De Doorns-aanvallers was glo reeds besig om in te breek

Johan en Elmarie de Klerk (Foto aan Maroela Media verskaf)

Johan en Elmarie de Klerk (Foto aan Maroela Media verskaf)

Die drie mans wat Johan en Elmarie de Klerk op ʼn plaas in De Doorns aangeval het, was vermoedelik reeds besig om in te breek, toe Johan die deur oopgemaak het.

Danelle de Klerk, die egpaar se skoondogter, het Maandag aan Maroela Media verduidelik haar skoonpa het laat die aand opgestaan en net die deur oopgemaak vir hul foksterriër om ʼn draaitjie te loop. Hy het opgemerk die foksterriër sien iets op die stoep, en net toe hy die veiligheidshek weer wou toemaak, het ʼn onbekende man skielik sy arm ingedruk om toegang tot die huis te bekom.

Maroela Media het vroeër berig Johan en Elmarie is verlede Woensdagaand op die plaas oorval. Danelle het verduidelik haar ouers woon in ʼn huis op ʼn plaas in De Doorns, hulle is nie self boere nie.

Die huis het oral veiligheidshekke en ʼn veiligheidskamera buite.

Drie mans het by die egpaar se huis ingebreek. Hulle was gewapen met ʼn lang mes, skroewedraaier en ʼn staalpyp (“tommy bar”).

“Hulle het my skoonma geslaan en haar gedwing om die kluissleutel te oorhandig. ‘We want jewellery and cash’, het die mans gesê toe hulle by die huis ingebreek het,” het Danelle verduidelik. Elmarie is oor die rug geslaan.

Die egpaar se kluis is in die slaapkamer. “Hulle het die kluis leeggemaak.” Die mans het vuurwapens en patrone, kontant, en ‘n ring wat Elmarie by haar skoonma geërf het, gesteel.

Johan se hande en voete is vasgebind. “Hulle het my skoonpa se skoene uit die kas gehaal en die veters uitgeryg en dit en ʼn lampie se elektriese koord gebruik om hulle my skoonouers mee vas te bind.”

Johan is oor die kop geslaan en sy arm is velaf. Dit is nie duidelik of die wond aan sy arm as gevolg van ʼn verdediging is en of hulle hom moontlik met die mes gesny het nie.

“Hulle het die hele kamer geplunder en die laaie uitgegooi. Hulle was seker ʼn halfuur lank in die huis besig,” het Danelle bygevoeg.

Die mans het Johan en Elmarie daarna in ʼn enkeltoilet toegesluit. “My skoonpa het vir my skoonma gesê dit voel nie of die bloed na sy hande toe deurkom nie. Hulle het hom baie hard hanteer.”

Johan en Elmarie het ongeveer ʼn uur lank in die toilet vasgesit. “My skoonpa was te swak om die deur af te breek, en die deur maak boonop na binne toe oop, so mens kon hom nie afskop nie. Hulle het uiteindelik die armpie van die venster kon afbreek en kon dit gebruik om die deur oop te maak.”

Die mans het ook met Elmarie se selfoon en haar werk se selfoon gevlug. “My skoonpa het ʼn CAT-selfoon wat hulle nie gesteel het nie. Een van die mans het ʼn paar keer op die foon gedruk, en dit toe neergegooi.”

Volgens Danelle was die aanvallers moontlik reeds besig om by die huis in te breek, toe Johan die deur oopgemaak het. “Dit wil voorkom of daar reeds aan die ander veiligheidshek gepeuter is en daar het twee groot klippe op die stoep gelê.”

Danelle het gesê haar skoonouers het Sondagaand vir die eerste keer weer in die huis geslaap. “Hulle ontvang berading ná die voorval. My pa sê net, ‘ons leef, ons leef’. Dít is hulle hoop.”

Sy het gesê haar pa is nog fiks en sterk, maar met die drie mans daar het hy nie kans gesien om homself teen hulle te probeer verdedig nie.

“Hierdie is ʼn wake-up call. Mens moet jou veiligheid al hoe meer opskerp. Mens dink nie dit kan met jou gebeur nie,” het Danelle gesê. “Maar ons sal hier deurkom. Dit sal ons nie onderkry nie. Ons kyk nou vorentoe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Theresia ·

Baie sterkte aan julle familie. Net ons hemelse Vader kan julle hierdeur deurdra. Vir al die ander mense wat hier lees. Wees op julle hoede en probeer om julle troeteldiere te leer om ‘n sandbak soos vir katte te gebruik. Julle kan ook dwarsbalke by deure instaleer.

Bruno Stef ·

Ek het die rookgewoonte as jong man aangeleer maar mag nie my pyp in die huis aansteek nie my vrou se nonsens. Vir my as n bejaarde persoon is dit gevaarlik om in die aand buite in die erf te moet staan en rook maar ek is goed gewapen met n pistool en sekuriteitsligte en twee beduiwelde “Staffies” n mens kan net nie te oorgerus raak nie.

liza ·

Is hulle al gevang, is daar al iets gedoen omtrent dit, vir my lyk dit nie so nie, ja wat dis mos weer wittes wat aangeval is, ons gee mos nie om nie …….hoekom doen die ANC en DA en EFF nie iets ook omtrent dit nie…….vir my klink dit of hulle dit mag doen, het dit nou ‘n wet geword dat hulle mag moor, steel, verkrag ens…….. vra maar net………………

JC ·

Sterkte Danelle, ek HOU van jou houding.
Dankie daarvoor, jou besondere positiewe en kannie-dood houding sal BESLIS ons ander Afrikaners moed gee!!
BEVONK!!

Theuns ·

Sterkte aan almal wat deur die boosaardigheid geraak is. Dit wil voorkom of De Doorns ‘n gevaarlike plek is? My oupa se broer is daar vermoor in 1905! Ja 1905!

Jan ·

Hoeveel keer gaan die les nog geleer moet word? Daai handwapen hoort op jou heup en nie in die kluis nie – veral as jy by die huis is.

Daan ·

Verstewig asb die veiligheidshekke.Monteer ekstra slotte bo en onder aan hekke of selfs kettings.

Asjas ·

Leef deur so iets en probeer om nie te haat nie, nie moontlik nie.

Stoney ·

Ek dink dis ‘n skrikwekkende ondervinding. Sterkte aan julle maar ek dink dit sal lank vat om dit uit jou gestel te kry. Ons bly alreeds in Fort Knox maar ek weier om beangs te wees. Hulle sal nie my vryheid steel nie. Sorry boys, nice try!

Jan ·

Ek is baie bevoorreg om saam met die oom en sy seun te werk. Dis werklik goeie mense. Ek wens hulle alle sterkte toe en sal hulle bystaan waar nodig. Sterkte aan julle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.