De Doorns: VF+ beskuldig Fransman van opswepery

Stakers in De Doorns, 22 Januarie 2013 Foto: @dimitrikiewiet, Twitter

Stakers in De Doorns, 22 Januarie 2013 Foto: @dimitrikiewiet, Twitter

Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep, het Dinsdag gesê Marius Fransman is weer besig om geweldsvure in De Doorns in die Wes-Kaap te stook en die ANC sal moet pa staan as dit tot geweld lei.

Mense het verlede jaar in dié gebied gesterf en groot skade is aangerig tydens ‘n staking van vermeende plaasarbeiders.

Mulder sê die ANC moet nou ook besluit van wie die grond ‘kwansuis gesteel’ is. “President Jacob Zuma sê dit is van swart mense gesteel. Fransman sê nou dis van die Khoi en die San gesteel. Die tyd het aangebreek dat Fransman en die ANC hul woorde tel en besef dat dit verdeeldheid saai en mense aanhits tot geweld,” het Mulder gesê. “Dit is ook ironies dat die ANC met sy beleid van regstellende aksie op hierdie oomblik duisende bruin mense in die Wes-Kaap ‘n werk ontsê en direk daarvoor verantwoordelik is dat baie mense wat ‘n inkomste sou hê, nou ‘n sukkelbestaan moet voer. Dit is benewens die miljoene in Suid-Afrika wat weens die ANC se bedrog, korrupsie, rasgegronde wette en swak regering geen werk of inkomste het nie. Dan is Fransman vermetel genoeg om aan mense wat wel ‘n werk het te vertel hoe die ANC hul lewens sal verbeter.”

Mulder sê die minderhede in die Wes-Kaap, en veral die bruin gemeenskap, het met die korrektiewedienste-saak gesien hoe min die ANC-regering vir hulle voel. “Die ANC, en die DA wat regstellende aksie steun, sal met die verkiesing uitvind dat die mense van die Wes-Kaap en die hele Suid-Afrika deur hierdie dubbelpratery begin sien, en dat hulle dit by die stembus sal straf deur te stem vir die VF Plus wat onwrikbaar opstaan vir die regte van alle minderhede,” het Mulder bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

Einge rede waarom die waarheid rakende mnr. Fransman hier van die kommentaarblad verwyder word ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.