De Lille, DA in stryd op Kaapse Vlakte

Mmusi Maimane, leier van die DA.

ʼn Politieke veldslag woed tans tussen Patricia de Lille en die DA in die oorwegend bruin woonbuurte op die Kaapse Vlakte.

De Lille doen vanoggend in die Kaapse hooggeregshof aansoek om ʼn interdik dat die DA nie haar partylidmaatskap mag wegneem nie en dat haar setel in die Kaapse stadsraad nie gevul mag word nie.

Intussen is DA-bronne kliphard besig om bewerings van wangedrag teen haar in die media te versprei. Die DA het ook sy groot kanonne op die Kaapse Vlakte – die grootste konsentrasie van bruin kiesers in die land – ontplooi om teen De Lille velde te trek.

Klankopnames wat Maroela Media bekom het, wys op die teenstand wat die DA se Wes-Kaapse onderleier, Albert Fritz, gekry het tydens ʼn DA-vergadering Woensdagaand in Mitchells Plain, toe DA-lede wat De Lille goedgesind is, hom op eg Kaapse manier geskel en uitgejou het.

Die DA-leier, Mmusi Maimane, is ook op die Vlakte ontplooi om bruin gemoedere te probeer sus. Hy het gisteraand ʼn DA-vergadering in Elsiesrivier toegespreek.

DA-leiers het nou openlik begin erken dat die De Lille-debakel die party op groot skaal steun kos, omdat kiesers landwyd meen die DA het De Lille uiters onregverdig behandel.

Die DA het aangebied om die Kaapse burgemeesterspos vir drie maande vakant te laat op voorwaarde dat De Lille die party nie hof toe vat nie, maar De Lille het gesê die party kan gaan doppies blaas.

DA-leiers beweer op voorwaarde van anonimiteit dat De Lille nie opgetree het teen wanbestuur in Kaapstad nie, en dat sy aanstellings in die stad wederregtelik beïnvloed het.

De Lille-ondersteuners kap terug deur te beweer dat diegene wat die bewerings maak se hande nouliks skoon is en dat hulle die bewerings – wat ontken word – maak om hulself, hul persoonlike belange en dié van hul binnekringe te bevorder.

Alle aanduidings is dat die langste en vuilste Kaapse politieke geveg in baie jare op hande is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leon ·

Nog ‘n teken van hoe pateties die politieke bal is op alle vlakke! Hulle baklei so om elkeen se eie dinges te red, dat hulle heeltmal vergeet waarvoor hulle eintlik in die regerings banke sit. Ons mense op alle plekke word links en regs vermoor, aangrand en mishandel, maar nee, hulle dink net aan hulself!!

Gert Louw ·

Vat hulle Patricia. DA probeer hulle hande skoonhou. Plaas dat hulle dit ondersoek en behoorlik sien wat gebeur het maak hulle aantygings sonder gronde.
DA is pateties reeds my stem verloor.

Andre ·

@Leon – Die enigste een wat baklei is Mmusi want hy wil koning alleen wees, raak ontslae van die man en alles sal weer goed gaan vir die DA

bgj van der westhuizen ·

eers het hulle die wit stem verloor en nou die bruin stem

rollie ·

Ek stem eerder vir die party as die individu. Sy gaan vir seker oorloop ANC toe. So dan moet haar ondersteuners maar ANC stem en die gevolge soos swak dienslewering en korrupsie dra.

Boet Fasie ·

Politiek is ‘n vuil spel waar mense mekaar sal uitroei vir mag , geld en aansien. Klomp rugstekers – DA het ook nie meer my stem nie , regtig al my respek teenoor die party verloor.

Helena ·

Die DA se binnegevegte is ‘n bewys dat die topbestuur die DA in onguns wil bring nie beskuldigings oor en weer is onnodig die leier Maimane het van Me Zille ontslae geraak nou is dit Me De Lille Ek is bevrees dat die DA nie eers ‘n party gaan wees met die volgende verkiesing nie, die anc gaan die Wes Kaap oorneem en ek dink dit is presies wat mnr Maimane wil he die Wes Kaap is die enigste provinsie in die land met ordentlike paaie, maar net tot na die volgende verkiesing dan gaan dit hier by ons ook lyk soos in die res van die land veral in Noordwes. Daar is nie eers meer teer op die paaie nie dis rou grond maar solank mnr anc beampte en sy gevolg net geld in hul sakke kan steek is die anc baie tevrede met hulself.
Mooi so mnt Maimane jy is besig om in jou doel te slaag om die DA heeltemal in ‘n gemors te laat beland. Ons het ware leiers nodig in hierdie land en daar is net mooi niemand wat die verantwoordelikheid kan aanvaar nie,

Terloops mnr De Klerk kom kyk hoe lyk Suid Afrika en moenie daar waar jy in ander lande rondkuier stellings maak wat jy nie kan waarborg nie – Suid-Afrika is on ‘n gemors

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.