De Lille oorleef weer

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Die DA se nagmerrie oor die hantering van die dissiplinêre proses teen die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, duur voort met die party se federale dagbestuur wat nou regsadvies inwin oor die saak.

Die federale dagbestuur (FedEx) moes hierdie naweek ‘n besluit neem oor die verdere stappe teen De Lille, en as die regsposisie oor die party se omstrede nuwe terugroepklousule seker was, was dit nou reeds afgehandel.

Maar die ondervoorsitter van die DA se federale raad, Natasha Mazzone, het Saterdagmiddag deur ‘n mediaverklaring aangekondig dat die federale dagbestuur volgende week weer sal vergader om die regsargumente wat De Lille opgestel het, te oorweeg en advies daaroor in te win.

Daar is tans twee sake soortgelyk aan De Lille se kwessie, waar die DA twee van sy stadsraadslede uit hul uitvoerende posisies wil verwyder. Rhenda Stephan, burgemeester van die Matzikama-munisipaliteit in Vredendal, se versoek om meer tyd om haar saak voor te berei is toegestaan, en in die geval van Donovan Joubert, speaker van Stellenbosch, het die federale dagbestuur toestemming gegee dat die DA-koukus kan voortgaan met ‘n mosie van wantroue in hom.

Die federale dagbestuur moes ʼn besluit neem wat betref ʼn mosie van wantroue in die burgemeester deur die koukus nadat meer as 70% van die koukuslede aangedui het dat hulle vertroue in De Lille as burgemeester verloor het. Van die redes sluit in dat sy na bewering herhaaldelik die gedragskode vir raadslede en die grondwet van die DA oortree het, die DA se naam glo beswadder het en die voorwaardes van haar skorsing oortree het, het Mazzone gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Meonè ·

Die DA gaan baaaaaie stemme verloor in die volgende verkiesing. Hul wil ontslae raak van almal wat die regte dinge doen. Raak nou net soos die ANC!!!

Koos ·

Almal wat die regte dinge doen? Hê-hê-hê! Wag maar eers totdat jy alles oor hierdie antie se optrede weet voor jy so iets kwytraak…

Neels ·

Ja, Maimane is besig om die DA lekker deurmekaar te krap. Weet nie presies wat sy agenda is nie, maar waar DA ‘n sterk kans gehad het om goed te doen in die volgende verkiesing het hulle nou geen kans nie. Dink nogsteeds hy is ‘n geplante ANC agent!

John ·

Nee, iets is verkeerd. En De Lille wil dalk net Moeder-Theresa-van-die-Kaap speel. Sy gaan die DA gruwelik drop en hulle duur kos… en dan eers sal ons weet wat sy na bewering aangevang het. Sy het baie mense wat haar dra en sy kry alleen die krediet. As dit swak reen hierdie winter is die Kaap vol storms en verspoelings van ‘n ander aard so voor die verkiesing.

CdV ·

Plaas dat die DA die werk doen waarvoor hul verkies is beveg en beswadder hulle mekaar ten koste van die kiesers wat hul daar gestel het. Hier in Kaapstad onder hul hopelose bestuur het my munisipale kostes(w&l & rates) het afgelope 4 Jaar met 60 present gestyg teen cpi indeks van 4,6 present en dan wil hul nog meer melk.Raadslede voel vere vir kiesers. Hul is net op hul eie persoonlike agenda ingestel. Kamstig te besig om afsprake te maak. Delete net jou e posse en bel nie eers na jy al VYF boodskappe gelos het terug nie.

chrisjan ·

Hoe dikvellig moet mens om te wil aanhou klou aan jou pos terwyl die mense jou nie meer daar wil he nie. Oeps, ek het vergeet van die vet toelae wat sy as burgemeester kry, dus alles vir die geld. Nee, sies man, waar is die gewete!

Cherokee ·

chrisjan, jy sal jou inligting moet opskerp. Eerstens verdien(?) sy nie ‘n toelae maar ‘n salaris wat nie te versmaai is. Tweedens het sy ‘n groter aanhang as wat jy dink. Sy sal miskien selfs weer ‘n splinterparty kan begin. So sê Cherokee wat gaan De Lille aanhanger is en selfs nog minder die DA verdra, vir jou.

chrisjan ·

Ek hoor jou Cherokee. In die ou dae was die geld wat raadslede verdien het, toelaes genoem. Verder, sy mag dalk baie ondersteuners he, maar haar party het nie meer vertroue in haar nie. Dalk moet sy maar elders gaan met haar ondersteuners. Nie dat dit my skeel nie, want die DA het lankal my steun verloor, maar ter wille van die wat nog droom dat die DA na hulle belange omsien.

Koos ·

Charrokie sy sal g’n splinterparty begin nie. Helen Zille het haar by die DA ingetrek toe die DA reeds stewig gesit het in die Wes-Kaap en die OD nie regtig nodig gehad het nie. Nou het Zille ‘n monster geskep wat die DA gaan kos…

Cherokee ·

Chrisjan, die woordspeling toelae of salaris was bloot in ‘n grap en met ‘n glimlag gesê. Ek weet wat jy bedoel. My kommentaar was bloot omdat ek nie die DA of haar verdra maar ek geniet enige geveg teen die DA veral waar ‘n enkeling hulle die onderspit laat delf. Daar is min verskil tussen die DA en die EFF.. albei oorvol van hulself. Jy moet ‘n heerlike naweek geniet :-)

Cherokee ·

Koes, ek het nie gesê sy sal ‘n splinterparty begin nie, maar slegs daarop gewys hoeveel ondersteuning sy blykbaar het.

Whitey Jooste ·

Dit blyk baie duidelik dat die mense ñ dissiplinêre saak wil hanteer soos ñ hofsaak en dit is teenstrydig met skedule 8 van die arbeidswet, wet 66 van 1995
Die klaer in die saak moet al lankal die saak afgehandel het maar nee nou speel hul rond… As de Lilke wakker sit kan sy die DA gas gee en die saak wen… ek sou gelike het om deel van die saak kon te gewees het

Johann du Toit ·

Ongeag die finale besluit van die DA is daar nie wenners in hierdie saak nie, net verloorders. Al word die regte prossedures gevolg sal die DA se verbintenis tot eerlikheid, deursigtigheid, gelykheid en regverdigheid onder die kollig bly en de Lille se geloofwaardigheid sal met ‘n knippie sout bejeën word. JP Smith en John Steenhuisen se motiewe en taktiek sal verdag bly tensy bewysstukke (nie hoorsê getuies) voorgelê word.

Hansie slim ·

Ek dink almal is al g..vol vir die DA se getjommel rondom die De Lilla storie. Wat het sy alles gedoen? Maar waar gaan jy met jou stem?
Cherokee noem die EFF is amper dieselfde, egosentries. Ek weet darem nie!
Ek versuip my eerder in die Kaap se leë damme voor ek na die EFF kyk.

Cherokee ·

Hansie slim, as jy jou naam gestand doen, sal jy bevestig dat net soos die EFF grondhervorming voorstaan, so doen die DA (maar verskil darem by met of sonder vergoeding). Soos die EFF stem vir ‘regstellende aksie’, so stem elke enkele DA-kieser ook vir ‘regstellende aksie’. Soos die EFF se minagting van Afrikaans, so minag die DA ook Afrikaans. Soos die EFF niks met blankes te doen wil hê, so verwyder die DA die blankes in hul eie geledere vanuit topposte.

Msp ·

Ek is bevrees ek moet met jou saamstem Arnold, sy het nog geen kans gehad om haar kant te stel nie. Pleks die DA nou in die tyd hul volle aandag aan die verkiesing gee en die ander dinge vir later los. Soos dinge nou aangaan word daar 100% in die guns van die ANC en eff gespeel en is die kanse baie groot dat die eff ons volgende opposisie gaan word. Ek glo nie ons sou so iets wil sien gebeur nie. Ek stem nie met alles saam wat tans in die DA plaasvind nie maar ongelukkig het ons geen ander keuse as om vir hulle te stem nie, dinge gaan baie skeef loop as die eff die nuwe opposisie party word. Dis werklik tyd dat ons moet saamstaan om so iets te voorkom. Maar net my siening.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.