De Kock hoor binnekort oor parool

Eugene de Kock

Eugene de Kock

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het nog tot 10 Julie tyd om te oorweeg of Eugene de Kock op parool vrygelaat moet word.

“Die minister het nog nie ʼn besluit gemaak nie,” het Lawrence Ngoveni, sy woordvoerder, Maandag gesê. “Hy sal sy uitspraak lewer binne die 30 dae-periode wat die hof bepaal het.” Ngoveni het gesê die 30 dae sluit nie naweke en vakansiedae in nie.

De Kock, die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder, het hom verlede maand tot die hooggeregshof in Pretoria gewend om Masutha te dwing om ʼn besluit oor sy parool te neem.

Regter Thokozile Masipa het op 28 Mei beveel dat die minister 30 dae het om te besluit of De Kock op parool vrygelaat moet word.

Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het glo in November verlede jaar al ‘n besluit geneem oor De Kock se parool. Die aanbeveling is aan Sbu Ndebele, die vorige minister van korrektiewe dienste, gestuur vir oorweging. Hy het egter nooit ‘n besluit geneem nie en De Kock moes gevolglik vroeër vanjaar die hof nader om hom te dwing om dit te doen.

Die saak is as afgehandel beskou nadat Ndebele se regsverteenwoordigers aangedui het dat hy teen 12 Mei ‘n besluit sou neem. Weer is geen besluit geneem nie en nadat Ndebele sy pos ná die verkiesing verloor het, het De Kock weer die hof genader.

De Kock het hom weens dade in die apartheidstyd die bynaam Prime Evil op die hals gehaal. Hy was ʼn polisiebeampte onder die apartheidsregering. Hy is ʼn week voor Nelson Mandela se inhuldiging as president in 1994, in hegtenis geneem vir die afsterwe van talle anti-apartheidsaktiviste. Hy is in 1996 tot 212 jaar tronkstraf gevonnis. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.