De Lille gereed om te baklei ná mosie slaag

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Patricia de Lille, die beleërde Kaapstadse burgemeester, het Woensdag gesê sy is slaggereed om te baklei vir haar posisie nadat die DA-koukus in die Kaapstadse stadsraad ten gunste van ʼn mosie van wantroue in haar gestem het.

De Lille het in ʼn twiet op haar amptelike Twitter-profiel geskryf: “Volgende ronde. Kom ons gaan!” Sy het ʼn video hierby geplaas waarin sy bokshandskoene dra en haar stryd met die DA as ʼn boksgeveg bestempel.

“Hierdie stryd wat ek met die DA voer, is soos ʼn boksgeveg – jy wen een ronde, jy verloor een ronde. Maar op die ou end is dit belangrik wie die kishou gaan toedoen,” het sy gesê en met haar regterhand in die lug geboks.

De Lille het in ʼn verklaring bevestig die meeste DA-raadslede in Kaapstad het gestem dat die mosie teen haar moet slaag. “Die mosie is op grond van verskeie beweegredes ingestel, beweegredes wat ek almal betwis en vandag die raadslede gevra het vir voorbeelde waar ek die raadslede se gedragskode, die DA se grondwet of die voorwaardes van my skorsing oortree het,” het sy gesê.

“Ek het ook voorbeelde versoek waar ek stellings gemaak het wat die party in ʼn swak lig kon stel nadat ek beklemtoon het dat elke persoonlike uitlating oor die bewerings teen my in reaksie op uitlatings van ander DA-lede was.”

De Lille noem in die verklaring dat dit nie regverdig sal wees dat haar naam en integriteit skade ly, maar sy nie toegelaat word om haarself in die openbaar te verdedig nie.

“Ek het ook die DA-raadslede herinner aan die Handves van Menseregte in ons land se Grondwet wat vryheid van spraak beskerm.”

“Ek het die raadslede gevra of hulle die mosie van wantroue bespreek het en ʼn mandaat van hul takke het. Raadslede is nie op die raad as individue nie, hulle verteenwoordig kiesafdelings, en ek het gevra of die raadslede ʼn mandaat ontvang het van die mense wat hulle verteenwoordig. Die afgelope agt maande het ek duisende boodskappe van ondersteuning van inwoners oor die hele Kaapstad gekry, so dit is duidelik dat hierdie mosie gedryf was deur individue se sienings en nie deur die publiek se wense nie.”

De Lille gaan nietemin vertoë aan die DA se federale uitvoerende raad rig aangesien dit “die volgende stap in die proses is”.

De Lille het in Maart aan joernaliste gesê sy hou voet by stuk dat haar dissiplinêre verhoor oop moet wees vir die publiek. Indien haar versoek nie toegestaan word nie, sal sy die paneel versoek om die verhoor uit te stel sodat sy regstappe kan doen om die verhoor in die openbaar te laat geskied.

Sy het destyds gesê die verhoor moet oop wees vir die publiek sodat mense vir hulself kan besluit of die proses regverdig is, aangesien sy meen die aanklagte teen haar is tegnies van aard. Sy het toe beklemtoon dat sy nie van bedrog aangekla is nie, maar deur die DA se federale uitvoerende raad daarvan beskuldig is dat sy haar met personeelprosesse ingemeng en wanadministrasie goedgekeur en toegesmeer het.

De Lille is deur die party aangekla van wangedrag, omkopery en korrupsie.

Intussen het Natasha Mazzone, die DA se adjunkvoorsitter van die federale raad, Woensdag in ʼn verklaring gesê 97 raadslede het ten gunste van die mosie gestem, 41 het daarteen gestem, 15 het buite stemming gebly of was afwesig en daar was een bedorwe stembrief.

“Dit is duidelik dat ʼn oorweldigende 70% van raadslede in die koukus dit nou duidelik gestel het hulle het vertroue in me. De Lille se leierskap verloor. Die federale raad sal me. De Lille nou die geleentheid gun om vertoë te rig waarom sy nie moet uittree nie,” het Mazzone gesê.

“Die federale raad sal dan die vertoë bespreek en besluit hoe daar voortgegaan moet word, wat kan insluit dat me. De Lille gevra word om te bedank, in ooreenstemming met die aanspreeklikheidsklousule. Ondanks verskeie bewerings, gaan die aanspreeklikheidsklousule wat formeel deur die DA se Federale Kongres aanvaar is, nie oor De Lille nie.”

Mazzone het gesê die party sal verseker dat die belange van die mense van Kaapstad die party se topprioriteit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Oujongvrou ·

Ag hoekom gaan jy nie net in vrede nie. Nou karring jy en trek al meer aandag. Die ander mense hou heel duidelik niks van jou nie, so hoekom daar wil aanbly. Of gaan dit oor daai groot salaris. As jy enigsins vir die DA omgegee het sou jy lankal by die huis loop sit het. Regtig!!!

Noujatoe ·

Met die ‘wigte en teenwigte’ wat ou Pienk Frik luidkeels verkondig en kwansuis in die grondwet ‘ingebou’ het, raak jy nie sommer van iemand onslae omdat jy nie van die persoon ‘hou’ nie.
Meen te sê; –
Ek hou nie van my verpeslike skoonma se bakkies nie…maar eet moet ek my bord pap eet.

Ore ·

Die DA kom baie onbeholpe voor.Hulle het beslis ‘n einddoel in gedagte maar weet nie hoe om by dit uit te kom nie.Hulle praat baie maar se nie veel nie.Indien hulle saak bo alle twyfel sterk is ,sou hulle nie etlike maande sukkel om van haar ontslae te raak nie.Ek glo in haar onskuld,maar ek mors nie meer my stem vir DA nie.Hulle is meer verdeelt as die ANC.

Piet Pille ·

Die DA tree besluitloos op, soos amateurs, rek dit uit en gee aan De Lille onnodige publisiteit. Sy het haar kans gehad, tree uit en aanvaar dit, jy is nie meer welkom.
Waarom klou jy vas, kan maar net die salaris wees wat jy nie verdien nie

Andre ·

Almal wil he sy moet loop, maar julle vergeet sy vat 20% van die DA se stemme saam met haar na die ANC of EFF. Dink verder as wat julle neuse kort is!

rollie ·

Heeltemal verkeerd. Die bruin kiesers stem of vir die ANC of vir die DA. Dit was al so toe De Lille nog haar eie party gehad het (ID), dit was ‘n mislukking.

zunette du toit ·

Stem saam met jou Andre DA speel nou met die DA se stemme in die Weskaap

Iché ·

Daarshy André, akoord!
Die DA speel nou seriously met sy Gauteng-stemme ook…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.