De Lille kap terug in vuil Kaapse politieke geveg

Patricia de Lille. Foto: Ayanda Ndamane/African News Agency

Die DA se Kaapse migraine – die party se tot dusver mislukte pogings om van sy eie partylid, Patricia de Lille, ontslae te raak – het nou die aanskyn van ‘n propperse Kaapse politieke mesgeveg aangeneem, toe De Lille begin terugveg het.

Die Kaapse burgemeester, wie se burgemeesterskap en partylidmaatskap Woensdag deur ‘n eenparige uitspraak van ‘n volbank regters in die Wes-Kaapse hooggeregshof in ere herstel is, het in ‘n snydende ope brief haar sterkste opponent in die DA, Natasha Mazzone, die stryd aangesê.

In die eerste paragraaf, wat drup van sarkasme, rig De Lille haarself tot Mazzone, wat sy bestempel as “die nuutste teksgebonde segspersoon om namens die DA my naam deur die modder te sleep.”

Dieselfde afwysende toon duur deurgaans in die brief voort, met ‘n subteks dat, soos ons dit in die Kaap sou noem, “antie Pat nou moeg is vir gavriet koep” – dat sy nou lank genoeg stilgebly het en wil stoom afblaas.

Sy spreek dus in die brief haar kammakastige kommer uit dat Mazzone nie die mas opkom as woordvoerder oor die kwessie nie, en bied aan om haar van hulp te wees en haar behoorlik oor die saak in te lig “aangesien niemand in die DA blykbaar by magte is om dit te doen nie.”

De Lille lys dan die bewerings wat die DA deurgaans, en weer hierdie week, teen haar opper – dat sy haar ampseed as raadslid en burgemeester verbreek het, en korrup opgetree het. Die burgemeester beweer sy het die afgelope sewe maande daaraan bestee om te probeer dat die DA bewyse wat die party se bewerings staaf, aan haar voorlê, maar dat die party enige bewyse – indien dit bestaan – van haar weerhou. Sy ontken veral ten sterkste dat sy by korrupsie betrokke is.

“Om bloot oor en oor ‘n leuen te herhaal, maak dit nie die waarheid nie,” skryf De Lille, en beskryf Mazzone met die Engelse woord “clueless” (dat sy gee idee het waarvan sy praat nie).

Natasha Mazzone. Foto: Facebook

Dan gaan De Lille tot die aanval oor. Sy beweer die DA weier om besonderhede oor haar beweerde oortredinge aan haar te verskaf omdat sulke besonderhede nie bestaan nie, en waarsku dat sy binnekort lastereise gaan begin instel, onder meer teen Mazzone.

In een van die hardste klappe in die hele brief skryf De Lille: “Ek vind dit verfoeilik dat jy die regbank aanval. Los ook my advokaat, Dali Mpofu, uit, veral noudat die hof die DA beveel het om vir sy dienste te betaal.” Laasgenoemde is duidelik ‘n stekie na die feit dat die hof die DA beveel het om De Lille se regskostes te betaal.

De Lille maak die stelling dat Mazzone se bewering Woensdag in ‘n mediaverklaring dat De Lille versuim het om met die Kaapse regsfirma Bowmans saam te werk in hul ondersoek na wanbestuur in die Kaapse stadsraad, ‘n leuen is. De Lille vra Mazzone om haarself van die feite te vergewis – dat De Lille die ondersoek verwelkom en reeds drie maal met Bowmans vergader het.

De Lille vra Mazzone om die onderskeid tussen staat en party te probeer verstaan voordat sy haar laaste hou teen Mazzone inkry.

“Soos aan al die vorige woordvoerders wat maar net in staat is om van ‘n teks af te lees, is my raad aan jou om eers die teks te probeer verstaan voor jy so ywerig onderhoude toestaan. Dit sal slim wees van jou om my raad te aanvaar: dis omtrent tyd dat jy die eintlike DA-woordvoerder, Solly Malatsi, toelaat om sy werk te doen.”

Hierdie stekie, waarvan die rasse-ondertoon nie misverstaan sal word deur bruin kiesers op die Kaapse Vlakte nie, is duidelik ook daarop gemik om twyfel in die hoogste DA-kringe te saai, want Malatsi, wat onlangs as die DA se nasionale woordvoerder aangestel is, was De Lille se woordvoerder en het heg met haar saamgewerk voordat hy in 2014 tot die parlement verkies is.

De Lille sluit die brief af deur Mazzone “alles van die beste” toe te wens, en so terug te slaan in die tipe katterige politieke kroeggeveg wat jare lank al deel van die Wes-Kaap se politieke stapelvoedsel is.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johann du Toit ·

Ek is bang om met jou saam te stem want Patricia het gewys sy span haar seile soos die wind waai. Sy was vir die PAC en nou vir die DA ‘n verleentheid met dinge wat sy kwytraak
Ek haal enkele openbare uitlatings van haar aan.
Patricia het haar eie seining oor vroue:
“Women are strange animals. They’re petty and jealous and I don’t see why they should be represented at the negotiating table when very few of them have any contribution to make.” – (Tribute, 31 October 1993)
Patricia en grondhervorming:.
“We must first get our land back, then we can sort out the other details.” – (Die Suid-Afrikaan, 31 December 1993).
Patricia en Afrikaans:
“…the whites not only stole the land, but they also stole the language Afrikaans from our people.” – (Hansard, 3 August 1994)
Patricia se seining oor wit mense.;
“One settler, one plane ticket!” “The media should encourage them to leave to create space for the majority.” “We want a government of Africans, by Africans and for Africans.” – (The Citizen, 16 February 1994)
Patricia word burgermeester van Kaapstad in Mei 2011. Sy het amptenare toegespreek en gesê: “If I tell you to do something, don’t tell me it’s against Council policy. I run the Council and I’ll change the policy. Don’t tell me it’s against the law. You are not a legal advisor and only a judge can rule on the interpretation of the law.”

Eish ·

Sien swarigheid vir die die klompie vorentoe.
Ons gaan gewis n paar parlementariërs terugverwelkom in hul tuisdorpe/stede na die volgende verkiesing.

adriana ·

Dit gaan nou net oor die eie -ek – nie meer oor die mense nie – dankie tog die mense se oe gaan oop oor die DA.

Pieter ·

Lekker val Mmusi nou op sy gesig, hy wil moes sy vuil politiek in die DA inbring. Raak ontslae van Mmusi anders gaan die DA volgende jaar niks beteken nie.

Naomi ·

Ek was nog altyd ‘n Patricia-fan. Van die ID-dae af. Sy en Zille word geteiken omdat hulle sterk vroue is. JP Smith moet ondersoek word.

Danie ·

Net so! Daai blonde vrou van da het baie te se en maak da nog dommer lyk. Pat het haar goed gesê. Daai smit keŕel moet ondersoek word.

Johann du Toit ·

Ek wil nie in ‘n geveg met Patricia betrokke raak nie. Sy het deur die jare gewys sy kan soms vir politieke partye ‘n verleentheid word deur dinge wat sy kwytraak.
Sy het haar eie seining oor vroue:
“Women are strange animals. They’re petty and jealous and I don’t see why they should be represented at the negotiating table when very few of them have any contribution to make.” – (Tribute, 31 October 1993)
Patricia en grondhervorming:.
“We must first get our land back, then we can sort out the other details.” – (Die Suid-Afrikaan, 31 December 1993).
Patricia en Afrikaans:
“…the whites not only stole the land, but they also stole the language Afrikaans from our people.” – (Hansard, 3 August 1994)
Patricia het haar seining oor wit mense.;
“One settler, one plane ticket!” “The media should encourage them to leave to create space for the majority.” “We want a government of Africans, by Africans and for Africans.” – (The Citizen, 16 February 1994)
Patricia word burgermeester van Kaapstad in Mei 2011. Sy het amptenare toegespreek en gesê: “If I tell you to do something, don’t tell me it’s against Council policy. I run the Council and I’ll change the policy. Don’t tell me it’s against the law. You are not a legal advisor and only a judge can rule on the interpretation of the law.”

moeg ·

Kyk, ek hou nie van tennis nie. Maar wragtig, ek gaan eerder nou tennis kyk as om na hierdie heen-en-weer “ek sê-jy-sê” gemors te kyk of luister!
Wanneer gaan díe party, daarop konsentreer om te doen wat hulle moet doen, of is hulle ook nou al so dat hulle self nie meer weet waarvoor hulle daar in gestem is nie!!

Ore ·

DA raak nou belaglik.Gaan dit nou oor “WIE” reg is vs “WAT’ is reg?
Ons land is in ‘n krises en hulle is besig met hierdie smerige storie.As Me De Lille skuldig is,sou sy dit erken het en die party verlaat het.As die DA se feite korrek is/was,sou die hof mos lankal in hulle guns besluit het.Staak dit nou asb DA en red ons van die ANC en EFF.Kry ‘n ander leier,die huidige een is onbevoeg

Grassie ·

Me de Lille gaan nog uitvind dat ‘n mens soms ‘n veldslag of twee kan wen teen jou werkgewer maar dat jy die hele oorlog uiteindelik gaan verloor.

Pop ·

Ek dink almal wat die DA nou so verlaat moenie kla as die ANC oorvat in die kaap en ander plekke waar hulle is nie. Sal julle verdiende loon wees. Net jammer ons gaan saam swaartrek aan algehele korrupsie en geen dienslewering ens ens nie. Die vrou is besig met n eie vendetta teen die DA. As ons genoeg mense was wat vir die VF kon stem sou dit kon help maar moenie ooit asem ophou dat die swart mense vir hulle gaan stem nie. En ons raak daagliks minder.

zack ·

Op hierdie staduim is daar geen verskil tussen die ANC en die DA nie. Of miskien een. Jy weet waar jy staan met die ANC maar die DA is soos ‘n hond wat jou gaan byt. Jy weet net nie waneer nie. Nee Dankie vir die DA die gemiddelde man TRUST julle nie meer nie

Jerry ·

Nou hoe dom wil hierdie Mazzone dan nou wees! Die DA behoort Maimane, Smith en Mazzone te fire omrede hulle beleid en prosedures manipuleer ten einde hulle sin te probeer kry. Patricia moet deur die DA tot partyleier verkies word, want beide partye verdien mekaar.

Koos B ·

Die DA moet sekerlik iewers ongelooflik baie fondse kry om heeltyd Patrix se regkostes te wil betaal.Dan kry hulle nog hulp/raad van die buiteland af in om hulle op koers te prober kry.Gelukkig is ek soos ‘n donkie en stamp nie my bles twee keer deur vir die DA te stem nie.

Hendrik van George ·

Op haar eie is antie Patricia besig om die DA te verwoes en die ANC ‘n voorspring te gee in die Wes-Kaap – vir haar eie selfsugtige redes…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.