De Lille bly burgemeester

Patricia de Lille tydens haar inhuldigingstoespraak. Foto: Twitter

Patricia de Lille tydens haar inhuldigingstoespraak. Foto: Twitter

Die DA se Wes-Kaapse leier, Patricia de Lille is, soos verwag, Donderdagoggend tydens ʼn verkiesing van die Kaapstad-metroraad weer tot burgemeester verkies.

Nadat die DA met ʼn oorgrote meerderheid in die stad gewen het, het DA-raadslede weer hul ondersteuning agter De Lille ingegooi, met ANC-raadslede wat vir hul burgemeesterskandidaat, Xolani Sotashe, gestem het. Sotashe het 56 stemme gekry teenoor 160 stemme vir De Lille.

In haar inhuldigingstoespraak het De Lille ʼn paar woorde aan die lede in die opposisiebanke gerig. “ʼn Twee-derde meerderheid verg ʼn geloofwaardige opposisie om die magsgebruik en die hardkoppigheid van die meerderheidsparty te monitor. Daarom wil ek vandag ʼn beroep op die opposisie doen om konstruktief saam met die nuwe raad te werk,” het sy gesê. “Ons mag dalk politieke teenpole wees, maar ons hoef nie vyande te wees nie.”

De Lille het ook teruggekyk na die uitslae van verlede week se munisipale verkiesing en gesê daar is ʼn duidelike verskuiwing in die manier waarop Suid-Afrikaners gestem het. “Die arrogansie van mag is na ʼn nuwe laagtepunt gebring deur die wil van die mense en dit is glorieryk. As ʼn nuwe regering moet ons probeer om hierdie nuwe wil te verstaan en daarop te reageer.”

De Lille het die nasionale leierskap van die DA bedank en spesifiek die DA-leier, Mmusi Maimane, sy voorganger, Helen Zille en die stigtersleier van die party, Tony Leon, genoem. “Mmusi, jy het aan my gesê om ‘alles te vat’ met die stemme in die Wes-Kaap. Ons het amper, maar ons moes darem iets vir die opposisie los,” het sy geskerts.

Sy het bygevoeg die stad sal voortgaan met sy programme om die armes in Kaapstad te help. “Ons sal voortgaan om 67% van ons begroting aan die armes te bestee. Ons sal steeds die wanbalanse van die verlede probeer regstel,” het sy gesê.

Sotashe het op sy beurt gesê die ANC-raadslede sal konstruktief met die raad saamwerk, maar steeds seker maak hul stemme word gehoor. “Ons sal nie cowboys wees en straatgevegte kom doen nie. Ons is hier as demokrate en professionele lede van die ANC en ons sal seker maak die mense wat ons verkies het om hier te wees, ontvang dienste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Penellope Jones ·

Mooi! Baie geluk Patricia en voorspoed vir die pad vorent toe!
Baie dankie vir dit wat jy alreeds beteken het vir Kaapstad – doen so voort!

Boetman ·

Is net jammer die DA het nie vooraf adverteer dat hul met die EFF wil saamwerk nie. Politici het eenvoudig geen integriteit nie.
Stem volgende keer vir die party wat stem teen hul eie salarisverhogings.

jcwf ·

Hulle het 68% meerderheid en glad die EFF nie nodig nie, Boetman

John ·

Die DA gaan vanjaar hare op hul tande moet he, met die EFF-eksperte op hul rug. ‘Toilets, toilets’… is skynbaar die EFF se kriteria vir ‘n eerstewereldse ‘arrive’. Kennis oor die gebruik daarvan het skynbaar in die vroee middeleeue vasgesteek. ‘Stank vir dank’ is nie verniet ‘n ou spreekwoord nie.

snoefie ·

Patricia bestee maar 70% ook aan die armed. maar asb waarsku hulle streng om nie te deel en elke jaar nog n kleintjie in die weteld te bring net on dir kindertoelaag te kry nie. dit kos meer as R360 pm om n kind groot te maak.

jaco ·

agter my huis in n kaapstadse voorstad (stewige DA-wyk) is n waterpomp van die munisipaliteit wat nou al 4 maande lank water lek. Dis net 4 maande wat ek van weet, want ek bly nog nie lank daar nie. dis duisende liter drinkwater per dag. oproepe, sms’e, emails na die munisipaliteit lei tot net mooi niks. daar was eendag n tegnikus van die munisipaliteit oor iets anders by die waterpomp en ek het hom toevallig gesien en hom die lekplek gewys. hy het dit duidelik gemaak dat dit nie die moeite werd is om reg te maak nie, want die koperbedekking gaan onmiddelik weer afgesteel word. As DIT is wat die DA dink van die vermorsing van mense se drinkwater, dan wil ek nie weet hoe useless n ANC munisipaliteit met so n probleem gaan wees nie.

Jaco ·

Die DA se wonderlike beloftes van beter dienslewering nou na die verkiesing in die rade wat hulle gewen het, beteken niks met usesless amptenare wat steeds daar werk nie. 99% van alle munisipale amptenare is regstellende aksie aanstellings. Of die DA nou daarmee saamstem of nie is nie ter sake nie: die wet dwing hulle om mense so aan te stel, met ras as die hoofkriterium en sonder veel inagneming van bekwaamheid, opleiding en ondervinding. Al hierdie amptenare “desperately wanted a job, but once they got it the don’t want to work”. Voeg by dat die munisipaliteite wat die DA by die ANC afgevat het, nog meer sulke useless affirmative action aangestelde amptenare het PLUS ANC-kaders wat daar ontplooi is, en daardie munisipaliteite gaan NIKS beter dienste lewer nie. Die DA raadslede sal nie daardie mense kan afdank omdat hulle nie deliver nie, want arbeidswette verbied dit. Dink ook net aan die ontsettende beskuldingings van rassisme en apartheid as n DA-raad ‘n useless ANC-kader moet afdank.
Kortom, met hierdie affirmative action aangestelde munisipale amptenary dwarsoor SA maak dit nie saak wie n raad met die mooiste motiewe regeer nie: selfs as die Vader in die hemel of die duiwel n verkose raad moet beheer, sal hulle met hierdie tipe amptenare NIKS uitgerig kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.