De Lille se dissiplinêre verhoor begin vandeesweek

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, het gesê sy sien uit daarna dat bewerings teen haar behoorlik getoets word.

Haar dissiplinêre verhoor voor die Demokratiese Alliansie begin Dinsdag.

“In hierdie stadium is dit vir my die belangrikste om seker te maak dat die publiek verstaan waaroor dié aanklagte handel,” het sy Sondag gesê. ʼn Sleuteloorweging in haar saak, gegewe die wye dekking en openbare belangstelling in die saak, was of die publiek/media die verrigting sou mag bywoon, het sy gesê.

Haar prokureurs het dit aan die DA benadruk dat sy slegs haar naam kan herstel as die publiek die saak self kan sien en self kan bepaal of die proses regverdig was. Die DA wou egter die verhoor agter geslote deure hou.

De Lille sê een van die klagtes beweer dat sy “korrupsie” van een van die beamptes, spesifiek die kommissaris van vervoer, Melissa Whitehead, weggesteek het. “Dit is nie die waarheid nie. Die oorgrote hoeveelheid van die aanklagte hou verband met bewerings van hoogs tegniese oortredings waarby ek glad nie betrek word nie, buiten dat as die ‘baas’ van die stad, moet ek aanspreeklik gehou word. Hierdie aanklagte spruit uit verslae wat deur die uitvoerende direkteur in my kantoor, Craig Kesson, saamgestel is en tans deur die regsfirma Bowman Gilfillan ondersoek word.

“Ek word nie in enige van hierdie sake van korrupsie beskuldig nie en ek het my volle ondersteuning gegee vir hierdie ondersoeke. Hierdie sake is tegnies van aard en val onder die jurisdiksie van senior administratiewe leierskap in die stad. Ek staan verstom waarom die party my oor hierdie kwessie vervolg.”

In die sogenaamde Steenhuisen-verslag word daar ook beweer dat die DA nog wag op die stad se prosesse, “maar in die desperate poging om van my ontslae te raak, is hierdie advies geïgnoreer”.

“Ons sal Dinsdag wys dat, alhoewel die party – in teorie – strukture soos plaaslike koukusse, regskommissies, rade, ens. het, word al die besluite – in realiteit – geneem deur drie of vier individue,” het De Lille bygevoeg.

Sy het ook versoek dat haar dissiplinêre verhoor moet geskied onder leiding van ʼn onafhanklike, onpartydige persoon om ʼn regverdige proses te verseker. Die DA het nog nie op hierdie eis reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daan Erasmus ·

Oeps. Ek dink Tannie Patricia is besig om haar hand te oorspeel. Daar kom ‘n tyd wat ‘n politikus beskeie moet raak. Maar dit verstaan GEEN politikus nie.

Reti ·

Sterkte Patricia. Mens is onskuldig tot jy skuldig bewys is. You go girl.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.