De Lille se raadgewer glo betrokke by Beitbrug-debakel

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die Demokratiese Alliansie versoek die parlement om minister Patricia de Lille aanspreeklik te hou vir haar raadgewer, Melissa Whitehead, se beweerde betrokkenheid in die Beitbrug-‘wasgoedlyn’-debakel.

Samantha Graham-Maré, DA-LP, het gesê die party sal die voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur versoek om De Lille te ontbied om voor die parlement te verskyn en antwoorde te verskaf oor bewerings dat haar personeellede, insluitend Whitehead, nou betrokke was in verskeie gesprekke oor die Beitbrug-grensposprojek ter waarde van R37 miljoen.

“De Lille het vantevore herhaaldelik haarself van aanspreeklikheid onthef oor die miljoene rand wat verkwis is op iets wat slegs as ʼn ‘wasgoedlyn’ beskryf kan word. Sy plaas eerder die skuld op ander beamptes in haar departement,” het Graham-Maré bygevoeg.

“Die beweerde betrokkenheid van personeel in minister De Lille se privaat kantoor, spesifiek haar raadgewer, by gesprekke oor die opgradering van die grensdraad, insluitend besoeke aan die perseel, opdragte vir bestellings en besluite oor die omvang, koste en spesifikasies vir die grensdraad van R1 miljoen/km, wys dat minister De Lille vrygewig was met die waarheid as sy heftig ontken dat sy naby betrokke was in die projek. As personeel in haar privaat kantoor só naby betrokke was in die multimiljoen rand se projek, dan moes die minister mos tog bewus gewees het van besonderhede oor die projek?”

Graham-Maré het gesê die inligting oor Whitehead se betrokkenheid is ʼn teken van die minister se skynbare teenstrydighede en bevestig dat sy enigiets sal doen om aanspreeklikheid te ontduik, “selfs wanneer goed onder haar neus gebeur”.

“Die parlement het ʼn verantwoordelikheid om sy uitvoerende lede aanspreeklik te hou. Die minister moet dus voor die komitee verskyn om ʼn eerlike verslag in te dien en duidelikheid te verskaf oor die R37 miljoen se wasgoedlyn.”

Die DA sal ook daarop aandring dat die voorsitter van die komitee versoek dat die ouditeur-generaal, spesiale ondersoekeenheid en nasionale tesourie alle verslae, wat oor die saak ingedien is, noukeurig moet bestudeer.

“Ons sal beslis nie toelaat dat vrae oor die Beitbrug-grensdraad-debakel langer onbeantwoord gelaat word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

Sal dit nie ‘n goeie idee wees as ‘n minister ingesweer word, VERBIED word om die blaam te skuif indien sy of haar portefeulje aanjaag nie. En as hulle sou durf om dit te doen, onmiddelike AFDANKING (nie skors met volle betaling) in die gesig staar! Tyd dat die septiese gedrag van inkapabele ministers uitgeroei word!

Jan ·

Alles waaraan De Lille en haar departement geraak het sedert die inperking is ‘n gemors. Sy kon tog seker nie van dit alles niks geweet het nie.

john ·

Hoof van n departement is altyd verantwoordlik wat in hulle departement angaan so maw sy het geen beheer oor departement nie. Om skuld af teskuif na onder geskiktes wys net op swak leier skap.

Kokerboom ·

Die Minister is NIE bevoeg vir haar taak. Sy was ‘n aanstelling in poging om Bruin stem te werf.
As ‘n intelligente man kan ek nie verstaan dat President Ramaphosa sulke krummels aanstel en dan nie teen hul optree as hul gruwelik droogmaak!!!!

pieterweskaap ·

Die minister het in die kabinet ‘n kroniese ANC-virus opgedoen: as daar na jou kant toe gekyk word en om ‘n verduideliking gevra word, ONTKEN jy enige aandadigheid by beweerde ongeruimdhede! So maklik soos dit. En die heining het maar NET R10 000.00 per lopende METER gekos……Die tenderprenieurs lag al die pad banktoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.