De Klerk ‘omstrede, polariserend, maar ook realisties’

Oudpres. FW de Klerk verlede jaar tydens die lewering van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede. (Foto: Sumaya Hisham/AFP)

Die parlement het ook sy medelye betuig ná die dood van oudpres. FW de Klerk wat Donderdag sy stryd teen kanker verloor het.

Die speaker van die parlement, Nosiviwe Mapisa-Nqakula en die voorsitter van die nasionale raad van provinsies (NRP), Amos Masonda, het in ʼn gesamentlike verklaring gesê hoewel De Klerk “omstrede en polariserende sienings oor die nalatenskap van die apartheidstelsel in Suid-Afrika ondersteun het, was hy ook die mees realistiese van alle leiers van die apartheidsregime wat die moed en beslistheid gehad het om die Rubicon oor te steek”.

Die parlement sê op dié manier het hy ʼn punt bereik wat ander nie kon nie en sodoende die weg gebaan vir broodnodige demokratiese hervorming.

‘n Verbyganger kyk in 1990 na ‘n koerantplakkaat in Kaapstad. (Foto: Walter Dhladhla/AFP)

“Hoewel dit hartseer is dat hy die geleentheid misgeloop het om sy nalatenskap te verskerp deur sy versuim om die verwoesting wat die apartheidstelsel vir miljoene mense veroorsaak het ten volle te besef en te erken, gaan die geskiedenis sy vooruitskouing huldig. Hy het besef dat apartheid onhoudbaar geword het en die ondergang daarvan onvermydelik was, asook bygedra om die fondament van ʼn nuwe Suid-Afrika te lê.”

Die voorsittende beamptes het ook hul medelye met De Klerk se vrou en kinders betuig.

“Mag sy siel in ewige vrede rus.”

De Klerk is gister in die vroeë oggendure vreedsaam by sy huis in Fresnaye dood. Hy was 85 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.