De Lille besoek ontsoutingsaanlegperseel by V&A Waterfront

Burgemeester Patricia de Lille by die ontsoutingsaanlegperseel by die V&A Waterfront Foto: Stad Kaapstad

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het Sondag een van die stad se modulêre landgebaseerde ontsoutingsaanlegte besoek.

Dié aanleg sal 2 miljoen liter water per dag verskaf en die water sal teen Februarie 2018 in die stad se waterverspreidingsnetwerk beskikbaar gemaak word.

“Ek het verlede week direk met alle inwoners van Kaapstad kontak gemaak oor die stad se planne om alternatiewe waterbronne te verseker,” het De Lille in ʼn verklaring gesê. “My boodskap is duidelik: ons het ʼn plan, ons sal water aan die inwoners verskaf, maar jul hulp is noodsaaklik en ons versoek dat julle steeds water sal bly bespaar.”

De Lille het inwoners van Kaapstad bedank en geloof vir hul pogings om water te bespaar.

“Ons kon die verbruik van 1,1 miljard liter water, voor waterbeperkings, verminder na 585 miljoen liter water per dag,” het sy gesê. “Ons sal nie toelaat dat ʼn stad, wat goed bestuur word, sonder water sit nie.”

Burgemeester Patricia de Lille by die ontsoutingsaanlegperseel by die V&A Waterfront Foto: Stad Kaapstad

Sy het gesê die stad is besig om alternatiewe waterbronne by die netwerk in te skakel. “Een van dié waterbronne is die tydelike ontsoutingsaanleg wat die stad op East Pierweg in die V&A Waterfront. ʼn Oop parkeerterrein oorkant die helikopter-parkerings sal in ʼn ontsoutingsaanleg omskep word wat 2 miljoen liter water per dag kan vervaardig. Die V&A Waterfront het die grond gratis aan die stad beskikbaar gemaak.”

Water sal uit die see aan die hawekant van die kaai onttrek word, by die ontsoutingsaanleg behandel word en die skoon water sal aan die stad se waternetwerk beskikbaar gemaak word. “Die ligging van die perseel maak dit maklik vir die stad om dienste te lewer aan die ontsoutingsaanleg. Die stad sal in November 2017 elektrisiteit verskaf en die konstruksiewerk sal kort daarna begin.”

Dié ontsoutingsaanleg is bykomend tot die agt ander modulêrelandgebaseerde ontsoutingsaanlegte wat die stad sal implementeer:
– Houtbaai (4 miljoen liter water per dag)
– Granger Bay (8 miljoen liter water per dag)
– Red Hill/Dido Valley (2 miljoen liter water per dag)
– Strandfontein (7 miljoen liter water per dag)
– Monwabisi (7 miljoen liter water per dag)
– Harmony Park (8 miljoen liter water per dag)
– Kaapstad-hawe (50 miljoen liter water per dag)
– Universele persele (20 miljoen liter water per dag)

Die stad het Vrydag die tenders vir die ontsoutingsaanlegte by Strandfontein en Monwabisi toegeken.

Die stad werk ook aan grondwateronttreking by Atlantis en Silwerstroom, Kaapse Vlakte-akwifeer, Kaapse Skiereiland en Hottentots-Holland-akwifeers.

“Die stad kon reeds die vervaardigingskapasiteit van die bestaande Atlantis- en Silwerstroom-akwifeers verhoog tot 5 miljoen liter per dag. Dit sal geleidelik tot 25 miljoen liter per dag verhoog word, het De Lille bygevoeg.

Die pyplynwerk by die Zandvliet-rioolsuiweringswerke het ook reeds begin en dit sal ook geleidelik verhoog word om uiteindelik 10 miljoen liter water per dag te verskaf.

“Ek assesseer deurgaans die stad se oplossings om alternatiewe waterbronne te verskaf terwyl die inwoners aanhou bly spaar. Ons kyk nie net na die onmiddellike toekoms nie, maar ook die jare wat voorlê en hoe ons watersekuriteit kan verseker ná 2018.”

Burgemeester Patricia de Lille by die ontsoutingsaanlegperseel by die V&A Waterfront Foto: Stad Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.