De Lille oorleef mosie net-net

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, het Donderdag net-net ʼn mosie van wantroue deur haar eie party teen haar oorleef.

Dirk Smit, die speaker van die stadsraad, het met die aanvang van die mosie beslis dat die stemming nie in geheim hoef plaas te vind nie.

Dit volg nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof Woensdag beslis het die speaker moet besluit of die mosie met ʼn geheime stemmery sou plaasvind, soos De Lille versoek het.

De Lille het Donderdag uit die sitting gestap toe die mosie van wantroue aangehoor is. Sy het die stemming oorleef met 110 raadslede wat daarteen gestem het. Altesaam 109 raadslede was ten gunste van die mosie en drie mense het buite stemming gebly.

Lede van die ANC was verheug oor die De Lille se noue oorwinning.

De Lille het ná die bekendmaking getwiet: “Dankie aan al die raadslede vir hul ondersteuning. Julle het jul moed en oortuiging bewys. Laat ons terugkeer na ons werk!”

Mmusi Maimane, leier van die DA, het in reaksie gesê hoewel De Lille die mosie oorleef het, beteken dit nie sy het die vertroue van die koukus nie. “Dit is ʼn tree in ʼn lang reis. Die federale raad se aanklagte teen haar is steeds in plek en die saak teen haar moet voortgaan. De Lille regeer nou met ʼn ANC-mandaat.”

Die DA het aanklagte van omkopery en korrupsie teen De Lille aanhangig gemaak. Sy word ook van wangedrag beskuldig. Die korrupsiebeweringe hou verband met ʼn beweerde voorval waar De Lille glo in 2012 omkoopgeld van R5 miljoen geëis het van Vanderbijlpark-sakeman Anthony Foul. Sy wou glo omkoopgeld hê in ruil vir haar steun dat Foul se maatskappy brandblussers aan Kaapstad se informele nedersettings kan verskaf.

De Lille ontken hierdie bewerings en sê die beskuldigings is net nóg ʼn poging om haar naam te beswadder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chekoree ·

Ag maggies Musi om ons te vertel “De-Lille regeer met ‘n ANC-mandaat” en te dink ons moet dit glo!!
Volgens die 2016 munispale verkiesings het die DA meer as 66% van die sitplekke in die stadraad dws ‘n totaal van 145 lede verteenwoordigdie DA volgens my wiskunde (66% x 219 stemmende lede).
Volgens die uistalg van die stemmery het minstens 35 DA lede teen die mosie gestem en vir De Lille en die ANC ondersteun.
De Lile regeer nie verder op ‘n ANC-mandaat nie, maar rugsteker DA-lede!!!

zoom zoom ·

Die DA is besig om die 2019 verkiesing aan die ANC op ‘n skinkbord te gee. Die grootste nar van die DA is MM wat net kan wharra wharra en verder niks beteken.

Marius ·

Mnr. Maimane se strategie lyk vir my baie destruktief te wees vir die DA. Ek sal amper so ver gaan om te reken dat hy moontlik die ANC se beste speler is…

jacop ·

sy word beskuldig van korrupsie en regeer nou met ‘n ANC-mandaat. Net nog ‘n bewys dat korrupsie = ANC

Ollie ·

Ongeag die swakste leier wat ek al ooit van gehoor het. Ek dink stellig n mosie van wantroue moet teen MM gemaak word.

Ollie ·

Mamane was nog nooit n kandidaat vir die DA se leiers posisie nie. n Mosie van wantroue moet teen hom ingestel word.

PJC ·

Patricia raak nou vir die DA wat JZ vir die ANC was. Intussen lag die ANC al die pad stembus toe. Hierdie onderonsies gaan die DA duisende bruin en swart stemme kos en intussen wil sommige wit kiesers ook die DA verlaat weens die waterkwessie.

Boet Fasie ·

Afguns in die DA gaan veroorsaak dat hulle dieselfde pad loop as die ANC naamlik verdeeldheid wat hulle lefe wegjaag. Terwyl die ANC hulself regruk is die DA in slagyster en lag die ANC.

CASSIE ·

Die korrupsie klag kom al van 2012 af.Die brandblussers is seker toe gelewer en geen haan het weer daaroor gekraai nie.As die mosie van wantroue in die guns van De Lille is beteken dit tog iets vir haar bestuurstyl.Is dit nie maar ‘n kwessie dat MM van haar wil ontslae raak nie soos met Zille die geval was. Almal wat kommentaar lewer is reg.Hierdie hele kwessie is nadelig vir die DA en kan hulle kos in die verkiesing in 2019.MM moet die toekoms van die DA in gedagte hou en nie op ‘n heksejag uitgaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.