De Lille hof toe ná mosie van wantroue

Patricia de Lille. Foto: Twitter

Patricia de Lille, Kaapse burgemeester, gaan haar tot die hof wend nadat sy Woensdag ʼn mosie van wantroue op die lyf geloop het in Kaapstad se DA-koukus.

De Lille het gesê sy het die uitslag verwag en sal voortveg tot in die hoogste hof omdat sy meen die DA se terugroepklousule is strydig met die Suid-Afrikaanse Grondwet.

As sy dít doen, kan die DA se kopseer nog lank nie verby wees nie, veral omdat die party nou sit met minstens 41 Kaapse raadslede wat openlik voel De Lille is reg, maar steeds onder die DA-vaandel en in die DA-koukus sit.

Ná ʼn vergadering van drie uur het 97 DA-raadslede vir die mosie van wantroue gestem, 41 daarteen, daar was een bedorwe stembrief en 15 raadslede was afwesig.

Natasha Mazzone, ondervoorsitter van die DA se federale raad, het gesê De Lille sal nou die geleentheid kry om voorleggings aan die federale raad te doen oor hoekom sy nie van haar pos onthef moet word nie. Die federale dagbestuur sal daaroor vergader en ʼn besluit neem “wat kan insluit dat De Lille kragtens die terugroepklousule moet bedank”.

Mazzone het gesê ʼn verslag van die Kaapse regsfirma Bowman Gifillan het prima facie-bewyse van growwe wangedrag, afskeep van pligte en misleiding van die stadsraad teen De Lille ingebring. Volgens Mazzone meen die meeste koukuslede dat De Lille die party in oneer gebring het, die DA se hantering van haar dissiplinêre saak in die openbaar gekritiseer het en nie meer met die DA wil saamwerk nie.

Mazzone het ontken dat die terugroepklousule spesifiek teen De Lille gemik is. In die twee weke sedert die aanvaarding daarvan is dit reeds gebruik om die burgemeester van die Matzikama-munisipaliteit in Vredendal, Renda Stephan, terug te roep. Daar is ook nou ʼn poging om dit in te span teen ʼn raadslid in Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Geurt ·

As daar ‘n verslag en bewyse is, moet die dame dit tog lees en insien sy is verkeerd! Politieke is snaakse mense, hulle voer aan hul verteenwoordig jou maar as die werk verloor kan word, hou hul vas daaraan soos dinges aan wolkombers. De Lile, jy wys nou jou ware kleure, jy verteenwoordig net jouself en NIE die DA of kiesers NIE

Rooikop ·

Laat gaan Patricia ……………… die DA wil jou nie meer in hulle party hê nie ………………

EFF ·

Patricia jy kan maar gaan jy vry al lankal na EFF weet net nie of jy so vet salaris daar gaan kry.

AdT ·

én sy gaan ‘n rooi overall moet dra en haar soos ‘n nar gedra in die parlement…..ek weet darem nie of sy bereid gaan wees om van burgemeesterstatus na narstatus te daal nie….ek dink sy moet maar politiek los…sy het haar hand oorspeel.

Gatvol ·

My vraag aan die DA: As De Lille dan krimineel vervolg kan word hoekom is daar dan geen saak by die Polisie aangemeld nie? Julle verkondig dat julle nie korrupsie duld nie. Wat nou?
Klink vir my dat julle maar n swak saak het.

Neet ·

Wyk neet, wyk, jy het n korrupte kader geword en die DA het darm die etiek om van korruptes en onderpresteerders ontslae te raak.

Boer in Beton ·

To Patricia lid van die PAC was in die begin het sy op vergaderings geskree dat die Blankes die see in gejaag moet word….kyk as sy by die EFF of ANC aansluit hoe gaan sy die Blankes weer skel en hul grond wil vat ….mark my words. !!!

White Rhino ·

Sy is en was nog altyd aan die verkeerde kant van ons.
Sy sal in ‘n rooi oorpak pas.
Verder kan ek nou nie minder omgee wat van haar word nie – glo my.

D Bosman ·

Ek is nie wetsgeleerd nie maar ek dink die DA maak n fout.
As hulle de Lille wil skors sal hulle in die hof bewys moet lewer dat sy oortree het na die die skors reëling ingevoer is. Wat maak hulle as die hof sê hulle moet haar in haar pos herstel. Daar was nie so n reëling toe sy, onthou! “beweerde oortredings”, wat nie in n hof bewys is nie gepleeg het. Intussen verloor hulle n groot klomp kiesers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.