De Jager hoor vandag oor borgtog

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Werner de Jager, wat van die moord op sy vrou, ds. Liezel de Jager, beskuldig word, sal Donderdag hoor of hy op borgtog vrygelaat gaan word.

Die Amanzimtoti-landdroshof in KwaZulu-Natal het vroeër vandeesmaand die finale slotbetoë in sy aansoek aangehoor. Landdros Zama Nyuswa het daarna uitspraak voorbehou.

De Jager is sedert sy inhegtenisneming op 23 November verlede jaar in aanhouding.

Liezel, destyds verbonde aan die NG Suidkus-gemeente, se liggaam is op 13 Oktober 2021 in die oprit van die pastoriewoning ontdek nadat sy gaan draf het.

Tydens sy borgtogaansoek het die hof gehoor alle vingers wys na Werner de Jager en dat hy die moord op sy vrou vooraf haarfyn beplan het. Volgens die staat het Werner en Liezel se huwelik verbrokkel. Die hof het ook gehoor die twee het in aparte kamers geslaap.

Die egpaar is (op 18 Desember 2004) buite gemeenskap van goedere getroud en Werner was destyds in ʼn ernstige finansiële verknorsing en onder skuldberading.

“Twee maande voor die oorledene se dood is haar testament gewysig sodat die applikant [Werner de Jager] die enigste begunstigde van haar hele boedel is,” lui die klagstaat.

De Jager het glo al die veranderinge behartig.

Hy het in sy aansoek volgehou die polisie het die verkeerde persoon aangekeer.

Volgens De Jager word die getuienis in die saak verdraai en ʼn saak teen hom gevestig. Hy het wel erken dat hy en Liezel wedersydse lewenspolisse uitgeneem het en dat hy enkele maande voor haar dood ʼn bykomende lewenspolis ter waarde van R3,29 miljoen op Liezel se lewe uitgeneem het.

De Jager het ook volgehou die staat se saak teen hom is swak en dat hy gedwing is om ʼn bekentenis af te lê kort ná sy inhegtenisneming. Hy het die hof meegedeel die polisiebeampte wat die verklaring afgeneem het, se handskrif is onleesbaar.

Volgens die staat sou De Jager in groot detail gebieg en om vergifnis gevra het vir Liezel se moord.

De Jager het aangedui hy gaan onskuldig pleit op al die aanklagte teen hom. Hy staan tans tereg op ʼn aanklag van moord met voorbedagte rade en twee aanklagte van bedrog.

De Jager gaan na verwagting ook binnekort aangekla en in hegtenis geneem word op twee bykomende aanklagte van moord in verband met ʼn motorongeluk verlede jaar op die N1-snelweg naby Kroonstad. Twee vroue het in dié voorval gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Jy word aangekla/ verdink van die wreedste van wreedste misdaad maar jy het die ” reg” om vir borgtog aansoek te doen? Die 2 vroue wat in die motorongeluk oorlede is was nie van ” breinfloute” nie maar opsetlik. Laat hy sit tot skuldig/ onskuldig bevind word.

domheks ·

Die man lei aan ‘n minderwaardigheids kompleks. Almal moet hom nou BEJAMMER! Hoop hy sit 3X lewenslank, dis nou te se as hy nie ‘gek’ speel nie.

Duck ·

Nee wat, kyk na Oscar, na ‘n paar jaar is uit met ‘n huppel in sy stap!

Lizelle ·

Gek is nog ‘n mooi woord. Hys so mal soos ‘n haas, mens sien dit in sy oe. Hy is ‘n gevaar vir die samelewing, as iemand hul eie vrou se lewe kan neem, waartoe is hy nie nog in staat nie? Dan wil hy nog onskuldig pleit ook en die saak uitrek.

Niklaas ·

Ek dink dis sommer belaglik en vermetel van hom om aansoek om borg te wil doen.

Koen ·

Verbasend dat hy nie so jammer gekry word as Lauren wie haar 3 jong dogtertjies op die wreedste moontlike manier vermoor het terwyl die wat nog lewend was moes toekyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.