De Lille lê klag oor DA-lid se seun

Patricia de Lille. Foto: ANA

Patricia de Lille het ʼn klag by die Openbare Beskermer ingedien nadat die seun van ʼn DA-raadslid glo ʼn groot bedrag geld ontvang het van ʼn beleggingskema.

De Lille, leier van die Good-party, het die klag by die OB se kantoor in Kaapstad ingedien. Sy het die OB versoek om ondersoek in te stel na bewerings dat die George-munisipaliteit, wat onder DA-beheer is, R350 miljoen van belastingbetalersgeld belê het en dat die seun van ʼn raadslid voordeel daaruit getrek het.

De Lille het ʼn dossier oorhandig waarin daar onder meer ʼn verslag is met negatiewe bevindings teen die munisipaliteit se hoof- finansiële beampte. Volgens De Lille is die beleggingskema soortgelyk aan die VBS-skandaal.

“Die bewyse, waaronder ʼn forensiese ondersoek wat deur ʼn onafhanklike prokureursfirma gelei is, dui op onreëlmatige oordragte van honderde miljoene rande sedert 2017 deur die George-munisipaliteit,” het De Lille gesê.

“Daar is hanteringsfooie wat aan dié oordragte gekoppel en betaal is aan die seun van ʼn DA-raadslid wat verantwoordelik is vir die munisipaliteit se finansies. Hy het klaarblyklik bykans R400 000 in net die eerste ses maande van die projek gekry.”

Anton Bredell. Foto: Wes-Kaapse regering

Die munisipaliteit het intussen gesê hy is bewus van die bewerings en dat ʼn ondersoek begin is.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, het De Lille daarvan beskuldig dat sy die waarheid verdraai.

“Die Wes-Kaapse regering is trots daarop dat hy sterk optree teen enige bewerings van korrupsie en sonder vrees of guns te werk gaan.

Bredell het gesê die provinsiale regering is bewus van die bewerings en dat ʼn strafregtelike klag na die Valke verwys is.

“Daarbenewens het die munisipaliteit die dienste van ʼn forensiese firma bekom om die bewerings te ondersoek en die provinsiale departement is verder daarvan bewus dat die munisipaliteit reeds dissiplinêre prosesse teen die betrokke munisipale amptenaar begin het.”

Die munisipaliteit wou egter nie bevestig of enige stappe teen enige amptenare of raadslede gedoen is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

John ·

The Good Lilly probeer nou die DA se mond snoer met teenbewyse. Die vrou wil die Kaap in wanorde laat verval. Eers was sy glo Moeder Kaap maar toe haar voorskoot afval verskyn die giftige bolplant… moenie eet nie!

Jerry ·

Die wraakgierige wraaksugtige “too good to be true” het haar kans gehad. Sy moet nou terugstaan en die jonger geslag n kans gee!

Daan ·

Dit is 100% reg, sy was goed genoeg tot op n punt toe moes sy uit! Sy gee haar pond botter wat sy ontvang het net weer terug. Ek staan agter haar.

Phillip Duvenage ·

Moet nooit vergeet dat daardie selfde moreel sterk vrou n bom kon plant en onskuldige mense vermoor het. Sy is spiteful . Daar word Dan opgetree teen die beweerings. Ek hoor geen verskonings van die DA af nie.

Reg-is-Reg ·

Aneea Tanya, as dit bedrog is moet dit uit! DA, EFF, ANC maak nie saak nie. As daar niks is nie, bewys die teendeel en beweeg aan. Ons het meet waghonde nodig – die politici in die land moet tot verantwoording geroep word.

Marika ·

Suid Afrikaans politikuste is almal erger as kinders! Geen wonder ons Land is in so ‘n gemors!

Anton ·

Hoekom nou eers, jy het jare terug van dit geweet en niks gese nie?

Erick ·

Hierdie laat my dink aan die vieslike Demokrate wat aanhoudend besig is om Trump aan te val. Alles om poletieke punte te kry.

Alida ·

Snaaks hoe mense se lelikste eienskappe na vore kom voor ‘n verkiesing.

Johanna Botha ·

Die vrou sal nou net asb moet probeer bedaar vir haar eie welstand se onthalwe !

Elize ·

Ag tannie Pat ASSEBLIEF. Julle is nou soos n klomp kleuterskool kinders. Jyt my sweet gevat, nou vat ek joune. Jy het hoe lank die inligting (soos jy sê), hoekom kom jy net voor die verkiesing nou daarmee uit. Volgens my beskeie opinie is hier in elk geval hopeloos te veel partye in SA. Ek dink ons haal seker die wêreld rekord wat dit betref.

Jakes ·

Ja Elize, oom Siener het mos voorspel dat daar hierdie jaar nie ‘n verkiesing gaan wees nie.

ek sê maar ·

…Sedert 2017… en sy praat NOU eers daaroor?! Verkiesingsfoefie…

REgtig ·

Was daar nie so ‘n paar klagtes teen jou ook gewees nie? Die ondersoekspan wat aangestel is om na JOU geldsake te kyk het JY ONTBIND?? hmmmm ..

Annie Webb ·

Die DA het nog nooit korrupsie gepleeg of geduld nie en sal nou ook nie. De Lille is uit die DA gedwing juis omdat SY korrupsie gepleeg het. Sy is ‘n moeilikheidmaker, was dit nog altyd en sal dit bly. Gaan daar ooit ‘n dag verby wat sy nie êrens ‘n mediakonferensie hou en iemand van iets beskuldig of haar eie beuel blaas nie? En die media speel saam om koerante te verkoop. Die leiers in die DA praat ongelukkig hoofsaaklik sin, dus haal hulle nie voorblaaie nie. Net as een iets onnosels doen, soos die jeugleier wat ook op die wa gespring het om “juf Elana” by te kom. En nou gebruik die VF+ dit as verkiesingsmateriaal. Ek wonder steeds hoe enigiemand so stokdom kon wees om só ‘n foto, hoe onskuldig ook al, op WhatsApp uit te stuur. Wel wetende dat daar alreeds ten minste een ouer is wat ontevrede is oor skoolgeld en definitief gereed staan om die raskaart te speel. Die DA se vyande is legio aan albei uiterstes van die politieke spektrum. My hoop is dat hulle die sinvolle middel sal behou en versterk.

hendrik ·

Iemand vroeer het gese sy is “spiteful”. Hy is heeltemal reg want dit is in die gene. Hulle kan bomme plant en mense vernietig maar rep geen woord daaroor nie maar is gou om ander aan te val oor “petty” aangeleenthede.

bollie ·

Antie Pat maak nou benoude spronge om darem een setel in die parlement te kry. Gaan nie so maklik wees nie.

Riana ·

Regte ou bitterbek.
Sy sal nou oor enige dingetjie kla, maar haar tyd is lankal verby.

Penellope Jones ·

Hulle moet hulself nog maar eers bewys.
Op die oomblik is dit niks anders as politiekery om stemme te kry nie.

Mens stig nie ‘n politieke party ‘n paar weke voor ‘n verkiesing nie, juis vanwee die emosionele stand van sake – iets waarop al hierdie nuwe partye wat skielik oral opskiet juis reken.

Dit wil voorkom asof mense na enige grashalmpie gryp om “iets anders” te hoor en kry en dis waar die groot gevaar is.

Ons moet baie realisties en oopkop wees tydens verkiesingstyd, emosies eenkant toe gooi en vir die toekoms dink en stem.

Alida ·

Ag asseblief!!! Die wasgoedlyne kreun alreeds onder al die vuil wasgoed. Gaan soek stemme op ‘n ander manier.

Theoman ·

Stem glad nie saam met Annie Webb nie juis oor die feit dat haar geliefde DA nog steeds geen bewyse na vore gebring het oor De Lille se sogenaamde bedrog nie. Ek is geensins n ondersteuner van haar nie, maar die DA het die hele De lille sage in n sirkus verander met die hoofnar Musie wat geskitter het in sy afweesigheid. En ja Annie julle libs kan nie vat kry aan die idee dat baie Afrikaners net nie meer tuis voel by julle nie, dis n kwesie van stem DA maar bly stil daarna en basta met julle as minderheids groep. Dis het ons laat besef dat die VF PLUS klein maar getrain ons toekoms is.

Boet Fasie ·

Ag DA en De Lill gaan weg , ver weg ons het genoeg gehad van julle bakleiery, sies skande.

Adam ·

Net weer bewys dat geen politikus vertrou kan word nie. De Lille was haar hele lewe lank ‘n opportunis en moeilkheidmaker en van die res kan talle oor dieselfde kam geskeer word. Die DA is ook nie bo verdenking nioe en net soos die ander groter rolspelers is hulle almal in dieselfde boot. Die klein irrelevante partytjies is gelukkig te ver van die trog anders was hulle net so korrup.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.