De Lille hof toe oor Kaapse burgemeesterskap

Patricia de Lille. Foto: Twitter

Die Kaapse DA stry nou dat die sop spat oor wie die stad se burgemeester is, met twee aanspraakmakers op die burgemeestersketting – Patricia de Lille en die onderburgemeester, Ian Neilson.

De Lille het Dinsdagmiddag tydens ’n nuuskonferensie aangekondig sy gaan Vrydag ’n saak teen die DA aanhangig maak in die Wes-Kaapse hooggeregshof nadat die party verklaar het sy is nie meer ’n DA-lid nie en dus ook nie meer burgemeester van Kaapstad nie.

Volgens die DA is Neilson die waarnemende burgemeester van Kaapstad.

De Lille sê sy is steeds ’n DA-lid, steeds burgemeester van Kaapstad en dat sy vanmiddag op kantoor sal wees. Sy beweer die enigste gepaste plaasvervanger vir haar as burgemeester sal die buikpop Chester Missing wees, want minstens sal die DA hom presies kan beheer.

Die DA het vroeër aangekondig dat die party al sy vroeëre stappe teen De Lille, soos die terugroep van die burgemeesterskap en die dissiplinêre verhoor teen haar, laat vaar omdat hulle haar op grond van ’n ander kwessie uit die party skop.

Die DA het besluit om De Lille uit te skop op grond daarvan dat sy na die party se mening haar voorneme om uit die DA te bedank, openbaar aangekondig het tydens ’n radio-onderhoud met Eusebius Mackaiser van die radiostasie Radio 702.

In die onderhoud vra Mackaiser: “As ek jou reg verstaan, sê jy dat jy ideaal gesproke jou naam wil skoon kry – dis hoekom jy hof toe gaan – en dat jy die saak sal wen, want jy weet jy het niks verkeerd gedoen nie, en dat jy die volgende oggend, nadat jy gewen het, uit die DA sal bedank?”

De Lille antwoord dan: “Ek sal wegstap. Jy het dit korrek opgesom.”

Die DA voer dus aan dat De Lille ’n bepaling in die DA-grondwet oortree het wat bepaal dat “’n DA-lid ophou om ’n lid van die DA te wees wanneer hy of sy in die openbaar sy of haar voorneme verklaar om uit die party te bedank.”

De Lille gaan egter Vrydag in die hooggeregshof aanvoer dat haar menseregte en haar grondwetlike regte met die DA se optrede vertrap is. Sy sal dus ’n interdik teen die Verkiesingskommissie en die stadsbestuurder van Kaapstad aanvra om haar nie haar setel of haar posisie te ontneem nie.

Elke aanduiding bestaan tans dat hierdie een van die vuil politieke binnegevegte kan word waarvoor die Kaap tereg berug is. De Lille het vroeë aanduidings gegee dat sy presies weet wat die persoonlike bewegings van haar opponente is, en dat sy presies op hoogte was van die DA se planne teen haar, weens lekkasies uit die DA na haar.

Betreffende die vervalste brief wat teen De Lille versprei is – met die handtekening van die ouditeur-generaal, Kimi Makwetu, daarop – het sy gesê dis reeds deur 11 000 mense gesien en dat sy klagtes van naamskending teen elke DA-LP en -stadsraadslid aanhangig gaan maak wat dit versprei het.

“Dit gaan daaroor om die belange van die mense van Kaapstad te dien en my naam skoon te kry. My probleme in die DA het begin die dag toe ek aangekondig het ek gaan die stad transformeer om die armes ter wille te wees. Hierdie is ’n oorwinning vir die konserwatiewes in die DA,” het De Lille gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Verstommend dat die amptelike opposisie met presies dieselfde kwessies spartel dan die meerderheidsregering.
Alhoewel ek geen aanhanger is nie, is dit tog uiters vermaaklik dat die beterwetige liberales so oor hul eie voete val. Hul dans nou die Tango met twee linkervoete.
Dit gaan darem n verleentheid afgee indien die vuurvreter net so voor die verkiesing haar hofsake wen, dan nog met koste.

Adam ·

Wees dankbaar die konserwatiewes nie dans nie, want dan sou jy eers ‘n rondvallery sien.

Rynhardt ·

De Lille is heeltemal reg, DA sal net vir Chester Missing, die buikpop kan beheer!??????Dit was ook die einste Chester wat vir Stevie Hofmeyr destyds in n hofsaak geklop het.???

Johann ·

Wou iets se oor heen en weer modder gooi, maar siende daar nie water in die Kaap is nie.. is dit seker maar heen en weer stof op skop?

Veronderstelde VOLWASSE, PROFESIONELE mense wat n stad en sy mense se welstand bely?

Die DA skeur homself sonder moeite uit mekaar, beter as wat die ANC kan droom om te doen. Skande!

Jerry ·

Die DA herinner sterk aan n babelse verwarring en dan ook nog is die kersie op die koek, dat almal van die DA blyk chiefs te wees en niemand die indians nie! Ek vermoed al vir n geruime tyd dat die witman polities in sy kanon in is met die sinnelose optredes en intensies van plaaslike wit politici van beide die VF- en die DA. Tereg kan enige witman maar eerder sy eie heil op n ander plek gaan soek!

Lizet ·

Ek het nogal simpatie met De Lille gehad MAAR wat reg is is reg. Sê jou party se Grondwet dat jy uit die party geskop sal word as jy dit so in die openbaar rugbaar maak? Ja..Het jy dit bekend gemaak in die openbaar dat jy dit gaan doen? Ja… So wat is die storie. Nou wil jy n hof vra om te besluit wat in die Grondwet mag staan wat deur die Jaarkongres goedgekeur is?

Lizet ·

Ek het nogal simpatie met De Lille gehad MAAR wat reg is is reg. Sê jou party se Grondwet dat jy uit die party geskop sal word as jy dit so in die openbaar rugbaar maak? Ja..Het jy dit bekend gemaak in die openbaar dat jy dit gaan doen? Ja… So wat is die storie. Nou wil jy n hof vra om te besluit wat in die Grondwet mag staan wat deur die Jaarkongres goedgekeur is?

rollie ·

Vir De Lille gaan alles oor “me myself I”. Geen integriteit nie. Sy kan leer by Zille wat gewys het dat ‘n lid nie groter as sy party is nie.

Pieter Schoombee ·

Niemand kan meer twyfel oor wie Patricia de Lille is of waarmee sy besig is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.