De Lille-skorsing: Nog koppe kan rol

Patricia de Lille

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, tydens die Staatsrede in 2012. Foto: Departement van kommunikasie

Nadat Patricia De Lille, burgemeester van Kaapstad, deur die DA gevra is om redes te verskaf hoekom sy nie uit haar burgemeesterspos moet bedank nie, is Dirk Smit, die speaker van die stadsraad, en Shaun Abrahams, die DA se hoofsweep in die stad, ook gevra om redes te gee hoekom hulle nie geskors moet word nie.

Maroela Media het vroeër berig De Lille is geskors hangende die bevindinge van ʼn ondersoek na ernstige bewerings van wanadministrasie in die metro. Dié skorsing kom na maande van voortdurende openbare binne-gevegte tussen topbeamptes in die stad se administrasie.

Twee verskillende ondersoeke na die bestuur van die stad is van stapel gestuur. Een, wat deur ʼn subkomitee hanteer is, het gefokus op probleme binne die DA-koukus in die stad en is reeds afgehandel. Dit het aanleiding gegee tot die besluit om De Lille te skors en haar opdrag te gee om redes te verskaf hoekom sy nie moet bedank nie.

Die tweede ondersoek is steeds aan die gang en moet teen 29 Desember terugvoer gee oor sy bevindinge. Dit word deur ʼn onafhanklike ondersoeker gedoen en fokus op bewerings van inmenging met verkrygingsprosesse en verberging van verslae oor finansiële verliese wat verband hou met die plaaslike metro-busdiens.

Die DA het die bewerings, wat spruit uit ʼn beëdigde verklaring van Craig Kesson, die uitvoerende direkteur van De Lille se departement, as “kommerwekkend” bestempel.

James Selfe, die voorsitter van die DA se federale uitvoerende komitee, het beklemtoon die party se besluit oor De Lille moet nie gesien word as ʼn aanduiding van die bevindinge van die tweede ondersoek nie. “ʼn Mens wil nie die uitslag van daardie ondersoek op enige manier voorspel nie,” het hy gesê.

Die stadsraad het verlede week besluit om nie Melissa Whitehead, die vervoerkommissaris en een van die beamptes wat betrek word by Kesson se bewerings van wanadministrasie, te skors nie. Kesson en Achmat Ebrahim, die stadsbestuurder, wat ook gevra is om redes te verskaf hoekom hulle nie geskors moet word nie, is ook gespaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kaspaas ·

Se altyd die enigste verskil tussen die DA en ANC is die spelling in hulle naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.