De Lille moet pa staan vir ‘Beitbrug-wasgoeddraad’ – DA

Die grensdraad tussen Suid-Afrika en Zimbabwe is lankal reeds beskadig.

Die DA sê die minister van openbare werke, Patricia de Lille, het herhaaldelik versuim om aanspreeklikheid te aanvaar vir die behoorlike bestuur van staatsgeld wat aan die omstrede “Beitbrug-wasgoeddraad” bestee is. Die party vra nou dat pres. Cyril Ramaphosa tugstappe teen die minister doen vir haar sogenaamde growwe nalatigheid om haar verantwoordelikhede na te kom.

De Lille het Saterdag aangekondig dat geen bewyse van onbehoorlike gedrag teen haar gevind is nie en ook geen bewyse wat daarop dui dat sy enigiets by die projek gebaat het nie.

Die ondersoek het wel bevind dat daar prosedurele onreëlmatighede binne die departement plaasgevind het.

Die verslag beveel aan dat die projek onderwerp word aan die tribunaal van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) nadat daar bevind is dat ʼn reeks beweerde verkrygings- en ander onreëlmatighede asook bedrog deur amptenare van die departement en van die diensverskaffers van die projek plaasgevind het.

Die projek, die herstel en vervang van ʼn 40 km lange grensdraad by die Beitbrug-grenspos, het uiteindelik R40,4 miljoen gekos, net meer as R1 miljoen per kilometer. Dít terwyl dit net sowat R26 miljoen moes gekos het.

Die DA het vroeër na dié grensdraad verwys as “ʼn wasgoeddraad wat amper R1 miljoen per km gekos het”.

Graham-Maré, die DA se woordvoerder oor openbare werke en infrastruktuur sê nou De Lille het boonop vroeër vanjaar in antwoord op parlementêre vrae ook verantwoordelikheid ontduik deur te sê haar rol in die kwessie was beperk tot die direktief wat moes verseker dat die Suid-Afrikaanse grens as noodmaatreël beveilig word.

Patricia de Lille. (Foto: Maroela Media)

Graham-Maré sê die minister het haarself daarna weerspreek deur in presies dieselfde vraag toe te gee dat sy gereeld terugvoer oor die vordering met die projek, tot en met die afhandeling daarvan, gekry het. “As dit die geval was, hoekom sy nie vroeër iets aan die gevaarligte gedoen nie?”

Volgens die DA skeld die verslag De Lille allermins kwyt van enige verantwoordelikheid.

“Dit is haar werk om te verseker dat projekte wat die departement onderneem vry is van bedrog en korrupsie. Dit is haar werk om die projekte wat die departement onderneem noukeurig te bestuur, veral ʼn projek wat so belangrik is soos die herstel van die Beitbrug-grensdraad.”

Graham-Maré sê in al haar antwoorde sê De Lille die normale verkrygingsprosedures en -prosesse is gewysig weens die uitbreking van die Covid-19-pandemie en die aankondiging van die ramtoestand.

“Haar personeel het egter al in Januarie vanjaar die herstel en vervangingsprojek van stapel gestuur,” het Graham-Maré gesê.

“Die minister word gevang in ʼn web wat sy self geskep het en moet nou die gevolge van haar eie wanbestuur dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Nee man DA moenie soe hard praat. Netnou kom die by Cyril se ore uit, dan word die een gefire, en dan gaan sy terug huis toe en stig nog ‘n party. Miskien kan sy een van Michael Jackson se deuntjies leen vir ‘n naam “BadYouKnowI’mBad Party. Dink net as hulle om stemme te werf kan hulle in die straate dans tot MJ se musiek…..BabYouKnowI’mBad Yeah! Patricia de Lille is wat gebeure as jy nie eintlik ‘n ANC of ‘n kommunis is nie soos Ebrahim Patel, maar jy moet ANC en Kommuniste bevele uitvoer. Ek dink in Engels noem hulle dit ” a square peg in a round hole!”

Adam Adriaan ·

Dit is tyd dat hierdie tannie tot verantwoording geroep word. Sy het altyd baie te sê maar as dit by die waarheid kom, dan pleit sy bewusteloos. Hulle word in hoë poste aangestel maar kom nie hulle verantwoordelikheid na nie. Skep elke maand ‘n vet salaris en het normaalweg baie verskonings. Sy moet vas gevat word en ‘n paar toonnaels moet uitgetrek word.

Hennie ·

Ons begin al beter verstaan hoekom die DA haar uitgeskop het. Sy gee net om vir skelmstreke as sy nie haar R3-50 ook kry nie!

Pieter ·

Common sense wat nie so common is nie sê klaar vir ‘n mens die bedrag is te hoog. Pleks dat hulle ‘n plaasboer aanstel om die heining te ontwerp. Wat het geword van die alien sisal plante as heining? Haal een alien uit en daar kom honderde aliens na binne.

Danie ·

Dit is nou presies wat gebeur as jy geen kennis het van wat jy doen of om jou aangaan nie. As sy die plek besoek het terwyl hul besig was en sy die nodige ondervinding gehad het sou sy sien hulle vang gemors aan. Sal haar nie gebruik om vir my n hoenderhok te bou al my hoenders sal wegloop.

Sarel ·

Anti Pat, waar is die vuurvreter anti wat altyd teen bedrog en korrupsie was. Gewaarsku jy gaan prys betaal toe jy ANC pos aanvaar

Jakes ·

Lagwekkend om die minste te se. Dan wil CR nog meer vroue bemagtig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.