De Lille: ‘DA-klousule aanvaar om van my ontslae te raak’

Patricia de Lille. Foto: Twitter

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, sê die wysiging van die DA-grondwet sodat ampsdraers makliker uit hul posisies verwyder kan word, is ʼn heksejag op haar en ʼn manier van die amptelike opposisie om maklik van haar ontslae te raak.

Dié voorstel is Sondag tydens die DA se federale kongres met ʼn groot meerderheid aanvaar.

Die nuwe reël bepaal dat indien enigeen wat vir die DA tot ʼn uitvoerende posisie binne ʼn DA-regering verkies word – insluitend tot president van die land, premier, burgemeester ensovoort – nie  meer die ondersteuning van die meerderheid van hul koukus geniet nie, die federale bestuur kan besluit om die DA-lid te beveel om binne 48 uur te bedank, nadat die lid die kans gegun is om sy of haar saak aan die federale bestuur te stel. Indien die DA-lid weier om te bedank word hy of sy uit die party geskop. Enige mosie van wantroue in ʼn uitvoerende lid moet met die toestemming van die federale bestuur geskied.

“Dit is geen verrassing dat daar mense is wat in die laaste paar maande enigiets sou doen om van my ontslae te raak nie,” het De Lille op sosiale media gesê. “Hierdie mense het bewys dat hulle hul eie prosesse en reëls sal verontagsaam en hul eie waardes van ‘vryheid, eerlikheid en geleenthede’ sal ignoreer om my uit die party te skop.”

De Lille het in Februarie net-net ʼn mosie van wantroue in haar, ingestel deur haar eie party, oorleef. Sy het die stemming oorleef met 110 raadslede wat daarteen gestem het. Altesaam 109 raadslede was ten gunste van die mosie en drie mense het buite stemming gebly.

“Ek veg nog die heeltyd vir ʼn regverdige en deursigtige proses vir die bewerings wat teen my gemaak word,” het sy gesê. “Selfs al weier die DA om behoorlike en deursigtige prosesse te volg in die gees van billikheid [rakende die bewerings van korrupsie en wanbestuur teen haar], is daar wette in ons land wat openbare amptenare beskerm.”

De Lille is verbied om die afgelope naweek se federale kongres by te woon hangende die dissiplinêre verhoor teen haar.

James Selfe, die voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het Sondag ontken dat die wysiging van die party se grondwet gebruik sal word om van De Lille ontslae te raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Eish ·

Nie waar nie. Trollip het op TV gesê die wysiging geld nie terugwerkend nie.
Dus sal de Lille haar geveg kan veg.

Kobus ·

In my lewe sal ek nie weer vir DA stem nie.Ek worry nie om vir n kleiner party stem nie.wat iets vir my en mense beteken en wat vir ons baklei nie dankie VF

Koos ·

Baie waar. Die DA het ver gevorder tot waar hy is met Afrikanerstemme. Noudat hy wil uitbrei word ons misken en dinge verander om ander stemme te lok. Laat my sterk dink aan wat gebeur het by Volkskas en M-Net wat later in ABSA en DStv opgeneem is. Mmusi is vorentoe gestoot omdat hy mooi praat en is heeltemal te vinnig bevorder in verhouding met sy jare lidmaatskap en ervaring.

Nettie ·

@Kobus – ek sou ook graag VF+ wou stem, maar wat maak jy as die party vir wie jy wil stem, nie ‘n verteenwoordiger in jou stemwyk het nie (munisipale verkiesings) en jou stembus BINNE-IN ‘n informele kamp met hordes ingevoerde pro-ANC ‘inwoners’ is en jy te bang is om as blanke, alleenloper vrou daar te gaan stem? Nee wat, dan bly ek maar eerder weg van die stembusse af volgende jaar!

Johan. H. ·

Hou op om julself jammer tekry sodra iets nie meer werk tengunste van jou nie,

John ·

De Lille wil engeltjie speel en aan en aan Kaapstad regeer. Sy het ‘n groot aandeel aan die swak hantering van die waterkrisis.

Gatvol ·

Ja! Tipies om die media te gebruik om haar self te bejammer. Die spreekwoord is: If you do the crime you do the time.

Oujongvrou ·

De lille is besig om die DA onberenbare skade aan te doen. En dit lyk my dis presies wat sy heeltyd beoog het pleks sy huis toe gaan. Vir wat baklei as mense jou nie kan uitstaan nie. Dit gaan nie maak dat hulle ewe skielik mal gaan raak vir jou nie. Sies vir jou Patricia.

Neels ·

Ek dink eerder dat Maisimane die probleem in die DA is – vandat hy ingekom het, moet almal of swig of weg. De Lille het eintlik baie goed presteer in Kaapstad, en alhoewel baie mense skop teen die vroegtydige waarskuwings teen oormatige waterverbruik daar, is dit ‘n geval van eerder te vroeg as te laat … Nee wat, ek stem saam met ‘n vorige kommentaar hierbo, alhoewel ek laas keer vir die DA gestem het, (was nie ‘n ander keuse nie – of vir ANC of daarteen) is dit ook neusie verby wat my aanbetref – VF+ is wel in die minderheid, maar ek sal hulle beslis weer ondersteun indien hulle in ons area staan.

Reti ·

Stem saam met jou. As De Lille nou so vreeslik skyldig is gee haar openbare verhoor. Da het mos niks weg te steek nie. Ek aan haar kant.

Gemaskerde Sopbeen ·

Raak nogal effens moeilik om ‘n pos te behou as jy moet staatmaak op vermoëns in plaas van geslag en velkleur, is dit nie?

Annette ·

As DeLille gaan loop, kan ons maar bye-bye se vir DA oorheersing in die Kaap! Dis haar mense wat haar daar hou!

Casper Labuschagne ·

Feit is dat de Lille aan die verkeerde party behoort. Het sy maar in die PAC, of die ANC, gebly kon sy skatryk geword het uit tenders en voorkeur kontrakte. Maar in die DA sal sy maar moet berus by ‘n ampsdraer se salaristjekkie en ‘n skamelrige pensioentjie terwyl haar oud kamerade aan die ander linkerkant van die stryd na hartelus Das Kapital spandeer, in plaas daarvan om dit soos goeie kaders van die revolusie te lees.

rollie ·

Weet jy watter salarisse die mense verdien? Jy sal agteroor val as jy weet. Wenk – ‘n Raadslid van die burgemeesterskomitee verdien reeds minstens R90000 per maand.

Gert ·

Mev de Lille is nog nie skuldig bevind aan n misdaad nie gee haar kans om haar saak te stel voor sy veroordeel word…Ek stem VF+

Rynhardt ·

Die DA(tweede Anc) het nie net sy grondwet verander om van De Lille van ontslae te raak nie,maar ook van die ontslae te raak wat nie saam met Mmusi Maimane saamstem nie.Maimane se groot beleid is radikale transformasie!Gee dit tyd.Ek glo De Lille sal moontlik n pos aanvaar by die Anc regering of EFF(derde Anc).SA politiek is lankal n sirkus en dood vir die afrikaanssprekende.?????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.