die hoë grondbelasting te betaal en onderhandel reeds etlike jare met nasionale tesourie oor Emthanjeni se eensydige besluit oor die heffing. Intussen betaal hulle ʼn gemiddelde bedrag gegrond op dit wat deur ander munisipaliteite in die omgewing gehef word.

“Emthanjeni se penarie is nie weens ons uitstaande skuld nie, dis swak bestuur,” sê Raath. “Ons koop ook ons krag direk by Eskom en nie by die munisipaliteit nie.”

Argieffoto: GCIS

Volgens Raath gaan nagenoeg 67% van die Emthanjeni-munisipaliteit se inkomste aan salarisse vir personeel. “Hoe wil jy dienste lewer en boonop vir Eskom betaal met bietjie meer as 30%?” vra hy.

Munisipaliteite skuld Eskom sowat R27 miljard.

Die energieverskaffer het onlangs erken dat die onbepaalde weerhouding van elektrisiteit swaarkry vir verbruikers en gemeenskappe kan veroorsaak en dat dit die lewering van ander dienste nadelig kan beïnvloed. Terselfdertyd is gewaarsku dat munisipaliteite sewe dae kennis gegee kan word dat kragvoorsiening heeltemal afgesny sal word indien die 14-uur-afsnyding nie tot betaling lei nie.

Prokureurs wat namens De Aar se belastingbetalersvereniging optree, probeer tans met Eskom onderhandel om die voorgenome optrede stop te sit. “Anders moet ons ʼn interdik verkry,” sê Engelbrecht.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SomeOne ·

in watter misbetaaldetyd gaan dit anders, almal is die pinkie gegee en uiteindelik het die hele hand /land verlore gegaan
zimbab-awe 2 is hier

Pampoen ·

Elke ou het ‘n storie. Ek hoor nie dat iemand die probleem aanspreek nie. Die mense wat krag gebruik MOET vir daardie krag betaal. Die munisipaliteit wat die krag se betalings inwin, MOET daardie geld in die eerste plek aanwend om Eskom te betaal. Dit help nie om pleisters oor die issues te plak nie.

Niklaas ·

Ek voel jammer vir diegene wat onskuldig is , hul kragrekenings getrou vereffen het en nou ook gaan sit sonder krag . Hul kan nie afgepaar word en hul regmatige kragvoorsiening geniet nie.

jzjz05 ·

Dit is dood eenvoudig die munisipaliteit moet die wat nie hul elektristeitrekenings betaal nie se krag afsny en die wat betaal se geld oorbetaal aan Eskom.Die wins wat hulle maak met die verkoop van die elektrisieteit moet ook nie gebruik word om nie betaalers te subsidieer nie.

Suzanne ·

Grootvlei Mpumalanga sit nou al vir meer as ‘n week sonder krag. Die munisispaliteit voel niks vir ons dis die heeltyd net leuns en lee beloftes!

Johann ·

Lyk vir my asof 67% van die munisipaliteit op hulle louere sit en net salaris ontvang.

henndrik ·

Ek reken die party in beheer moet die rekening betaal uit hulle eie sak want hulle bestuur het die probleem veroorsaak

Anoniem ·

Scalla, sal ek ook baie graag wil weet. Vroeer jare was jy net een maand agterstallig en die elektrisiteit is afgesny totdat jy die rekening vereffen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.