‘De Klerk verander politieke landskap van SA’

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

Ten spyte van die kritiek wat oudpres. FW de Klerk se besluite uitgelok het, bly dit onweerlegbaar dat hy die politieke landskap in Suid-Afrika ingrypend verander het.

Só het dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, Donderdag in reaksie op die nuus van die voormalige staatspresident se afsterwe gesê.

De Klerk is vroeg Donderdagoggend op die ouderdom van 85 by sy huis in Fresnaye oorlede ná ’n stryd teen kanker. Die nuus het die middag reeds internasionaal opslae gemaak met verskeie internasionale mediahuise soos die BBC, CNN en die Washington Post wat na De Klerk as “Suid-Afrika se laaste wit president” en ’n “sleutelfiguur in die land se oorgang na demokrasie” verwys het.

“De Klerk was ʼn omstrede politikus en het die proses vir ʼn nuwe politieke bedeling vanaf 1994 in Suid-Afrika aan die gang gesit. Daar was sterk meningsverskil oor die rigting wat hy ingeslaan het met sterk steun vir en teen sy besluite,” sê Groenewald.

“Ek is van mening dat De Klerk eindelik self nie tevrede was met die uitkoms van die politieke veranderinge nie. Hy het nie die gevolglike verval voorsien nie en het dit later self erken.

“Sy nalatenskap is wel dat hy Suid-Afrika se politieke landskap ingrypend verander het, al is die resultaat nie wat hy in die vooruitsig gestel het nie.”

Groenewald sê voorts hoewel hy van De Klerk verskil oor sekere aspekte van ʼn veranderde en nuwe bedeling in Suid-Afrika, De Klerk nogtans geglo het in wat hy doen en volhard het in sy strewe na politieke verandering in Suid-Afrika.

De Klerk was ‘merkwaardige Afrikaner’

Oudpres. FW de Klerk. (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Die Afrikanerbond het De Klerk as “ʼn staatsman, ʼn man van Afrika, ʼn Suid-Afrikaner bowenal [en] ʼn merkwaardige Afrikaner,” bestempel.

Die Afrikanerbond het ook na die voormalige president as een van die hoofargitekte van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie verwys.

“Tydens sy presidentskap van net minder as 5 jaar (1989-1994) het hy ’n deurslaggewende rol gespeel in die ontknoping van die Suid-Afrikaanse rassekonflik en die land weggestuur van die afgrond van vernietiging.”

De Klerk het van 1989 tot 1994 as president van Suid-Afrika gedien. Hy het daarna vir nog twee jaar as oudpres. Nelson Mandela se adjunk gedien en in 1997 as leier van die NP afgetree.

“FW de Klerk het met sy opregtheid, beginselvastheid en insig in die problematiek van die tyd die regte besluite geneem,” sê die Afrikanerbond in ’n verklaring.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het op sy beurt gesê De Klerk se destydse rol en bereidwilligheid om by Suid-Afrika se toekoms betrokke te raak, “het ons destyds van ’n bloedbad gered.

“Hy was beslis nie in dieselfde liga as [sy voorganger] PW [Botha] nie. Mag sy siel in vrede rus,” het Holomisa op Twitter geskryf.

Tony Leon, voormalige leier van die DA, meen De Klerk het op sy beurt nes die voormalige leier van die Sowjetunie, Michael Gorbatsjof, die stelsel hervorm wat hy in 1990 geërf het.

“En as hy nie die mag in 1994 prysgegee het nie, sou SA waarskynlik vandag Sirië of Venezuela gewees het. Totsiens,” lui ’n inskrywing deur Leon op Twitter.

Die ATKV het vanmiddag gesê hy het met leedwese kennis geneem van De Klerk se afsterwe.

“Hoewel ons paaie nie gereeld met hierdie formidabele leier gekruis het nie, was hy vir die ATKV iemand na wie die organisasie kon opkyk omdat hy nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika vooropgestel het. Mnr. De Klerk, dankie vir dit wat jy vir Suid-Afrika beteken het. Dankie dat jy dapper was in uitdagende tye en bereid was om moeilike besluite te neem om ons land vorentoe te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.