De Lille gaan Faul vir R1 miljoen dagvaar

Kaapstad se burgemeester, Patricia de Lille (Foto: ANA)

Die uittredende burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, is van voornemens om die sakeman Anthony Faul vir R1 miljoen te dagvaar vir naamskending.

Sy het Sondag gesê sy is vandeesweek formeel deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in kennis gestel dat die senior staatsaanklaer die getuienis teen haar oorweeg het in ʼn saak van omkopery wat betref “valse bewerings deur ene Anthony Faul” en dat die besluit geneem is om haar nie hieroor te vervolg nie. Die klag is gevolglik teen haar teruggetrek.

James Selfe, federale uitvoerende voorsitter van die DA, het in Februarie vanjaar bevestig dat die party die polisie genader het met ʼn beëdigde verklaring wat hulle van Faul ontvang het.

“Ek het die belaglike bewerings van die begin af verwerp toe dit uit die niet uit te voorskyn gekom het. Dit was in die tyd toe die DA alles in sy vermoë gedoen het om my uit my pos te verwyder deur allerhande bewerings te maak – in die hoop dat iets sou opgaan,” het sy in ʼn verklaring gesê.

“Ek is nog nie skuldig bevind aan enigiets waarvan ek beskuldig is nie. Ek het nog altyd gesê die waarheid sal seëvier en dat ek nie bang is om myself te onderwerp aan enige proses om die bewerings behoorlik te toets nie. Weereens was hul pogings om my integriteit, waaraan ek hard gewerk het, in twyfel te trek en my te diskrediteer, tevergeefs.”

Die bewerings van omkopery hou verband met Faul se onderhandelings meer as vyf jaar gelede met die Stad Kaapstad se departement van veiligheid en sekuriteit om brandbestande verf vir informele nedersettings te verskaf.

“Toe die bewerings aan die lig gekom het, het ek genoem dat dit deel is van ʼn groter plan om my te verwyder. Ek het egter myself daartoe verbind om openlik my samewerking te gee en deursigtig met die SAPD te werk – ek het dit al maande lank volgehou. Die personeel in my kantoor het ook ten volle met die Valke saamgewerk toe hulle genader is vir onderhoude en verklarings. Ek is verlig dat geregtigheid geseëvier het.”

Sy het gesê die bewerings wat Faul teen haar gemaak het, was vals en ʼn aanval op haar reputasie. “Dit kom neer op naamskending en ek het my prokureurs opdrag gegee om ʼn saak van naamskending ter waarde van R1 miljoen teen hom aanhangig te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Boet Fasie ·

Mooi Patricia , vat aan sy sak , volgende keer gaan hy twee keer dink.

Natan ·

Dit is nie so maklik om die geld te verhaal nie. Ek was in dieselfde bootjie na laster deur Eskom teen my. My regsadvies was hoe kom jy by die bedrag uit? Die regter mag besluit op ‘n bedrag van slegs R1 en dan sit jy met regsonkoste. Wat van ‘n kriminele aanklag rakende meineed/valse of faul verklaring? Die man se van is gepas.

Johann cb ·

Sy is besig om haar eie beeld, tesame met dié van die DA, onberekenbare skade aan te rig! Wanneer gaan die moddergooiery stop?

Adam ·

Cherokee, jy hoef nie oor daardie beeld te wonder nie. Jy, anders as baie van ons mede-landgenote wat aan post-1994 amnesia ly, onthou duidelik nog wie en wat Tannie Pat is. Hoe sy en Zille in dieselfde politieke bed kon klim bly een groot raaisel. De Lille is gewis nie die Sneeuwitjie van SA politiek nie.

Oom Kalahari ·

So sal geld altyd na gejaag word op alle denkbare wyse asof al die ander dinge weg gevee moet word.

Johnnie ·

Dis tyd dat sy die DA ook aanvat oor al hul vals aanklagtes teen haar. Want dit lyk of die DA ook besig is om van al die wit en bruin mense in die party ontslae te raak en net n swart party te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.